Positiewe protes teen swak leierskap

Leierskap-bemagtig

Argieffoto.

Almal is dit eens dat dinge nie voor die wind gaan in Suid-Afrika nie. “Ek het nog nooit ervaar dat mense met soveel kommer en minagting van leiers praat nie,” spreek Dawie Roodt, hoofekonoom en direkteur van Effiecient Group en openbare figuur, sy kommer uit. “Dit gaan toenemend slegter in ons land. As ekonoom kan ek dit in die syfers sien. Onbekwaamheid in staatsinstellings is aan die orde van die dag en mag word met vermoë verwar.”

Hy skryf vroeër vanjaar op Maroela Media: “Ek kan sien hoe korrupsie, nepotisme, baantjies-vir-boeties, onbekwaamheid en swak leierskap hierdie land lei na ekonomiese stagnasie, werkloosheid, armoede, chaos en die uiteindelike onvermydelike gevolg: die sinkgat van ʼn gefaalde staat waaruit selfs die kankerselle wat dit veroorsaak het, nie kan ontsnap nie.”

President Jacob Zuma en die ANC se leierskap word wyd gekritiseer. Dink maar aan die opslae wat sy nuutste, omstrede woorde onlangs gemaak het: “Die ANC is belangriker as die Grondwet.” Maar dit is nie net die president wat in die publieke spervuur staan nie; menige ander landsleier op nasionale, provinsiale én munisipale vlak loop ook deur onder beskuldigings van swak leierskap.

Maar gaan dit regtig so sleg?

Die World Justice Project stel jaarliks die “Rule of Law Index” vry. In 2015 is 102 lande wêreldwyd ondersoek om vas te stel wat die stand van regsoewereiniteit in elke land is. Suid Afrika het 36ste geëindig – min of meer op dieselfde vlak as Hongarye en Kroasië. Suid-Afrika het gemiddeld presteer met ʼn telling van 0.58 (uit 1). Die telling vir orde en sekuriteit is egter kommerwekkend – ons het 81ste geëindig.

Statistiek Suid-Afrika se Slagoffers van Misdaad-opname vir 2015 bevestig dat Suid-Afrikaners nie meer veilig voel in hul eie land nie.

Die groot vraag is dus egter nie of ons rede het en móét protesteer nie, maar hóé ons moet protesteer sodat dit doeltreffend en effektief is.

Gemeet aan die kenmerke van ʼn goeie leier, skiet menige leier op talle vlakke in Suid-Afrika te kort. Dr. Isak Burger, president van die Apostoliese Geloofsending van Suid-Afrika, verwoord die gebrek aan leierskap: “Dit lyk al minder moontlik dat die huidige regerende party die negatiewe spiraal waarin hy die land geplaas het, kan omkeer. Die moontlikheid van ʼn nuwe, verstandige leier vir die regerende party na die volgende algemene verkiesing, is ʼn vae hoop op die horison. Of één swaeltjie die somer sal bring, is ʼn ope vraag.”

Dr. Braam Hanekom, direkteur van die Sentrum vir Publieke Getuienis en predikant en skrywer wat ook fokus op leierskapsontwikkeling, sê: “Leierskap wat ʼn land faal, is veel meer as ʼn politieke kwessie. Dit raak die wese, die siel van ʼn nasie.”

Ek het verskeie nie-politiese leierfigure in die breër gemeenskap genader om raad te gee oor presies hóé ons protes kan aanteken sodat dit doeltreffend en effektief is. Almal is dit eens dat Suid-Afrikaners baie goeie rede het om kwaad te wees. Maar almal is dit ook eens dat afbrekende kommentaar, sarkastiese aanmerkings, rassisme en haatspraak nié opbouend is nie – veral nie op sosiale media platforms nie.

Volgens Roodt is daar drie vlakke van reaksie op ontevredenheid. Die eerste vlak is om deur middel van drukgroepe standpunt in te neem en om howe te nader in sekere gevalle. Ons het steeds die grondwetlike reg van spraak en protes op hierdie manier werk steeds in Suid-Afrika. Dit is ook ʼn positiewe manier van protes.

Die tweede vlak sien ons deesdae al hoe meer: Om die stelsel te ondermyn deur stakings en protesoptogte. Hierdie is egter nie ʼn positiewe oplossing nie.

Die derde vlak is nóg minder positief: Dit is om die regering omver te gooi deur, byvoorbeeld, ʼn staatsgreep of burgeroorlog.

