Piet van Zyl vertel alles oor daardie têkkel

piet-van-zyl-en-seun

Piet van Zyl (regs) en sy seun Gideon Pieter, alom bekend as Giepie. Hy is nege jaar oud en sê onomwonde sy pa is sy held. Hy hou skeidsregters fyn dop dat hulle nie foute maak nie. Sy ander held is die Suid-Afrikaanse skeidsregter Jaco Peyper. Foto: Verskaf.

Deur Pierre Massyn

Daar was ’n tyd toe die media hom verguis het as ’n rampokker en ’n sportboef. Rian Oberholzer het gesweer Piet van Zyl sal nooit weer sy voete by ’n rugbywedstryd in Suid-Afrika sit nie. En dit alles oor hy David McHugh se skouer gebreek het in ’n genadelose toets teen Nieu-Seeland sestien jaar gelede in Durban.

Piet van Zyl en David McHugh se lewenstrajekte sou op 10 Augustus 2002 met soveel geweld bots dat dit internasionaal weerklank sou vind. Die dramatis personae was ’n Ierse skeidsregter van Limerick genaamd David McHugh en ’n boerseun van Namakwaland.

“Die hele skare kon duidelik sien McHugh was besig om ons blatant te beroof. Hy het byvoorbeeld geweier om ’n skoon drie van Breyton Paulse toe te ken oor beweerde obstruksie deur James Dalton – wat loutere kaf was. Hy het ook ’n strafdrie teen ons toegeken ná ’n kamtige hoogvat op Tana Umaga. Toe bestorm ek hom. Ek wou hom nie seer maak nie. Maar ek wou hom wel van die veld af haal”, onthul Piet in ’n openhartige onderhoud met Maroela Media.

Maar kom ons begin voor. Pieter van Zyl van Springbok is rugbymal. Hy was in 1995 by toe die Bokke die Aussies se sterte op Nuweland knoop. En daardie onvergeetlike dag op Ellispark toe Francois Pienaar die wêreldbeker gelig het. Met sy mynverskaffingsmaatskappy is hy saam met die Eerste Nasionale Bank destyds een van die grootste borge van die Luiperds – die ou Wes-Transvaal van Potchefstroom.

Maar terug by daardie wedstryd in Durban…

“Ek moes nooit eers daar gewees het nie,” verduidelik hy. “Die Vrydag voor die toets was daar nog ’n intervarsity tussen die Pukke en Shimlas van die Vrystaat op die ou Olienpark in Potch. Ek het Hendrik Truter (voormalige Transvaal- en Vrystaat-heelagter) wat toe in my diens was, gevra of hy ’n paar kliënte na die toets sou neem. Toe laat weet Hendrik hy is gevra om vir Transvaal se Goue Oues teen die Oostelike Provinsie se Helde van Weleer wat Danie Gerber en dié manne ingesluit het, in Port Elizabeth te speel. Toe vra ek vir Pieter Hendriks wat op Nuweland om die legendariese David Campese van Australië in die Wêreldbeker gehardloop het, om ons maatskappy – Mustang Mining Supplies – te verteenwoordig. Maar toe Pieter hoor McHugh blaas, sê hy, ‘Oor my dooie liggaam sal ek ’n wedstryd bywoon waar daardie Ier ’n fluitjie vashou’. McHugh het die bakleitoets in 1995 teen Kanada hanteer toe hy James Dalton afgestuur het. Hendriks is later gerooikaart, wat hom ’n Wêreldbeker goue medalje gekos het. Die einde van die saak is dat ek op die laaste nippertjie ’n paar manne op die trein gelaai het en Durban toe is.”

piet-van-zyl-tekkel

Piet van Zyl se omstrede doodvat op die onbeholpe Ierse skeidsregter, David McHugh. Hierdie voorval het die internasionale rugbywêreld tot in sy fondamente geskud. “Maar”, sê Piet, “ek het ten minste my arms gebruik, nie soos Owen Farrel teen die Bokke nie.” Piet van Zyl, geharde Springbok-ondersteuner en afkomstig van die dorp Springbok in Namakwaland, was onmiddellik wêreldnuus. Sedertdien het sy twee vrouens Rosemary en Sherine hom ontval. Na sestien jaar gaan hy gaan hy nou seil op sy droomboot, African Dream. Foto: Verskaf.

