Afrikaans se plek in ʼn Engelse sakewêreld

stefanvander-walt.jpg

Stefan van der Walt, uitvoerende hoof van die Premium Groep- maatskappye en van Nikon SA. (foto: premiumgroup.co.za)

Sakebedrywighede wêreldwyd is oorwegend in Engels – daarmee kan ʼn mens moeilik stry. Is dit dan sinvol om vir Afrikaans op skoolvlak te veg en Afrikaanstalige opleidingsinstansies te bou, soos die Virseker Trust doen? Suksesvolle sakelui deel die voordele – en uitdagings – wat opleiding in Afrikaans inhou.

Is Engelstalige opleiding die beter opsie?

Suid-Afrika bied volop geleenthede vir entrepreneurs met ondernemingsgees om ʼn sakeonderneming te begin. Só sê Stefan van der Walt, uitvoerende hoof van die Premium Groep- maatskappye en van Nikon SA. Dit is trouens hoe hy self die leer tot heel bo geklim het – deur klein ondernemings te begin, die mark te analiseer, geleenthede te identifiseer en dan die sprong te neem.

Maar die sakewêreld praat Engels. “Alle dokumente en korrespondensie is in Engels. Die meeste vergaderings vind ook in Engels plaas, aangesien daar gewoonlik ʼn Engelssprekende persoon betrokke is. Verder ken die meeste mense slegs Engelse saketerme, sodat dit moeilik vir Afrikaanssprekende mense is om in Afrikaans te kommunikeer as hulle sake bespreek,” skets hy die huidige prentjie.

Dat ʼn mens Engels moet verstaan en jouself daarin moet kan uitdruk, is ʼn feit. Tog beteken dit nie dat Engelstalige opleiding die enigste – of beste – opsie is nie. Van der Walt sê dit strek tot ʼn mens se voordeel om goed Engels te kan praat, maar dit impliseer nie noodwendig opleiding in Engels nie.

“Daar is genoeg bewyse in die wêreld hoe belangrik dit vir ʼn kultuurgemeenskap is om in sy moedertaal en kultuur geskool te word. Afrikaanstalige onderrig is steeds van die hoogste gehalte en die kultuur en dissipline in Afrikaanstalige skole help jong mense om meer suksesvol te wees. Die media en wêreld om ons is boonop so vol Engels dat vandag se kinders buitendien almal baie goed Engels kan praat en verstaan teen die tyd dat hulle klaar maak met skool,” sê hy.

 Daniella-van-Heerden-kykNET.jpg

Daniëlla van Heerden, joernalis en nuusleser by eNuus. (foto: kykNET)

Daniëlla van Heerden, joernalis en nuusleser by eNuus, meen ook dat Engels deesdae so deel van ons bestaan is dat mense dit byna deurgaans magtig is. “Ek dink nie dat mense wat hul kennis op skool of by ʼn tersiêre instelling in Afrikaans opgedoen het, ʼn agterstand het nie. Moedertaalonderrig gee jou eerder ʼn voorsprong. Ek glo dit is beslis ook belangrik om Engels goed te kan praat, maar dis nie nodig om al jou onderrig in Engels te ontvang nie.

Bemagtig jouself in Afrikaans én Engels

Van der Walt beklemtoon dat Afrikaanssprekende mense beslis nog ʼn positiewe bydrae tot die sakewêreld lewer. “Die feit dat Afrikaanssprekende mense per capita die suksesvolste mense in die sakebedryf is, beteken dat Afrikaans, asook dít wat Afrikaans in mense ontsluit, ʼn groot rol speel. Afrikaans ontwikkel baie meer in mense as net ʼn taal vir sake en dit dra by tot die sukses in die sakewêreld.”

Hoewel hy oortuig is van die talle voordele wat met Afrikaanstalige onderrig gepaard gaan, soos bewese akademiese prestasie, voeg hy by dat jong mense nie naïef moet wees oor die rol wat Engels speel nie en hulself ook daarmee moet bemagtig.

“Dit sal goed wees vir mense wat Afrikaanstalige onderrig ontvang om ʼn kursus of twee in skryftegniek en korrespondensie in Engels te doen,” sê Van der Walt. “Ná skool was my Engels baie swak, ek kon dit nie goed praat óf skryf nie. Om in Engels te leer kommunikeer was maklik genoeg en my sterk Afrikaans-agtergrond het geen negatiewe invloed op my korporatiewe of sakesukses gehad nie. Korrespondensie in Engels was egter effens moeiliker,” vertel Van der Walt.

Prof. Kobus Maree, ʼn opvoedkunde-sielkundige verbonde aan die Universiteit van Pretoria, beaam Van der Walt se raad. “Dit is belangrik dat persone wat Afrikaanstalige opleiding kry ʼn manier vind om Engels vlot te praat en te skryf en in Engels te dink. Praat dit gereeld, lees Engelse boeke of tydskrifte en vra iemand om jou met die uitspraak te help.”