Hy sê verder dit is opmerklik dat gewone mense nie langer stilbly nie en toetree tot die stryd om teen onbillikheid te protesteer. Die geheim is nou om hierdie energie as positiewe, doeltreffende optrede te kanaliseer.

Die volgende raad kan moontlik beter resultate tot gevolg hê:

  1. Burgerlike organisasies

Volgens Ernst Roets, adjunk-uitvoerende hoof van Afriforum, het Suid-Afrika ʼn baie sterk burgerlike samelewing en bestaan talle burgerlike organisasies buite die politiek. Hy beklemtoon dit is belangrik dat ontevrede burgers by hierdie organisasies aansluit. Roodt sluit by hom aan deur te bevestig sulke organisasies kry dit dikwels reg om die regering te “briek”.

  1. Wees ingelig

Paul Colditz, uitvoerende hoof van FEDSAS, werk gereeld saam met die departement en minister van onderwys om onderwys in Suid-Afrika te verbeter. Hy beklemtoon dit is belangrik om seker te maak van jou feite as jy tot ʼn debat wil toetree. Kennis en kundigheid is van kardinale belang. Dit bring selfvertroue en oortuiging – as ʼn standpunt nie met oortuiging oorgedra word nie, is die argument by voorbaat verdoem.

  1. Krag lê in die klein dingetjies

Roets meen daar is groot krag in die “klein dingetjies”. Moenie sit en wag dat ander optree nie. Hy noem die voorbeeld van reaksie op haatspraak en rassisme op sosiale netwerke. Indien iemand haatspraak pleeg, help dit nie veel om daardie persoon deur middel van soortgelyke haatsprekende kommentaar aan te vat nie. Gaan lê eerder ʼn klag by die Menseregtekommissie.

  1. Moenie kwaad met kwaad vergeld nie

Volgens Colditz moet jou eie gedrag en standpunte van onkreukbaarheid en konsekwentheid getuig. Roets gee raad: “Die ‘verpakking’ van jou argumente moet só wees dat dit moreel regverdigbaar is.” Dit help nie om rassisties, haatdraend en neerhalend te reageer op ongeregtighede nie. Negatiewe kommentaar op Facebook of Twitter help ook nie om die situasie te verbeter nie.

Colditz sê verder: “Dit is soms baie moeilik om ander lief te hê, maar Christus het alle mense lief en Hy roep ons ook op tot liefde. Daarom moet protestering altyd in liefde plaasvind.  Al kan jy dan nie liefde betoon nie, protesteer dan minstens met respek teenoor die ander se menswees en gemoed.”

Professor Malan Nel, buitengewone professor in praktiese teologie by die departement van teologie aan die Universiteit van Pretoria, sê verder: “In Matteus 5:43 staan ons moet ons vyande liefhê met “agape”-liefde. Hierdie liefde verskil van die liefde tussen man en vrou en die liefde tussen gelowiges en beteken dat ons vir alle mense respek moet hê.”

  1. Sien die humor raak

Volgens Colditz verrig doodgewone humor wondere om spanning te breek. Hy beklemtoon egter dat die humor op die situasie gemik moet wees en nie op die persoon nie.

  1. Tree met volharding op

Dit help nie om moed op te gee nie. Colditz vertel van vyf standpunte wat hy in 2001 teenoor die regering gestel het, wat in dieselfde jaar afgeskiet is. Hy het elf jaar lank volhard met die standpunte en in 2012 is vier van die vyf aanvaar. Hy glo dat die vyfde ook mettertyd aanvaar sal word, aangesien hy steeds daarmee volhard.

Dit is egter belangrik om seker te maak dat jou standpunt wel reg is…

  1. Christene moet soos Christene optree

Nel is baie bekommerd oor die manier waarop Christene protes aanteken: “Christene tree nie meer soos dissipels van Jesus Christus op nie.”

Dit herinner aan die woorde van Mahatma Gandhi: “Ek hou van Jesus Christus, maar nie van Christene nie. Christene tree nie op soos Jesus Christus opgetree het nie.”

“Christene moet te alle tye die vrug van die Gees uitlewe teenoor álle mense en in álle situasies – al is dit hóé moeilik. Hy verduidelik: “As Christen is ek nie gespaar van woede en reaksie nie, maar van ónchristelike reaksie.”

  1. Die groter prentjie

Volgens Nel is dit baie belangrik om die groter prentjie te sien en holisties na elke situasie te kyk. “Ek moet twee keer dink voordat ek reageer. Dit beteken dat ek myself in ʼn ander se skoene plaas en sê: ‘Ek keer nie noodwendig goed wát hy doen nie, maar verstaan waaróm hy dit doen.’”

