Politiek in die kerk

gebed

Jaco Strydom verduidelik hoekom hy vra dat Suid-Afrikaners moet bid vir die land se geestelike leiers. Foto: Argief.

Politici is snaakse mense, hulle vra nie in die eerste plek wat is die regte ding om te doen nie. Die groot vraag waarmee hulle hulleself besig hou, is eerder: wat kan ek doen en sê om aan bewind te bly? Hoe kan ek die massa agter my hou.

Moenie my verkeerd verstaan nie, persoonlik dink ek ook demokrasie is ʼn goeie idee. My enigste probleem is die voorveronderstellings dat die massa die beste weet, dat die massa altyd reg is. Sê nou die massa is verkeerd? Dan het ons moeilikheid! Zuma gaan waarskynlik Donderdag sê wat ook al hy dink die grootste groep mense in Suid-Afrika (wat vir hom gestem het) wil hê hy moet sê, nie noodwendig wat hy dink die land die nodigste het nie (soos dat hy gaan bedank).

Dit is natuurlik een ding as politici so optree, maar dit gebeur dikwels ook in die kerk. Daar is groot druk op ons as predikers om ons mense gelukkig te hou. In 2 Timoteus 4:3 waarsku Paulus dat die mense vir hulle leermeesters sal bymekaarmaak wat net sal sê wat hulle graag wil hoor.

Ek hoor nou die dag weer van ‘n gemeente waar die dominee een Sondag jare gelede gepreek het dat ons ons Christen broers en susters van ander kulture moet liefhê en akkommodeer, want ons is mos almal een familie onder Christus. Een van die ooms het opgestaan en protes aangeteken, as die dominee nie sy deuntjie verander nie gaan hy en van die ander lidmate uitstap. Die dominee was baie ongemaklik, maar het op sy tande gebyt en aanhou preek. Meer as die helfte van die gemeente het op die ou einde opgestaan en uitgestap, “want die dominee het politiek gepraat!”. Eintlik het hy maar net gesê wat Paulus in Kolossense 3:11 en Galasiërs 3:28 gesê het.

Nie lank gelede nie is jy uitgekryt as ‘n kommunis as jy bloot hieroor sou praat. Mense sou gou opmerk: “Jy praat nie politiek in die kerk nie!” Waarom nie? Moet die Evangelie die knie buig voor die politiek? Sê nou Jesus sê iets anders as die politiek? Moet ons stil bly? Of juis praat.

Sê nou Jesus sê ons moet goed wees vir ons vyande, maar die massa wil eintlik hoor hulle mag maar haat? Sê nou Jesus roep die kerk om betrokke te raak by die nood van die wêreld, maar die massa voel die kerk moet ‘n veilige hawe wees? Sê nou die Evangelie roep ons om ook soos Paulus en die vroeë kerk grense oor te steek, maar die kerkooms en tannies voel ons moet eerder grense in stand hou en nuwe grense bou? Sê nou die Bybel sê ons moet vredemakers wees, maar die lidmate wil nie hê daar moet van die kansel af gepraat word oor wat dit prakties beteken in ons konteks vandag nie?

Jesus was lief vir mense, maar Hy was geen people pleaser nie! Die Joodse godsdienstige leiers het sekerlik amper iets oorgekom toe Jesus ‘n Samaritaan gebruik as voorbeeld oor wie “ons naaste is,” en nog meer so toe hy opmerk dat Hy by ‘n Romeinse offisier (van alle mense!) “groter geloof vind as by enigiemand in die hele Israel”. Een van die grootste redes vir Jesus se ongewildheid onder die godsdienstiges was dié mense met wie Hy homself geïdentifiseer het. Dit was vir hulle totaal onbegryplik waarom hy saam met sondaars eet of by die hoof tollenaar tuisgaan. Om te praat van ‘n “nuwe Koninkryk,” was gevaarlik, om die minste te sê, dit was politieke taal. Hy is dan ook uiteindelik tereggestel op die wyse waarop rebelle in die antieke tyd tereggestel is.

Suid-Afrika het ʼn dapper kerk nodig. Ons kan nie kerkmense net gelukkig wil hou nie. Ons kan nie in ʼn land waar miljoene wit, bruin en swart Christene elke Sondag vir ten minste ʼn uur lank stilsit om te hoor, “wat sê die Here,” versuim om reguit te praat oor die dinge wat die grootste invloed op ons samelewing het nie. Veral dinge soos groeiende rassespanning.

