Pretoria-skole kan nou inskryf vir 2016 Cool Capital

Foto: Atterburytrust.org

Foto: Atterburytrust.org

ʼn Kunsprojek vir hoërskole in Pretoria word vanjaar vir die derde keer aangebied. Dié projek wat deel vorm van die Cool Capital-biënnale vind vanjaar van 23 September tot 31 Oktober in die Jakarandastad plaas.

Die projek met ruimte vir opwindende kuns- en ontwerpinstallasies asook intervensies word geborg deur die Atterbury Trust en vanjaar weer aangebied deur Debbie Cloete. Elke skool kry die geleentheid om saam met ʼn praktiserende kunstenaar werk om op die skoolgrond ʼn kunsinstallasie te skep wat verband hou met die biënnale se tema, “Klein is groot”.

Die fokus is vanjaar op klein openbare kuns- en ontwerpaktiwiteite wat groot impak kan hê. “’n Eenvoudige, maar slim idee kan onverwags groot resultate lewer, amper soos ʼn klein saadjie wat ontkiem en in ʼn reusagtige boom kan verander,” sê Carla Taljaard, mede-organiseerder van die Cool Capital-biënnale. “Ons oogmerk is dat elkeen iets kleins kan bydra tot algemene en gemeenskaplike kennis en wysheid. Met die biënnale – vanjaar vir die tweede keer aangebied – wil ons dié wysheid deur middel van kuns en ontwerp illustreer.”

Atterbury se bydrae sal help om die inskrywings van staatskole en skole wat finansieel minder bevoorreg is te finansier. “As ʼn organisasie wat toegewy is aan die bevordering van opvoeding en kultuur, hou ons vreeslik baie van hierdie jaar se tema. Dis juis vir ons so belangrik om jongmense wat ʼn bydrae wil maak tot die toekoms van ons land, te help om daar uit te kom, en klein gebare wat uitkring en groot impak het, som dit so mooi op,” sê Zahn Hulme, Atterbury se woordvoerder.

Die kunsprojek is nie ʼn kompetisie met pryse en wenners nie omdat die gedagte daar agter is om almal aan te spoor om deel te neem, en sodat skole in minder welgestelde gebiede nie hoef terug te staan vir skole wat meer hulpbronne tot hul beskikking het nie.

“Ons hoop dat ons vanjaar selfs meer as verlede keer se 20 skole sal sien inskryf, want dit was so geweldig inspirerend om te sien met watter insig en toewyding die leerders in 2014 die tema geïnterpreteer het,” het Taljaard gesê.

Altesaam 17 skole het reeds hul deelname aan die projek bevestig. Die finale projekte sal in Oktober tydens ope dae by die deelnemende skole vir die vertoon word.

Ná afloop van die biënnale word die skoolprojekte ook gedokumenteer in die Cool Capital-katalogus asook in ʼn dokumentêre fliek oor die biënnale. Die dokumentêr oor Cool Capital 2014, DorpStad, word op 20 Februarie om 19:00 in die Atterbury-teater vertoon. Kaartjies kos R20 en is te koop by die deur. Skoolkinders wat in skoolklere opdaag kry gratis toegang. Die toegang is ten bate van die Atterbury-trust.

Vir meer inligting oor hoe om in te skryf vir die Cool Capital- hoërskoolkunsprojek, besoek Cool Capital se webwerf of stuur e-pos na Carla Taljaard by [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.