Plattelanders kén van begrafnis hou!

dr-leopold-scholtz-kruispaaie

Dr. Leopold Scholtz. Foto: Reint Dykema.

Dis nou maar wors: Op die platteland kén die mense van begrafnis hou. Ook hier waar ek woon, in Nederland.

Laat ek verduidelik. Ons woon in die pragtige Middeleeuse stadjie Delft, maar ons kerk – dis die Protestantse Kerk in Nederland (PKN), eintlik maar die Afrikaanse kerke se Nederlandse suster – is in die dorp Schipluiden, net buite Delft. Dis ’n pragtige skilderagtige dorpie (3 900 inwoners) langs ’n kanaal en ’n kerk wat in sy huidige vorm van 1500 dateer.

As jy die kerk binnestap, loop jy oor die grafstene van mense wat eeue gelede daar begrawe is, met hul name, beroepe en geboorte- en sterfdatums daarop uitgebeitel.

Nou die dag het ek ’n eg ouderwetse plattelandse begrafnis daar meegemaak.

’n Week voor die begrafnis bel ons predikant, ds. Erika Dibbets, my naamlik met die mededeling dat ’n kollega in die kerkraad, Majorie Poot (sy was diaken), oorlede is. Haar man, Herman, is familie van die bekende digter Hubert Corneliszoon Poot (1679-1733), wat ook in die omgewing van Schipluiden gewoon het.

Van hom is ’n onsterflike gediggie bekend wat nog op die voorgewel van sy huis staan: “Hier ligt Poot, hij is dood.”

Nou ja, dis die lot wat die arme Majorie op 60-jarige leeftyd ook weens leukemie getref het. Omdat Majorie en Herman in my wyk (ge)woon (het), moes ek opdraf om ouderling van diens te wees.

Ek het dit met my broer Werner se begrafnis in 2012 in Stellenbosch ook gesien: Plattelandse gemeenskappe wéét hoe om begrafnis te hou. Ek het ook al begrafnisse in die stad bygewoon, maar dit kom nie náby die afskeid wat dorpe soos Stellenbosch of Schipluiden aanbied nie.

Dit was ’n ervaring soos min.

Majorie was bekend, gesien en gelief op die dorp. Dus, om mee te begin, het ek die kerk nog nooit só vol soos op dié dag gesien nie. Ekstra stoele moes ingedra word, en selfs die kerkraadsbanke is deur begrafnisgangers beset.

Voor in die kerk was dit een groot see van blomme, met die kis wat prominent daar opgestel staan met haar portret bo-op. ’n Amateurkoor uit die omgewing het soos blits ’n paar liedere ingestudeer en pragtig gesing.

Kom ons rewind ’n paar dae. Nadat Erika my gebel het met die mededeling van Majorie se oorlye, het ons besluit om saam na Herman en hul (volwasse) kinders te gaan om morele steun te bied. Toevallig, net toe ons daar aankom, daag die begrafnisondernemer ook met die kis en haar liggaam op.

Dit is daar in ’n kamertjie in die oop kis tot die oggend van die begrafnis opgebaar sodat al haar vriende en familie afskeid kon neem. In Suid-Afrika het ek dit nog nooit meegemaak nie. Dalk het dit vroeër by ons ook bestaan. Is daar iemand wat dalk weet?

Ek praat agterna met Erika daaroor, en sy vertel dis ’n ouderwetse gewoonte wat blykbaar in die stede min of meer uitgesterf het, maar op die platteland nog oorleef. (My ervaring van die Nederlandse platteland is dat die mense daar taamlik konserwatief is in die sin dat hulle baie tradisievas is.) Daar kon ek natuurlik ook vir Majorie groet.

Toe Erika dié Sondag in die erediens aankondig dat Majorie oorlede is (sulke gebeurtenisse word altyd vanaf die kansel bekend gemaak), kon sy haar emosie byna nie bedwing nie. Maar op die oggend van die begrafnis het sy die diens uitstekend gehanteer.