“En toe lóóp jy vir McHugh?”

Piet van Zyl lag skalks. “Ja en dit was ’n skoon têkkel. Nie sonder arms soos Owen Ferrel nou die dag teen die Bokke op Twickenham nie.”

“Wat presies kan jy van daardie insident onthou, Piet? Ek onthou op jou trui se rugkant het die woord ‘Bokke’ gepryk.”

“Dis reg. Ek het tot vandag toe nog daardie trui. Justin Marshall (All Blacks-skrumskakel) moes die bal in die skrum ingooi. Ek het teen daardie tyd gewonder hoe ’n skeidsregter sulke openlike partydigheid kon openbaar wat mense se lewens onherroeplik raak, en hy kom skotvry daarvan af. Ek kon sy voortrekkery net nie meer ’n sekonde langer verduur nie. Voor ek my kom kry, bevind ek my ná die soveelste blaps van die Ier op die veld. Ek het hom met ’n wettige duikslag aarde toe gesmeer. Daar ontstaan ’n losskrum en ek en McHugh beland heel onder. Met die valslag, toe hoor ek net been klap, toe weet ek, Meneer se skouer is nou morsaf. En McHugh tjank soos ’n maer vark en hy skrou ‘Help me! Help me!” Toe gryp Andrew Mehrtens (All Blacks-losskakel) wat in dieselfde Durban gebore is, my agter die kraag en probeer my wegtrek. En AJ Venter van die Springbokke pot my twee keer en ek kry ’n bloedneus. Richie McCaw lê ook vuis in, maar hy breek sy hand teen my kop, want ek kom van Namakwaland af en is niemand se speelmaat nie. McCaw kon ’n paar wedstryde nie speel nie omdat my kop vir hom te hard was. Intussen probeer Bullet (James Dalton, Springbok-haker wat in 1995 teen Kanada deur McHugh afgestuur is) tot my redding kom. Hy gryp vir Mehrtens en skree ‘Leave him, leave him!’ .”

Ek luister aandagtig want hierdie inligting het Piet van Zyl nog met geen lid van die media gedeel nie.

“En toe arresteer hulle jou.”

“Ja. Dit was so ’n kaalkopmannetjie van Wolf Security en ’n polisiereservis. Hulle druk my arm hoog agter my rug op en sleepdra my van die veld af. Jy kon eers ’n speld hoor val. Maar toe juig die ganse skare my toe. Kaalkop sê vir die reservis ‘Just give me five minutes alone with this guy.’ En ek dag by myself, nee outjie, jy’s te lig in die broek vir my. In die pawiljoen boei Kaalkop my en druk die boeie só hard in my polse in dat my vingers so dik soos eiervrug opswel. Toe daag daar ’n man in jeans en ’n Springboktrui op. ’n Polisiekaptein salueer hom. Ek kom toe agter maar die man is Wessie van der Westhuizen, direkteur van openbare vervolging in KwaZulu-Natal. Ek pleit toe by hom: ‘Meneer, kyk tog na my hande asseblief.’ Hy vra toe vir Kaalkop, maar wat is hier aan die gang, waar is die boeie se sleutel? Hy weier eers, tot die polisieman laat hom verstaan ‘Kêrel, as jy nie nou saamwerk nie, arresteer ek jou.’ Toe beduie Kaalkop, die reservis het die sleutels. En Wessie kry die lopers in die hande en sluit die boeie oop. Hy gee my ’n Coke, maar my vingers is só opgeswel, hulle lyk soos piesangs, en ek laat val die blik. Toe stuur Wessie iemand om nog ’n Coke te koop. En my neus bloei soos AJ my geslaan het.”

“En toe vat hulle jou die weg Durban-Sentraal toe?”