Christen broers en susters van verskillende kulture sien mekaar toenemend as vyande. Dit kan mos nie. Ons sal saam met ons mense weer moet leer wat die kuns (en die koste) van vredemaak is. Hoe kan daar so min vrede wees in ‘n land met soveel vredemakers? As versoening nie vir die kerk – met haar goeie nuus – moontlik is nie, is daar min hoop vir die res van die land.

Die laaste ding wat ons nodig het, is kerke wat meer en meer soos kultuurverenigings funksioneer. As Paulus ʼn rassis was, was nie een van ons vandag ʼn Christen nie. Gelukkig het hy gekies om nie toe te gee aan die Joodse ooms wat dit vir hom moeilik wou maak toe hy grense begin oorsteek het nie.

Daar is baie druk op geestelike leiers. Bid vir ons. Ons is gedurig voor die versoeking om ons soos tipiese politici te gedra. Om die volk gelukkig te probeer hou. Die boodskap van Jesus is nie altyd gewild onder Christene nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Strydom

Jaco is betrokke by ECHO, ’n geloofsgemeenskap wat geleenthede en ondersteuning bied aan jongmense in nood en probeer om weer die eenvoud van kerkwees te herontdek. Hy skryf rubrieke vir onder andere Beeld en Kerkbode. Lees sy artikels op ECHO Jeugontwikkeling se webwerf.

Deel van: Goeie goed, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Thys Human, Pretoria ·

Ek het gelees en soort van saamgestem totdat Jaco gekom het by die punt waar hy stel dat Zuma gaan waarskynlik Donderdag sê wat hy ook al dink die grootste groep mense in Suid-Afrika (wat vir hom gestem het) wil hê hy moet sê, nie noodwendig wat hy dink die land die nodigste het nie (soos dat hy gaan bedank).

As hierdie soort politieke onnoselheid tipies is van Jaco se denke, is dit tydmors om die res van sy gebrabbel te lees – en veral aangesien ek uit vorige skrywes vermoed dat dit alweer na iets soos “bid” sal verweer.

Jaco, jou probleem is dat jy stiksienig vaskyk in jou (en die media wat jy gereeld lees) se mening dat die land se probleme ALMAL opgelos sal word as Zuma net van die toneel verdwyn. Julle wil nie hoor en leer dat Zuma nie die probleem is nie – dis die ANC, die swart meerderheidsregering, die Afrika-politiek en filosofie wat geld.

Jy stel self dat Zuma nou die dag deur die meerderheid kiesers gesteun is, maar dink dan sommer dat Zuma moet besef en aanvaar dat “die land” dit nodig het dat hy bedank. Dink julle nou wragtag dat die mense wat hom nou die dag ingestem het, almal skielik teen hom gaan draai en saam met ‘n paar skewe wittes en nog dommer swartes gaan stem?

Kom by, jong, die politiek werk nie so nie. En die godsdiens en bid ook nie.

Shannon ·

Thys jy’s waarskynlik reg – die bedekte Ekklesia advies wat Jaco hier aanbied is half weersprekend. Dis vir my ook so half of die arme gemiddelde Afrikaans sprekende nou finaal onder die walms van Mail&Guardian en Maximus Du Preez verkeer .. m.a.w. moenie die groot olifant in die hoek opmerk nie, ontwikkel eerder `n obsessie met die boogeyman wat ons vir jou skilder. En siedaar ! die vet Zoeloe is al weer knie diep innit.

Maar ek reken Jaco het wel `n punt – soos jy weet, word ouers se afkeur van godsdiens op skool as “`n direkte aanval op godsdienstiges” beskou. Iets wat deur Nick self uitgebroei is sodat dit mense soos OGOD kan help met die beplotting van die ondergang van Christen waardes. As sulks is dit miskien nodig vir mense soos Jacobus om uit te wys dat Jesus waarskynlik die grootste leftwinger bleeding heart was van sy tyd. Het hy nie juis die Joodse ‘nasionalisme’ ondergrawe nie ? Het hy nie juis die gospel toe loop verkondig aan non-Jode nie .. omdat l.g. hom juis as te boheems beskou het ?

