Poppeteater bied ontvlugting

Foto: Bernard Brand

Foto: Bernard Brand

“Ek het wonderlike nuus! Ek en ons dogter, Nina Torr, gaan vir die eerste keer saamwerk aan ‘n produksie. Nina is die aanbieder en kunsregisseur van Tallard and the Ladderbird, ʼn sprokie vir grootmense én kinders, of anders gestel: vir die kind in elkeen van ons.” Só skryf Laurika Rauch op haar Facebook-blad.

Nina Torr, ʼn dosent in illustrasie by Open Window, sê Tallard and the Ladderbird is ʼn poppeteater wat begelei word met pragtige koorsang en musiek wat spesiaal gekomponeer is deur Pieter Bezuidenhout. Rauch sal as gaskunstenaar optree tydens dié produksie.

Nina, wat vier jaar lank kuns in New York studeer het, sê sy en ʼn vriendin, Jessica Ng (van Hongkong) praat nog altyd oor hoe húlle ʼn produksie sou aanbied. “Ons gesels gereeld oor wat ons in teater wil sien en wat ons dink kortkom, toe besluit ons om op te hou kla en dit te doen soos wat ons dit wil doen.”

Sy meen hulle wou iets op die planke bring wat mooi is en wat totale ontvlugting vir mense bied. “Ons kry genoeg van realiteit in ons lewe. As ek iets gaan kyk wil ek nie oor my lewe dink nie, ek wil weggevoer word.” En só is Tallard and the Ladderbird gebore.

Jessica, wat die storie geskryf het, het die karakters baseer op Nina se illustrasies, en die sprokie handel oor ʼn dogtertjie wat baie lank is, langer as die res van die wêreld. Daar is verskeie gerugte van hoe Tallard gebore is en hoekom sy so lank is. Die storie neem Tallard op ʼn groot avontuur met haar soeke na die waarheid en vrede.

Wat dié produksie veral besonders maak, is die reusagtige poppe wat spesiaal gebou is. “Tallard is ongeveer 3 m lank en het ongeveer ʼn week en ʼn half gevat om te bou.” Nina sê die oorspronklike poppe was egter te swaar en hulle moes ʼn klomp verstellings maak. “Ons pas maar aan soos ons gaan!”

Sy noem ook daar is ʼn verskeidenheid van mense wat deel vorm van die produksie. “Dis ongelooflik om te sien hoe graag mense betrokke wil raak. Selfs van my studente en vriendinne het kom help.”

Die Produksie word op 19 en 21 September om 19:00 by die Sax Arena by die Open Window-kampus in Centurion aangebied. Besoek gerus die Facebook-blad vir meer besonderhede. Kaartjies is hier beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.