“Ja, maar ek was nooit in die polisieselle nie. Hulle het my vingerafdrukke geneem, maar ek kon al my persoonlike goed behou, van my kontant tot my skoenveters. Ek het die hele nag in ontvangs saam met die polisiemanne deurgebring. Ek het tot vir hulle hamburgers gekoop en saam met hulle in die vangwa rondgery! Intussen reël Wessie dat ek kon borg kry. Maar Sarvu (die Suid-Afrikaanse Rugbyvoetbalunie) wou my in aanhouding laat hou en beweer ek is ’n bedreiging vir skeidsregter McHugh se lewe. Wat belaglik was.”

“En toe kry jy borgtog, Piet?”

“Rian Oberholzer wou om de dood nie hê dat ek borgtog kry nie. Daar was ’n Indiër-landdros wat hom nie deur Sarvu wou laat voorskryf nie. Ek onthou nou nog hy was van Hof B in Durban. Hy het reguit gesê, ek, Pieter van Zyl, het (ook) regte en geen saak sal in ’n hof waar hy in beheer is, gestoomroller word nie. Ek kry vir Rosemary (my oorlede vrou) op Potch in die hande en sy jaag deur die nag Durban toe. My borgtog was toe op R5 000 vasgestel, wat ons die Sondagoggend betaal het.”

“En toe kom jou saak voor?”

“My saak kom ’n maand later voor. Toe moes ek hoor hulle het hierdie simpatieke Indiër verwyder en hom vervang met ’n slymerige vent met sulke slangogies. Hy kon my net een keer in die oë kyk. Sy naam was Russel Hand. My regsadviseurs kon daarin slaag om die aanklagtes teen my te laat wysig van aanranding met die doel om ernstig te beseer tot gewone aanranding. Maar Slangoog bevraagteken my identiteit. Hy glo nie ek is net ou Piet van Zyl van Springbok en Potch nie. Op die ou end gee Hand my R10 000, wat ongehoord was. Sy woorde aan my was dat daar geen verskil tussen my en ’n gewone misdadiger wat inbreek en roof is nie.”

“En jy en Rian Oberholzer?”

“Ja, en hy wat Rian Oberholzer is, sit intussen onverpoosd sy vendetta teen my voort. Hy braak gal teen my en brandmerk my vir die buitewêreld as hierdie ‘brandy drinking, boerewors-eating hooligan”. Hy belowe Suid-Afrika en die internasionale gemeenskap dat Piet van Zyl nooit weer sy voete op ’n rugbyveld in Suid-Afrika sal sit nie. En hy was maar net die magtige Louis Luyt se skoonseun. Op Potch het die stories dik geloop dat hy niks beters as Potch Gimnasium se derde span kon bereik nie.”

“Maar jy het laaste gelag?”

“Ja my vriend. ’n Week later nadat ek my standpunt oor McHugh gemaak het, was ek terug by rugby – op daardie selfde Ellispark waar Oberholzer koning kraai! Dis die toets teen die Aussies wat Werner Greeff vir ons wen. Toe ons daar opdaag, sien ek ’n golfkarretjie pyl reguit op ons groepie af. Ek weet toe onmiddellik, ek moet myself maar vetsmeer, hulle soek my. Daar klim twee netjies aangetrekte manne uit. Een van hulle kom na my en steek sy hand uit. Hy sê ‘Ek is Willie Geldenhuys, bestuurder van Ellispark. Baie welkom op Ellispark, mnr. Van Zyl.’ Geen waarskuwings van jy moet jou gedra of wat ook al nie.”

“Piet, die media het dit uitgebasuin dat jy smoordronk was toe jy McHugh bestorm het. Maar vertel my nou, hoeveel het jy daardie dag gedrink?”

“Ja, Pierre Massyn, jy moes daardie vraag vra. Maar ek kan jou nou met my hand op my hart belowe ek het daardie Saterdag net een driekwartbier uitgedrink! Ons het uitgewerk dat dit was nie meer as 280 milliliter was nie! En ek het hom gedrink tweeuur die middag toe ons die hekke van die stadion binnegegaan het – minstens twee uur voor my en McHugh se paaie gekruis het! Dus kan ek jou eerlikwaar verseker ek was nie gesuip nie!”