Ek sien egter elke dag hoe dit blyk dat juis Christelike godsdiens al meer die als-omvattende mantel word vir ons finale bestemming hier op aarde – globale sosialisme .. gelykheid. `n Internasionale huis vir al God se kinders waar die filosofie van liefde en vergifnis in almal se harte sal heers. Of nee wag .. dit sal van toepassing wees op alle mense met Kaukasies voorkoms, en geweld sal gesien word as n noodsaaklike deel van die Derdewêreld invaller se kultuur .. iets wat gerespekteer moet word op die selfde wyse as wat die Inuit Indiaan se reg om `n walvis te gaan pap skiet met `n westerse geweer gerespekteer moet word deur alle blanke Kanadese.

Hou nou mooi dop wat gebeur wanneer Islam – die godsdiens van vrede – op die arme Kinderkrans dwergies toeslaan.

Bianca ·

Thys, as jy die moeite gedoen het om Jaco se stuk verder te lees, sou jy sien dat hy eintlik daarop fokus dat soveel mense in Suid Afrika stel dat hul Christene is, terwyl hulle nie die ware Christus liefde wil beoffen, deur ook lief te wees vir ander rasse en kulture nie.

Jaco, ek stem saam met jou. Ek is self nog skuldig daaraan om nie my naaste lief te hê soos myself nie, veral as die naaste foute maak. Maar mens moet besef, almal is mens, en die beste wat ons kan doen, is streef om soos Christus te wees, en om te bely en werklik te berou, sou ons dit nie reg kry nie.

Casting Crowns het vir my ‘n lied wat dit goed uiteen sit “Love you with the truth”. Dit stel voor dat ons ons naaste moet lief hê deur hul op die waarheid patent te maak. Dit help nie om vir almal te sê wat hulle wil hoor nie, want wat mense wil hoor, is nie noodwendig wat Christus van ons vereis nie.

Ek glo ook ons moet bid dat ons Christelike leiers in die parlement kry. Ek het geen idee of die huidige leiers enigsins beweer om Christene te wees nie, bloot omdat ek nog nooit enige beleidenis van hulle kant af gehoor het nie. Maar ek glo dat as ons Christus in ons land se bestuur kan inbring, sal dit dinge soveel verbeter.

Dankie vir jou berig.

Jaco Steyn ·

@Bianca. Nes Thys glo ek óók nie in die bestaan van ‘n Persoonlike God nie, maar ek sal nog steeds bid dat daar minder Christene in die parlement moet wees! :)

Ek wonder net of die probleme in hierdie land “soos mis voor die son sal verdwyn” indien ons – soos jou verbeelde “Christus”, al ons besittings sou verkoop en ons geld aan die miljoene armes sou uitdeel…

Bianca ·

Jaco Steyn, ek bid vir jou, in hierdie oomblik, dat jou oë sal oopgaan. Dat God jou sal lei en ‘n verandering in jou lewe sal inbring. Ek wil niemand sien in die verderf ingaan nie, maar wil graag hê almal moet saam met ons die ewige lewe ingaan. Mag jy die alomvouende liefde van Jesus Christus vandag in jou lewe ervaar. Amen!

Jaco Steyn ·

Weereens ʼn niksseggende reaksie deur ʼn fundamentalistiese Christen wat gebaseer is op wensdenkery en misplaaste fantasieë. In plaas daarvan om my redelike kommentaar sinvol te beantwoord, word ʼn vreesaanjaende, teenstrydige boodskap verkondig. Hoe op dees aarde kan mens hierdie twee teenstrydige stellings met mekaar versoen??
(1) “in die verderf ingaan…”
en
(2) “die alomvouende liefde van Jesus Christus”

Christa ·

Bianca, jy mis Jaco se punt heeltemal. Lees bietjie wyer wat Jaco al geskryf het, jong.

Magda Kopp ·

Jaco Steyn ek sal liewer glo in n persoonlike God van wie se Genade ek elke dag afhanklik is en dit nie enigsins verdien nie. Ek sal liewer glo as daar dan geen Persoonlike God is nie het ek niks om te verloor nie maar Jaco wat gebeur as jy tot sterwe kom en daar is wel n Persoonlike God. Net God kan mense tot inkeer bring soos wat met Paulus gebeur het.

