Al meer as 70 000 artikels in Afrikaans op Wikipedia

deon-steyn-afr-wikipedia-2019-02-27

Deon Steyn is ʼn direksielid van Wikimedia ZA en administrateur vir Afrikaanse Wikipedia. Foto: Verskaf.

Daar is tans 72 528 artikels in Afrikaans op Wikipedia maar Deon Steyn sê as hy sy sin kon kry, sou die hoeveelheid artikels in die taal al veel meer gewees en vinniger verskyn het.

Steyn, ʼn inwoner van Krugersdorp, is ʼn direksielid van Wikimedia ZA en administrateur vir Afrikaanse Wikipedia. Die uitbreiding van die aanbod gehalteartikels in Afrikaans op Wikipedia is vir hom ʼn hartsaak.

“Afrikaans staan tans 80ste op die lys van die aantal artikels wat in die taal gelaai is. Daar is egter al 13 tale wat meer as ʼn miljoen artikels op die gratis aanlyn ensiklopedie het, so dit wys net watter reusagtige taak ons voorlê.”

Hy glo vas Afrikaanse Wikipedia is een van die maklikste maniere om die taal te bewaar terwyl dit help om navorsing vir veral skoolleerders toeganklik te maak.

“Die gedrukte media is wêreldwyd onder druk. Die koste om boeke te druk is enorm, om nie eers aan die skade aan die omgewing te dink met al die bome wat vir drukwerk uitgekap moet word nie. Boonop kan boeke ook deesdae nie vinnig genoeg gedruk word om by die spoed waarteen kennis groei en navorsing gedoen word, by te hou nie.

“Een van die ander groot voordele van digitale media is dat indien daar ʼn fout in die artikel opduik, dit onmiddellik reggestel kan word.”

Steyn het self vir Wikipedia artikels begin lewer toe hy niks in Afrikaans oor optiese vesel, die bedryf waarin hy gespesialiseer het, op die internet kon vind nie.

“Dit het my so drie maande geneem voordat ek my eerste artikel geplaas het want ek moes so ʼn bietjie navorsing doen om die regte terme hiervoor te kry. Ek het oorweldigende reaksie van die Wikipedia-gemeenskap gekry nadat my eerste artikel geplaas is en vandaar het die gogga my gebyt.”

Hy erken dit is deesdae ingewikkelder om artikels te skryf omdat daar soveel meer aspekte is wat skrywers by hulle artikels moet voeg, maar hy glo dit dra ook by tot die toenemende betroubaarheid van Wikipedia se artikels.

Foto: Pixabay.com

Die Afrikaanse Wikipedia bestaan al sedert Desember 2001. Enige iemand kan as ʼn gebruiker registreer om nuwe artikels vir Wikipedia te skryf of bestaande artikels uit te brei – mits jy betroubare bronne gebruik. Die Wiki-polisie – oftewel administrateurs – trek kansvatters en duimsuiers vinnig vas, sodat Wikipedia se geloofwaardigheid met elke artikel groei.

Volgens Steyn is daar ʼn skrywer wat tans hard werk om ʼn verskeidenheid van artikels oor die ruimte, sterre en plante te plaas. Nog ʼn gebruiker fokus op die sowat 2 000 Suid-Afrikaanse visspesies terwyl daar ook al 600 artikels oor bome en 200 artikels oor vegvliegtuie in Afrikaans op Wikipedia verskyn.

Afrikaanse Wikipedia is ook die plek waar die volkseie name vir diere en plante gestoor kan word. Steyn sê daar is selfs ʼn artikel waar argaïese Afrikaanse woorde uit Hollands gestoor word, wat met die ontwikkeling van die taal in onbruik verval het.

“Die grootste lekkerte van Wikipedia is sekerlik dat dit ʼn projek sonder ʼn einde is. Daar sal altyd nog iets wees om oor te skryf.”

Steyn glo as jy iewers ʼn tydjie het om af te knyp kan jy gou kyk wat is geskep en kommentaar lewer op ʼn artikel.

