Bennert van Schalkwyk van Hoërskool Eldoraigne het die A’s laat inrol in Afrikaans, Engels, wiskunde, lewensoriëntering, rekeningkunde, fisiese wetenskappe, dramatiese kunste, besigheidstudies en lewenswetenskappe.
Bennert is sy ouers se enigste kind. Sy pa, Gert, is ʼn tegniese spesialis en sy ma, Huibrie, is ʼn administratiewe en finansiële beampte.
Ná ʼn vakansie by Klein Kariba en St. Lucia gaan hy BCom Rekeningkundige wetenskappe aan die Universiteit van Pretoria studeer. Hy wil hom as geoktrooieerde rekenmeester bekwaam en sy droom is om by PwC te werk.
Hierdie slimkop is lief vir musiek, lees en sang – hy speel graag kitaar en sing in sy vrye tyd. In 2015 het hy deurgedring na die Gauteng-eindstryd van die ATKV se Spelathon.
Sy grootste rolmodel is Angus Buchan. “Ek kon al baie van die lewe en geloof by hom leer,” sê hy van dié evangelis.
Bennert skryf sy akademiese sukses toe aan genade en harde werk. Hy sê hy is pligsgetrou en erken dat hy nie maklik met mense kommunikeer nie. “Ek is ʼn skaam persoon en praat min, totdat ek jou leer ken het. Ek waardeer die eenvoud in die lewe. Ek vind dit moeilik om keuses te maak.”
Sy motto is:
Wat moet gebeur, sal gebeur.
Welgedaan
Wat ‘n pragtige jongman. Laat my so dink aan Daniël van die Bybel: uitstaande op alle gebiede; standvastig en gelowig.
Veels geluk Bennert. Trots om te kan se ek ken jou persoonlik. Sterkte met die toekoms en verdere studies.