Anchen wil die lewe deur film verken

Anchen Badenhorst

Anchen Badenhorst is nog een van die slimkoppe wat met agt onderskeidings spog ná die matriekeindeksamen. Sy was ʼn leerder aan Potchefstroom Gimnasium en het presteer in Afrikaans, Engels, fisiese wetenskappe, visuele kuns, wiskunde, verbruikerstudies, lewensoriëntering en ingenieursgrafika en -ontwerp.

Haar ouers is Abrie en Bonnie en sy het ʼn ouer broer, Caspar Heinrich, wat verlede jaar in sy tweede jaar besig was met BSc Biochemie en Mikrobiologie aan die Noordwes-Universiteit.

Anchen beplan om ná ʼn lekker blaaskans tuis in Potch aan te bly en ook ʼn Puk te word. Sy beplan om BA Grafiese Ontwerp en Kommunikasiekunde te studeer.

Anchen is kreatief en het ʼn groot belangstelling in skilder-, rolprent- en ontwerpkuns. Haar grootste rolmodel is die regisseur Wes Anderson. Sy streef daarna om in só ʼn rolprentmaker van formaat se spore te volg. Sy meen sy flieks is visueel bevredigend, hy speel met kleur en simmetrie, en daar is altyd ʼn diep lewensles oor die menslike kondisie te leer, wat gepaard gaan met humor en emosie.

Tydens haar hoërskoolloopbaan het sy op vele terreine uitgeblink. Anchen was in gr. 11 die dux-leerling en was vyf na mekaar deel van haar skool se akademiese top-tien. In gr. 11 was sy die wenner in die Verbruikerstudie-olimpiade en verlede jaar was sy onder die eerste vyf. Sy het verlede jaar ook die Monique Talita Couture- matriekafskeidrok-ontwerpkompetisie gewen. In 2015 het sy Bernina se provinsiale klereontwerpkompetisie gewen en in 2016 was sy die nasionale wenner.

Verlede jaar het sy ook uitgeblink as die ATKVonk-sekretaresse en was die kategoriewenner in die Gimmies-eisteddfod. In 2013 en 2015 was sy ook kategoriewenner en in 2016 die algehele wenner.

Sy het haar skool in 2016 verteenwoordig tydens die ATTACQ JSE-jeuginisiatief, ʼn nasionale kompetisie in Johannesburg, en het ook deelgeneem aan die senior English Inter High Public Speaking- kompetisie.

Anchen het in 2013 en 2014 provinsiale kleure vir landloop ontvang. Sy is ook lief vir lees, muurbal, draf, kosmaak en sê vriendskappe en familie is vir haar kosbaar. “My geloof in en afhanklikheid van Christus Jesus ons Here kom egter eerste van alles,” sê sy.

Haar lewensfilosofie is:

Dit is goed om goed te begin, maar dit is beter om goed te eindig.

Sy dink haar  beste eienskap is vriendelikheid en haar swakste een is besluiteloosheid, want sy wil te veel goed tegelyk doen. Sy som haarself op as vriendelik, hulpvaardig en hardwerkend.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.