“Ek doen dit terwyl ek vir ʼn vlug wag en ek kyk glad nie meer televisie nie. Jy kan jou tyd baie beter bestee deur in die aande navorsing te doen en artikels te skryf. Daar is altyd genoeg tyd om gou iets op Wikipedia te doen.

“Afrikaans het in die laaste paar jaar ʼn politieke speelbal geword. Ons generasie is dit aan jonger mense en ons nageslagte verskuldig om te verseker ons taal word bewaar op enige manier moontlik. Die digitale wyse van Afrikaanse artikels op Wikipedia skep, is sekerlik een van die maklikste maniere om dit te doen,” voeg Steyn by.

wiki-afrikaans

’n Vorige opleidingsessie by Maroela Media vir gebruikers wat Afrikaanse artikels vir Wikipedia wil skryf. Foto: Maroela Media.

Maroela Media se bydrae tot Afrikaanse Wikipedia

Maroela Media is sedert 2016 aktief betrokke om te verseker dat die aantal Afrikaanse artikels op Wikipedia toeneem.

“Ons is nou besig om die Wêreldspektrum‑ensiklopedie se boekereeks op Wikipedia te laai en het al die artikels in hierdie boeke tot in die helfte van boek 17 opgesit.

“Op die wyse is 179 Afrikaanse artikels geskep en 124 artikels volledig bygewerk,” sê Elana Barker, Maroela Media se koördineerder van die Wikipedia-projek.

Maroela Media is ook daartoe verbind om die skoolleerplan van gr. 4 tot 7 met artikels vir navorsing in Afrikaans op Wikipedia te laai. Barker sê  twee medewerkers help hiermee. Hulle het reeds genoeg artikels gelaai om al die aspekte van die vak lewensvaardighede in Afrikaans te dek.

“Ons werk nou aan sosiale wetenskappe en natuurwetenskappe en tegnologie maar dit moet nog hersien word voordat dit volledig sal wees.”

Maroela Media bied ook twee kompetisies aan, waar die onderwysers en nagraadse student lekker kontantpryse kan wen as hulle teen die einde van Maart 2019 ʼn goeie bydrae tot die Afrikaanse Wikipedia gelewer het. Lees hier oor die Wiki-Onnie‑ en Wiki-Meester-kompetisies en skryf vandag nog in!

  • Lesers wat by die Afrikaanse Wikipedia-projek betrokke wil raak, kan Af.wikipedia.org besoek. Dit sal jou na die tuisblad neem wat talle skakels het wat jou sal verduidelik hoe om artikels te skep.
  • Luister ook na die podsending boaan hierdie berig. Deon Steyn het met Esté Meyer Jansen van Maroela Media uit Krugersdorp gesels oor die stand van Afrikaans op Wikipedia en verduidelik hoekom die laai van artikels in dié taal vir hom so ʼn belangrike saak is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Charles ·

Dankie, dankie, dankie Deon, JY is my HELD!!!

Doen so voort asseblief :)

PediaWiki Aardvark ·

WONDERLIK! Dink aan al die moontlikhede: Universiteits- of altans Hoër Onderwys kursusse en andere in Afrikaans beskikbaar aanlyn. En Afrikaanse Afrikana-boeke beskikbaar aanlyn. En vakterminologieboeke beskikbaar aanlyn.
Nou het ek eers reg hoop vir Afrikaans. En so kan Afrikaanssprekendes in die diaspora of werksaam oorsee, ook hul bydraes lewer ter verryking van Afrikaans.

En so kan ook ander Suid-Afrikaanse taalgroepe hul tale aanlyn help bevorder.

Dankie Wikipedia! Dankie WikiMedia ZA! Deon, dankie vir hierdie artikel.

Rentia Landman ·

Ek kan nie sonder Wikipedia nie. Die beginsel waarop Wikipedia werk is in hierdie tyd van inligtingsontploffing uitstekend. Enigeen kan inset instuur om artikels te verbeter.

Van die Afrikaanse outomatiese vertalings van Engelse artikels kort n mens se hand om dit te redigeer. Dit is n taak waarmee Afrikaanssprekendes kan help.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.