In die konsistorie moes ek as ouderling vooraf in die aanwesigheid van die onmiddellike familie met ’n gebed begin. Daarna moes ek vooraan die kerk binneloop, met die dominee en familie agterna. Nog iets wat ek nie ken nie, is dat almal dan opstaan en wag tot die familie hul plekke bereik het.

Vervolgens begelei ek die predikant na die kateder (sy het nie vanaf die kansel gepreek nie), gee haar ’n handdruk, en stap na die kerkraadsbank.

begrafnis-dood-doodskis

Foto: Carolynabooth/Pixabay.com

Ek het natuurlik al weer byna skande gemaak. Dis immers ’n begrafnis, ’n plegtige gebeurtenis, wat al ingelui is deur die kerkklok wat stadig en somber, byna klaend, ’n lui so elke tien sekondes gee.

Maar ek is nogal ’n ongeduldige mens: Ek reken ons doel is mos om daar voor in die kerk te kom, en dus moet ons daar kóm. Gevolglik stáp ek. Toe ek omkyk, sien ek Erika en die ander stadig die kerk binneskry. Soos dit natuurlik hoort. Dis net hierdie dom Boer wat soos gewoonlik te haastig is.

Die diens is begin deur Majorie se twee seuns wat vier kerse, een op elke hoek van die kis, aangesteek het, as simbool van die hemelse lig wat nou op haar skyn.

Die dominee het Paulus se ode aan die naasteliefde in 1 Korintiërs 13 behandel en dit op Majorie se lewe toegepas. Ek het maar eenkant in die kerkraadsbank gesit en my taak – om waardig in my donker pak met wit das te lyk – so goed moontlik uitgevoer.

Toe die diens verby is, is die kerk se sydeur oopgemaak. Die uitgebreide familie (héél uitgebreid!) het al die blomme voor in die kerk geneem en ’n “erehaag”, soos hulle dit hier noem, in die paar meter na die lykwa gevorm waarlangs die kis gedra is. Daarna het ’n stoet van seker 70-80 motorkarre, met ligte aan en die lykwa voorop, die sowat 8-9 km na die krematorium in die buurdorp Maasland aangepak.

Erika het saam met my gery, en ons was so vierde of vyfde in die stoet. ’n Kennis wat die stoet langs die pad gewaar het, het gesê dit was die langste stoet wat hy nog ooit gesien het.

Langs die pad sien ons verskeie tipies Hollandse meulens, waarvan die wieke by sommige in die roustand (net-net verby die middel) gestel was.

Die pad is ’n nou plattelandse weg, waar jy goed moet meet en pas as jy langs motorkarre wat van voor af kom, wil verbyskuur. Wat ek egter baie mooi gevind het, was dat talle motoriste langs die pad uit eerbied stilgehou en gewag het tot die lykwa verby was. Hier en daar was daar natuurlik weer onbeskofte mense wat verby wou skiet, maar nou ja, onbeskaafde barbare kom nie net in Afrika voor nie; ook in Nederland.

By die krematorium het enkele mense nog boodskappe uitgespreek, en almal het die kans gekry om finaal by die kis afskeid te neem. Waarna die begrafnisondernemers koffie en broodjies beskikbaar gestel het. En die mense het geklets, gepraat, gesels, gehuil en gelag.

Dit was ’n móói begrafnis. Een wat Majorie waardig was.

Nou weet ek, niemand van julle het Majorie geken nie. Maar die verskynsel van ’n ordentlike plattelandse begrafnis, dink ek, ken sommige wel. Dit was ’n organiese gemeenskap, soos ’n hegte familie, wat afskeid geneem het.

Ek moes baie terugdink aan die begrafnisse van my ouers, en veral van boet Werner.

Laasgenoemde se uitvaart was ook ’n gróót, warm “familie”viering van die dorp. Nou ja, die oorledene weet (waarskynlik) niks van die begrafnis nie, maar vir dié wat agterbly, is die ritueel tog belangrik.

Dit gaan jou goed, Majorie!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

14 Kommentare

jan_alleman ·

hier in suid afrika se platteland ken ons ook van begrafnis , meestal agv plaasmoorde

Steph ·

Ek is n predikant in die ou Wes-Transvaal en het die vertelling baie geniet. Verbasend hoeveel gebruike steeds voorkom onder Nederlander en Boer na skeiding van beina 400jaar.

