Alissa wil woeker met haar talente  

Alissa Nel

Alissa Nel van Hoërskool Garsfontein het haar skoolloopbaan afgesluit met agt onderskeidings – in Afrikaans, Engels, rekeningkunde, toerisme, wiskunde, besigheidstudies, fisiese wetenskappe en lewensoriëntering.

Haar ouers, Hennie en Elmarie, is eiendomsontwikkelaars. Sy het ook ʼn ouer suster, Marizette, wat vir ʼn jaar ná matriek by ʼn eiendomsagentskap werk. Alissa sien baie uit na haar matriekbootvakansie en ʼn toer na Bali.

Sy is van plan om vanjaar BSc Aktuarieel aan Tukkies te begin studeer.

Haar hele hoërskoolloopbaan lank het sy jaarliks akademiese prestasietoekennings ontvang en sy was telkens onder die tien top-presteerders. Sy het ook deelgeneem aan atletiek, landloop en crossfit.

Sy beskou haar ma as haar rolmodel.

Sy is 50, gesond, sterk en doen saam met ons crossfit en gaan drie keer per week gimnasium toe. Sy is goedversorgd, suksesvol in haar eie onderneming, ʼn ongelooflike, positiewe, inspirerende en ondersteunende ma en ʼn mooi vrou.

Haar akademiese sukses skryf Alissa toe aan toewyding, gedrewenheid om suksesvol te wees en die voorbeeld wat haar ouers vir haar stel.

In haar vrye tyd is sy betrokke by die jeugbediening van pastoor At Boshoff.

Paulus se woorde, “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee”, rig haar lewe en haar lewensfilosofie vat sy saam as:

Harde werk word altyd beloon. Glo en vertrou jou Skepper.

Alissa beskryf haarself as hardwerkend, nederig en met ʼn positiewe uitkyk op die lewe. Sy erken ongeduld is haar swakste eienskap. Sy sien haarself as ʼn bevoorregte jong mens, met hope aangebore talente. Sy besef dit is haar verantwoordelikheid om dit te ontwikkel en tot die beste van haar vermoë te gebruik om ʼn sukses van haar lewe te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.