Jaco Steyn ·

@Magda. Maar wat sal gebeur indien jy tot sterwe kom en die Persoonlike God is “Allah” i.p.v. tradisionele Christene se God Drie-enig? Moet almal van ons dan nie eerder poog om ywerige Moslems te wees nie?

Johnnie ·

Magda, gaan oordink die volgende woorde van Alan Dershowitz. Dit is 100% van toepassing op jou.

I have always considered “Pascal’s Wager” a questionable bet to place. Any God worth “believing in” would surely prefer an honest agnostic to a calculating hypocrite.

Andre Fourie ·

Wanneer ons tans na gebeure reg oor die wereld kyk is dit baie duidelik dat lande wat die christen geloof aanhang baieee beter daaraan af is as lande waar hoofsaaklik n ander geloof of geen geloof be-oefen word nie. As ons bv. daagliks kyk na mense persoonlik wat die christen geloof aanhang kry jy gewoonlik, nie altyd nie, n beter kwaliteit persoon. Verder kan enige mens dadelik opmerk dat die meeste opheffings werk deur sogenaamde christene gedoen word en dat nie gelowiges meer net vir hulself leef.

Ek het jare gelede die volgende staaltjie gehoor van die jong dame in n skool wat toegespreek is deur a atheis wat probeer bewys dat daar geen God is nie. Sy vra toe die volgende vraag: Indien ek in God glo en uitvind na my afsterwe dat daar geen God is nie – wat het ek verloor behalwe om n goeie lewe te lei. Maar wat as ek afsterwe en wel uitvind dat God bestaan?

As Leeraars in kerke moet n persoon se prioriteite reg wees. Is God jou prioriteit of n politieke stelsel? Is jy op die kansel om die regering van die dag te bevorder of is jy daar om God se koninkryk te bou? Wat gaan jy doen as die leringe van die politieke party in botsing is met die van die Bybel. Wat gaan jy aanvaar as die waarheid?

Jaco Steyn ·

@Andre. Lande wat as tradisioneel-Christelik beskou word, is welvarend nié a.g.v. hul godsdiens se beweerde voordelige invloede nie, maar hou verband met genetiese en ander kulturele faktore. Westerse nasies het goeie vordering gemaak ten spyte van die Christendom se vernietigende invloed. Lees gerus my artikel (http://www.spiritualiteit.co.za/artikel-vloek-van-joods-christelike-tradisie.php) in verband hiermee.

Ongelukkig is hierdie land vandag “waar hy is”, juis a.g.v. “Christelike” kerkleiers en politici se misleiding! Is daar enige kerkleier wat kan verduidelik waarom Apartheid as (on)bybels beskou word en wat presies bedoel word met die woord “Apartheid”?

Andre Fourie ·

As ek kyk na waar daar geen God is nie, wil ek nie daar wees nie. Ek het persoonlik ondervind dat dit beter is om tussen mense te wees wat in God glo as nie gelowiges. Die wereld is vandag waar hy is deur gelowiges. Die vervolging van christene het veroorsaak dat ons voorouers SA toe gekom het. Was dit dus nie vir gelowiges nie was ons vandag nie hier nie.

Magda Kopp ·

Eerstens Jaco omdat ek Jesus Christus vertrou en Hy duidelik in sy Woord se “Ek is wie ek is” sal daar nie “maar se nou” vir my wees as ek tot sterwe sou kom nie. Die God wat ek in glo gee my innerlike vrede en sy liefde laat my toe om met jou te verskil in liefde. Johnie ek hoef nie by enige iets of iemand te pas nie die God wat ek liefhet aanvaar my soos ek is.

Chris Nel ·

my respons op hierdie response oor Jaco Strydom is dat ek dit onverklaarbaar vind dat julle

stry oor watter een van die miljoene GODE julle wil glo is “DIE EEN GOD”, en tog is

voorspel in 95/6 op Patmos, dat in ons tyd na 1994, in die Tyd van die Einde, al die

GODSDIENSTE [Op 13] eintlik toe maar net die DRAAK as SATAN aanbid onder die naam

JESUS CHRIST [666 = G5516 = χξς] LORD GOD, wat nooit bestaan in Hebreeus van die TORAH of die GEBOOIE nie. Wat Jaco Strydom se skrywe “Paulus Rassis” betref, vind ek meer as 40 wanbegrippe en onkunde in Jaco se ideologie en teologie en is dit totaal onsinnig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.