Eish ·

Of jy n druppel of n halwe glas aanmaakkoeldrank by die water gooi, jy het die water onherroeplik verander. Dis ons penwortel, Nederland.

Anoniem ·

So ‘n kort sinnetjie, wat soveel hartseer bevat. Dit breek my hart.

Here, wees U kinders asseblief genadig in hierdie gebroke wêreld.

alwyn burger ·

0/10 John , is ñ realistiese waardering vir LS se poging om ons te laat verstaan dat hy in Nederland woon.

Lord Greystoke

Eish ·

Welkome skrywe so voor die naweek wat ook maar weer net wys ons is almal mense en emosie kan maar soms ons lewens goed woer-woer.

E.K. die eerste ·

Ek het self as kind op die Vrystaatse platteland gewoon. Daar het die kerkklok die oorledene se ouderdom gelui – een lui per jaar wat hy/sy gelewe het. Agterna natuurlik die hope kos – dis waar begrafnisrys die naam gekry eht (geelrys met rosyne) want dis menigmaal saam met bobotie of so voorgesit. Ook baie ander koekies en koeksisters, melktert, vleisroleltjies, reenboogbroodjies ens – ag man ‘n mooi fees om die lewe van die oorlede te vier. Dankie Leopold, jy het baie herinneringe oopgeskryf en dis interessant om te hoor hoe dit in ander plekke gedoen word.

Ina Weilbach ·

Baie dankie Leopold. Hier in Stellenbosch En 6 week terug van Nederland het jy soveel mooi herinneringe weer Laat blom. Ek En Johann het op die Vrystaatse platteland groot geword En beide Ons ouers is so tradisioneel begrawe. Op n Sondagoggend in Amsterdam Het Ons gaan stap En Op De Duif kerk/gemeente afgekom. Die mooi koorsang het ons binne genooi En het ons die hele oggenddiens meegemaak. Baie dankie. Vergewe maar sommige ouens met snedige kommentaar.

alwyn burger ·

Eish, water kan nooit chemies verander nie. Dit bly water, al meng jy dit met wat en in watter maat ook al.(Ek dink dieselfde geld in ñ mate vir mense : hier in ñ groot Afrikaanse gemeenskap is ñ Joodse handelaar. Hy sal ñ Jood sterf.)

Eish ·

Probleem is as jy hom gemeng het, skei jy die mengsel moeilik. Byvoorbeeld, die Katolieke invloed op die Christendom word vandag steeds gevoel. Sondag aanbidding, Easter ens, ens.

Sarie ·

‘n Mooi beskrywing van ‘n begrafnis. Het self verlede week ‘n begrafnis op die Ierse platteland bygewoon. My man se neef is oorlede. Hy was welbekend in die gemeenskap en die ou Church of Ireland kerkie was volgepak. Daar was ook buitekant stoele en die mense kon na die diens daar leister. Meestal sy Rooms Katolieke vriende en bure het daar vergader. Hul het hom op die kerkterrein langs sy ouers begrawe. Hulle verras nie soos ons nie. Daarna was daar tee en eetgoedjies by die plaaslike hotel. Ook maar soos by ons.

Jaun de Vries ·

Dr. Scholtz, baie dankie dat u vir ons as voorbeeld dien dat mens jou Afrikanerskap en Christelike waardes en oortuigings óók in die buiteland kan uitleef. Doen so voort. Ek geniet u en Herman Toerien se skrywes baie. Verskoon asb die (enkele) suurknolle en venyniges se kommentaar.

Hmm ·

‘n Kosbare mooi geleentheid, maar in der waarheid geen begrafnis nie. Want niemand is begrawe nie. Dis wat my deesdae bedroef…

SO ·

Die koplampe van motors in die lang begrafnis stoet, weerklink van die kerkklok en mede pad gebruikers wat uit eerbied stop sal my altyd by bly. Plattelandse tradisie waar ek ook vandaan kom. Sal my altyd by bly.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.