Pretoria spog met Afrikaanse ‘handelshuis’

Foto: Facebook/ De Afrikander Handelshuis

Die grootste Afrikaanse winkel van sy soort, De Afrikander Handelshuis (D.A.H), het amptelik sy deure by die Voortrekkermonument oopgemaak.

“Ons maak mense trots op Afrikaners – op ’n moderne wyse,” sê Liza-Mari Oberholzer, mede-eienaar van De Afrikander Handelshuis.

Die winkel vervang die geskenkwinkel wat voorheen op die terrein was en gaan die grootste winkel van sy soort in Suid-Afrika wees. De Afrikander is ’n Afrikaanse winkel wat daarop toegespits is om plaaslike en internasionale toeriste trots te maak op Suid-Afrika.

Die winkel bied ’n wye reeks produkte aan wat ’n storie vertel van wie Suid-Afrikaners is en Afrikanerkultuur op ’n unieke en moderne wyse uitbeeld. Van Springbokleer-handsakke, T-hemde van Jan van Riebeeck en Oom Paul en handgemaakte keramiek tot Afrikaanse linne, tuisgemaakte konfyt, egte leervellies en ’n oormaat ketties. Alles onder een dak.

De Afrikander Handelshuis se naam is afkomstig van die woorde wat Hendrik Biebouw in 1707 in Hollands uitgebasuin het, naamlik “Ik ben een Afrikander”. Dit was die eerste keer dat iemand na homself as ’n Afrikaner verwys het en is simbolies van Afrikaners wat hul gesig as’t ware weg van Europa en na Afrika draai, deur hulself na die Afrika-kontinent te vernoem.

De Afrikander Handelshuis het reeds die afgelope drie jaar suksesvol ’n aanlyn winkel bedryf wat hoofsaaklik op Afrikaanse T-hemde gefokus het. Die bekende sanger, Adam Tas, is ook dié handelsmerk se amptelike ambassadeur.

“Ons moedig plaaslike en internasionale toeriste aan om die winkel te besoek en ’n voorsmakie van Afrikaans te kry en iets te ervaar van Afrikaner-gasvryheid,” sê Oberholzer.

Die Voortrekkermonument ontvang tans bykans 160 000 besoekers per jaar en die besoekerstal groei jaarliks.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Basson ·

Seker nie ‘Afrikaanse Handelshuis’, want teen die muur staan ‘ Proudly South African’?
(Dalk eerder ‘Inheemse Handelshuis – of dalk vir die toeriste se voordeel so opgesit?)

Willie ·

Ek wonder of alles wat data verkoop word, deur ons kerk se mense gemaak word..

Estelle ·

Ongelukkig is hierdie soort winkels se pryse onbekostigbaar vir ons as Suid-Afrikaners – dis net die buitelanders wat voordeel daaruit trek.

Fanie Kemp ·

Pragtig, baie geluk en baie dankie Liza-Mari! Dis nou mooi voorbeeld van hoe ons almal minder moet praat en kla en begin “Doen” om ons taal en kultuur te bevorder en elke dag uit te leef.
Mag hierdie inisiatief van krag tot krag groei.
Sterkte.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.