“En hoe voel jy nou, sestien jaar nadat jy ongevraagd op die voorblaaie was?”

“Ek het wonderlike vriende gemaak. Advokate het aangebied om my kosteloos te verteenwoordig. Mense het geld namens my ingesamel. Ek het tot twee jaar gelede nog ’n losie op Ellispark gehad. Ek was ’n gereelde gasspreker op manne-aande. Ek het geld help insamel vir skole om jong spelers te help. Ek en Thys Lourens en Toy Danhauser en wyle Dirk de Vos. Ek het dikwels nie geld gevra vir my optredes nie. Dis hoe passievol ek oor rugby was en is. Maar die rugbyowerhede waardeer nie die toeskouers genoeg nie. Dis ouens soos ek en jy wat ten duurste betaal vir ’n kaartjie om ’n wedstryd by te woon. Kaartjies raak onbetaalbaar duur. Hulle moet na ons kyk voor rugby ’n natuurlike dood sterf.”

En wat is Piet van Zyl se planne?

“Ek het twee vrouens aan die dood afgestaan, Rosemary en Sherine. Daar is agtien maande gelede ’n ernstige hartprobleem by my gediagnoseer. Ek is nou sestig. Ek het van al my sakebelange in die mynbou en die vissersbedryf op St. Francisbaai ontslae geraak. Ek besit geen vaste eiendom meer nie. Ek bly soms by my kinders op Krugersdorp. Ek het vir my ’n boot gekoop. Sy naam is African Dream en hy’s ’n 52-voeter. Jy ken bote. Om te gaan seil, was my en Sherine se droom. Hy was ’n kaag – tweemaster – maar ek het van sy besaansmas ontslae geraak. Ek gaan met hom Mosambiek toe seil en my lewe daar geniet. Jy kan saamgaan. Dan gesels ons oor rugby.

“En steek jy nog ’n dop, Piet?”

“Nee man, die dok het my mooi laat verstaan my hartkwaal en drank hou nie saam braaivleis nie. Ek drink nou net een sopie brandewyn per maand.”

En op hierdie noot moet Piet van Zyl terug na Houtbaai vertrek om aan sy African Dream te werk. Daar wag ’n nuwe lewe vir hom ná rugby en smaad en onwelkome roem. Ek gun hom dit.

  • Pierre Massyn is ’n oudjoernalis, seiljagvaarder en skrywer van Springbok Rugby-Vasvra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

42 Kommentare

jongste oudste gewildste
brens

Dankie hiervoor! Eks nog altyd n Piet aanhanger! Eintlik moet ek bieg; eks nog altyd heimlik verlief gewees op hom! Lekkerrrr Pieta!!

Frans C

Dit is nie die eerste keer dat ‘n skeidsregter openlik een span bo ‘n ander bevoordeel nie Op 12 September 1981 Eden Park, Auckland .,is die wedstryd en die reeks gelykop,maar die All Blacks wen 25-22 toe die skeidsregter Allan Hewson besluit om ‘n beseringstyd ‘n omstrede strafskop aan die All Blacks toe te ken. Die toets was bekend as die meelblombom toets.Die All Blavk stut Gary Knight was ‘n slagoffer toe ‘n meelblombom hom tref wat uit ‘n Cessna-vliegtuig gegooi is. Wynand Claassen wat toe Springbokkaptein was het na bewering beleefd verneem of New Zealand ‘n lugmag het. Hierdie… Lees meer »

Gert

Ons kort ‘n klomp mense soos Piet om politici te duik.

Ruan Steyn

Enigste boelie van die die dag was ou AAA JEE, wat grootmeneer “polisieman” probeer speel het op die dag!

Herman

Bavo! Bravo! Bravo!
Piet, ons het slegs 300 man van jou kaliber nodig om die felistyne te verslaan en weer hierdie land op die regte pad te kry. Dankie vir daardie têkkel.