Hy het A’s in Afrikaans, Engels, wiskunde, fisiese wetenskappe, rekeningkunde, lewenswetenskappe en lewensoriëntering behaal.
“My pa, Mannie, is ʼn huisdokter. Ek het altyd by die spreekkamer uitgehelp en selfs geassisteer as die pasiënte toestemming gegee het.”
Ek het ʼn groot behoefte om mense te help. Ek wil ʼn verskil in ander mense se lewens maak.
Johan se gunstelingvakke was wiskunde en biologie. “Biologie leer ons hoe die menslike liggaam werk.”
Hy het vir die eerste span hokkie gespeel en aan debatkompetisies en tennis deelgeneem. Hy was ook lid van die atletiekspan aangesien hy die diskus ver kon gooi.
Johan was die dux-leerling in sy graad en het vakprestasies in ses vakke behaal. Hy het ook akademiese erekleure ontvang. Johan het die skool se beheerliggaam-toekenning ontvang vir veelsydigste presteerder.
Sy pa is sy rolmodel. “Hy is altyd daar en gee vir my leiding. Hy gee ook vir my ruimte om uit my foute te leer. Ek wil in sy voetspore volg en ook ʼn dokter word. Hy inspireer my.”
Hy skryf sy akademiese sukses toe aan sy vermoë om te kan konsentreer. “Ek het altyd my volle aandag in die klas gegee. Ek het geleer om te konsentreer sodat ek by die huis net die werk kan doen.”
Sy raad aan matrieks: “Wees veelsydig en betrokke. Dan sal jy voluit vir akademie kan gaan.”