  1. Selfondersoek

Hanekom verduidelik: “Dit lyk vir my of dit ongelukkig so is dat ʼn leier die produk van die nasie self kan wees. Dit is ʼn verskriklike ding om te sê, maar ʼn gemeenskap baar op die ou end sy eie leiers.” Volgens hom is dit belangrik dat ons nooit by ʼn ander plek as onsself kan begin indien dinge in ʼn land verkeerd is nie. Hy sê: “Ek is bevrees dat ons onsself nog heelwat voor God sal moet verootmoedig. Ek is nie seker of ons dit al na behore verstaan nie.”

  1. Wat van burgerlike ongehoorsaamheid?

Volgens Burger wonder mense of burgerlike ongehoorsaamheid Bybels regverdig word. Hy verduidelik dat die besluit om wel daartoe oor te gaan met verantwoordelikheid geneem moet word: “Die Skrif is duidelik daaroor dat die owerheid, selfs al is dit nie ʼn Christelike owerheid nie, ʼn instelling van God is en dat ons daaraan onderdanig moet wees. Daarom is burgerlike ongehoorsaamheid ʼn baie sensitiewe kwessie wat veral vanuit Christelike perspektief as ʼn laaste moontlike opsie oorweeg moet word.”

Hy beklemtoon dat ʼn mens in so ʼn geval ook bereid moet wees om die regsgevolge van jou besluit te dra.

  1. Wees op die uitkyk vir die goeie dinge

Almal is dit eens dat ons moet aanhou om op die uitkyk te wees en moet konsentreer op die goeie dinge wat ook in Suid-Afrika gebeur. Dit is moeilik, maar doenbaar. Dit stel ook gemoedere meer positief.

  1. Gebed

Volgens Burger is gebed die heel belangrikste aksie teen die huidige toedrag van sake. Paulus bevestig dit in 1 Timoteus 2: “Ek dring daarop aan dat daar in die eerste plek met smeking, voorbidding en danksegging gebid moet word vir alle mense, vir dié wat regeer en vir almal wat gesag uitoefen…”

Soms voel ons dat daar reeds baie gebid is en gebid word, maar niks verander nie. Hy verduidelik: “Gebed moenie gesien word as ʼn meganiese ritueel waar daar aan God voorskrifte gegee word nie. Daar kan alleen waarlik geglo word in die krag van gebed indien die bidder in ʼn persoonlike verhouding met God staan.” Hy beklemtoon verder dat daar soveel voorbeelde in die Bybel en ook in die geskiedenis is dat God die gang en koers van lande en volke verander het in antwoord op gebede.

gebed-vir-leiers

Grafika verskaf.

Hanekom het ʼn gebed vir ons leiers geskryf:

Liezel Lüneburg

Meer oor die skrywer: Liezel Lüneburg

Ek is ’n ma. Eerstens. Dit beteken: kok, sieketrooster, huiswerkhulp, tuinwerker, taxi-bestuurder, bewaarder-van-sedes-van-die-kleinspan, taakbouer, dissiplineerder, vrou, gesondheidswerker, huishoudster, bakker, dagboek-op-bene en bidder. Maar ook ’n nie-praktiserende prokureur met ’n LLD-graad in Kinderreg en nou vryskutjoernalis. ’n Goeie boek is onweerstaanbaar. Ek is ewe lief vir internasionale musiek, ’n goeie kunsfliek en die kruietuin langs my lieflike Laeveld-stoep. Kook is ook lekker. En braai. Net nie die gewone braaipraatjies nie...

Deel van: In diepte, Karmenaadjies, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Johan 2 ·

Interresante ontleding…ek dink ons moet ook (meer) as een afrikaner (minderheids) groep vriende maak by ander kultuur groepe/volke en probeer wegkom uit die mengelmoes wat hulself net Suid Afrikaners noem. “Demokraties” verkose diktator partye haat minderheidsgroep identiteit want dit ondemyn hul massa dominasie plan.

Francois Fouche ·

n Makliker manier om ons “sogenaamde” regering tot sinne te ruk is om op te hou belastinggeld te betaal. Rede is eenvoudig, dit is meer beskaaf as om oorlog te maak. Die verval in die staat is so groot dat howe en gereg dit nie kan omkeer nie. As daar nie aksie geneem word nie is ons verdoem tot absolute armoede en ellende.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.