Alize bly getrou aan haar waardes

AlizeMet sewe onderskeidings in die sak beplan Alize Hoepfner van Hoërskool Ellisras in Lephalale om haar in die veld van die mediese wetenskappe te bekwaam.

Sy het onderskeidings in Afrikaans, Engels, wiskunde, lewensoriëntering, fisiese wetenskap, lewenswetenskap en geografie ingepalm.

Met matriek agter die rug wil Alize vanjaar haar graad in farmasie by die NWU Potchefstroom afskop.

Sy het groot bewondering vir iemand soos die Amerikaanse branderplankryer Bethany Hamilton, wat haar arm in ʼn haai-aanval verloor het. “Al het dinge vir haar onmoontlik gelyk, het sy steeds volhard en haar passie uitgeleef,” sê Alize.

Alize is mal oor sing, dans en kosmaak. Sy is ook passievol oor kuns en droom daarvan om eendag haar eie boek te skryf. Sy skryf haar akademiese sukses toe aan harde werk en dank die Hemelse Vader vir die talente en krag wat hy vir haar gegee het.

Alize was in 2015 Dux-leerling van haar skool en is bekroon met die toekenning van leerling (Rassie) van die jaar.

Sy staan sterk in haar waardes en beskryf haarself as ʼn dromer wat graag die onmoontlike wil bereik.

“Bly getrou aan jou waardes en moenie vasgevang raak in die hede nie – lewe vir die toekoms.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Annelie Wessels ·

Alize Hoepfner het ook die IEB eksamen in Gevorderde Program in Wiskunde met onderskeiding geslaag. Dus het Sy 8 onderskeidings. Hoërskool Ellisras is trots op haar en ons ander matrieks.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.