Toekomsgerigte opleiding vir ʼn dinamiese sakewêreld

Juis die argument dat Afrikaans baie meer bydra as net die taal, oortuig Van der Walt daarvan dat dit ʼn fout was om Afrikaans by openbare universiteite af te skaf. “Ek dink egter dat daar ʼn groter probleem by universiteite is. Die wêreld verander so vinnig en die universiteite verander te stadig. Universiteite ‘verkoop’ en bemark nog steeds loopbaanrigtings en grade wat geensins tot die ekonomie bydra nie en wat geen waarde gaan hê teen die tyd dat ʼn persoon die kwalifikasie verwerf het nie.”

Daarom glo hy dat instellings soos Akademia, wat deur ruim finansiering van die Virseker Trust gebou word, die toekoms van onderrig is. “Die grootste voordeel van ʼn kleiner, private instelling soos Akademia is dat die opleiding vinnig kan verander en aanpas by die behoeftes van die werklike sakewêreld daar buite. Die feit dat dit in Afrikaans is, hou al die addisionele voordele van moedertaalonderrig in.”

Van Heerden voer aan dat daar meer gedoen moet word om moedertale te bevorder. “Dit is egter ʼn groot droom en daarom moet private Afrikaanstalige tersiêre instellings uitgebou word. Dit is baie belangrik dat hierdie instellings nie as ‘Afrikaner-instellings’ gesien word nie, maar ‘Afrikaans’ – waar almal wat die taal praat in hulle moedertaal onderrig kan word.”

Meyer-le-Roux

Meyer le Roux, medestigter van die Buffelsfontein-handelsmerk. (foto: Buffelsfontein)

Solank as wat gehalte-opleiding beskikbaar is, sal Afrikaans aanhou om ʼn bydrae te lewer in die sakewêreld. So glo Meyer le Roux, medestigter van die Buffelsfontein-handelsmerk, wat begin het deur baardolie te verkoop en intussen ook ander produkte in die mark het en ook ʼn restaurant oopgemaak het. “Mense wat dink dat Afrikaans uit die Suid-Afrikaanse sakewêreld gaan verdwyn is óf kranksinnig, óf idiote. Ek sal áltyd instansies wat opleiding in Afrikaans bied ondersteun en ek voel dis elke Afrikaanssprekende persoon se plig om dieselfde te doen.”

Só is sakesukses binne jou bereik

Om jou opleiding in Engels te kry, gaan nie vir jou kitssukses in Suid-Afrika se sakewêreld verseker nie. Harde werk, veral in jou jonger jare, en karakter is volgens Van der Walt die sleutel tot sukses. “Hoewel ondervinding in die korporatiewe omgewing jou help om struktuur te bou en dissipline te ontwikkel, is karakter vir my nog belangriker. Neem eienaarskap van wat jy doen of waar jy werk. Wees bereid om vinnig en maklik aan te pas by die veranderende mark.”

Die Buffelsfontein-handelsmerk is ʼn Afrikaanse sake-suksesverhaal. Le Roux is baie dankbaar om in Afrikaans te kan sake doen en glo die sakewêreld is wat jy daarvan maak. “Die feit dat ons sake in Afrikaans doen, is eintlik ʼn vars briesie in die oorwegend Engelstalige sakewêreld. Ons kry so nou en dan ʼn Engelssprekende persoon van Johannesburg wat kla dat die restaurant se spyskaarte slegs in Afrikaans beskikbaar is, terwyl mense van oorsee mal is daaroor. Die restaurant is geleë in ʼn area waarin baie mense wat by ambassades werk uiteet en hulle is mal daaroor om elke keer nuwe Afrikaanse woorde te kom leer,” vertel hy.

Om hierdie soort sukses in Suid-Afrika te behaal, moet jy selfversekerd en trots op jou herkoms wees, maar eweneens deel van Suid-Afrika in sy geheel, sê Van Heerden. “Moenie jouself isoleer nie en reik uit na verskillende tale en kulture, leer by hulle. Die vermoë om te innoveer en aan te pas by uitdagings is ook belangrik. Wees trots Afrikaans én trots Suid-Afrikaans.”

Van der Walt se raad vir sakesukses is om groot te droom en klein te begin. “Die geheim is om net aan die gang te kom. Sakestudies bied ʼn goeie grondslag, so doen aansoek vir ʼn studielening by die Virseker Trust as jy nie geld het om te studeer nie. As jy jou huiswerk gedoen het, begin dan net. Nie alles wat ons probeer gaan werk nie, maar alles wat ons probeer gaan ons iets leer. Onthou, sukses neem tien jaar en meer om te bereik. Kry vir jou goeie mentors, mense wat reeds ʼn suksesstorie het, en leer uit hul foute.”

  • Maroela Media en die Virseker Trust werk saam om Afrikaanse onderwys en ander Afrikaanse inisiatiewe te ondersteun. Kry ʼn verpligtingvrye Virseker-kwotasie.
  • Virseker is ʼn produk van Auto & General Versekeringsmaatskappy, ʼn gemagtigde finansiëlediensteverskaffer. B’s & V’s geld. (FDV-lisensienommer: 16354)

Wen ʼn bootreis!

Neem deel aan Maroela Media se kompetisie en staan ʼn kans om ʼn bootreis saam met Groot FM te wen. Bepalings en voorwaardes geld. Lees meer.

Oops! We could not locate your form.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.