Alex glo ʼn mens moet meer doen as wat verwag word

Alex Kempen

Alex Kempen van Hoërskool Waterkloof het geskitter met A’s in Afrikaans, Engels, wiskunde, lewensoriëntering, rekeningkunde, fisiese wetenskappe, lewenswetenskappe en musiek.

Sy pa, Willem, is ʼn elektroniese ingenieur en sy ma, Janita, is ʼn geoktrooieerde rekenmeester. Hy het ʼn jonger suster, Elmé, wat vanjaar in gr. 11 is in Hoërskool Waterkloof, en ʼn jonger broer, Keaan, in gr. 5 in Laerskool Monumentpark.

Alex beplan ʼn lekker vakansie op Jeffreysbaai, Hartenbos en dan op Tergniet (tussen Kleinbrak en Grootbrak).

Indien hy sy keuring behou, begin hy vanjaar met sy eerste jaar medies aan Tukkies. Alex beplan om aan die einde van sy kursus verder te spesialiseer en een of ander soort chirurg te word. “Ek hoef darem nie nou al presies te weet watter soort nie” skerts hy.

Hierdie slimkop het in 2015 Mensa-lidmaatskap verwerf. In dieselfde jaar is hy ook genooi om deel te neem aan die Gauteng-skoleswemgala en het hy deurgedring na die nasionale rondte van die Eskom-wetenskapekspo met ʼn projek waaraan hy en ʼn vriend gewerk het.

In 2016 het hy deelgeneem aan sy skool se Belgiese uitruilprogram. Hy was ook op sy skool se leerlingraad en het in gr. 7 die Rock School- praktiese eksamen vir elektriese kitaar met meriete geslaag.

Verlede jaar is hy gekies as lid van een van die Gauteng-spanne in die wiskunde-olimpiade.

In sy vrye tyd skryf hy liedjies en speel elektriese kitaar. Hy oefen ook en lees graag artikels oor biologie en chemie. Hy vind dit geweldig interessant en geniet dit om van nuwe studies te wete te kom. Hy is ook mal oor die natuur en ek bring graag tyd buite deur.

Alex glo ʼn mens moet ander mense so gereeld en so veel help as wat jy kan. Hy glo ook

doen meer as net dit wat van jou verwag word.

Hy skryf sy prestasies toe aan harde werk, toewyding en die talente wat God aan hom gegee het.

Op die vraag wie sy grootste rolmodel is, antwoord hy só:

Ek glo nie juis aan rolmodelle nie. Ek kyk eerder op en leer iets van elke mens met wie ek in kontak kom.

Hy sê sy beste eienskap is sy empatie met mense en sy swakste eienskap is dat hy altyd alles self doen en nie graag vir hulp vra nie.

Alex sien homself as ʼn redelik ernstige en ʼn verantwoordelike mens. “Ek kry dit tog reg om van tyd tot tyd te ontspan en die mooi van die lewe in te neem,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.