Buffelsfontein Baard-olie se Tastrap maak graadeens vry

 BAardolie-Medium.jpg

Foto verskaf deur Helpende Hand

[promosie-artikel]

Hy het nie net ʼn lang baard en is ʼn man in murg en been nie, maar hy het ook ʼn ongelooflike sagte plekkie vir kinders. Daarom het hy besluit om nie net te praat nie, maar te doen.

Meyer le Roux, van Buffelsfontein Baard-olie, gaan van 22 tot 27 November ʼn driekamp van 500 km tussen die Koppies- en Gariepdam in die Vrystaat voltooi. Hy pak hierdie uitmergelende tog, oftewel Tastrap, aan om geld vir Solidariteit Helpende Hand se Skooltassieprojek in te samel.

Sedert die ontstaan van die Skooltassieprojek in 2007, is reeds sowat 27 000 tassies aan behoeftige graadeens geskenk. Die projek vervul ʼn onmisbare rol in behoeftige graadeens se lewens, omdat hulle danksy so ʼn tassie hul skoolloopbaan op gelyke voet met hul klasmaats kan begin.

Le Roux het besluit om die Tastrap aan te durf nadat hy te hore gekom het van die Skooltassieprojek en die enorme getal Afrikaanse kinders wat by die projek baat. Vir hierdie kinders is dit nie net ʼn tassie vol skryfbehoeftes wat hulle kry nie. Dit is die eerste trappie op ʼn leer om uit die put van armoede en moedeloosheid te ontsnap.

 baardolie3-Medium.jpg

Foto verskaf deur Helpende Hand

“Ek durf hierdie moeilike tog aan om my daaraan te herinner dat daar in hierdie land kinders is wat baie swaar kry,” verduidelik Le Roux. “Hulle kry elke minuut van hul lewe baie, baie swaarder as wat ek op die Tastrap gaan kry. Daar is niemand op wie hulle kan staatmaak nie. Al is hul grootste wens net ʼn drukkie, is daar niemand om dit te gee nie. Hulle gaan slaap honger, koud en pynlik alleen. Ek gaan my fiets trap om geld in te samel vir ʼn tas vir so ʼn kindjie.”

Le Roux het reeds maande gelede begin oefen vir meer as 500 km se draf, fietsry en swem. Die driekamp gaan hom vyf dae en baie sweet kos. Vir Le Roux is daar meer op die spel as net die fiksheidsuitdaging. Vir hom gaan dit oor vryheid en geregtigheid en hy put inspirasie uit die Anglo-Boereoorlog. Hy wil die kinders bevry van armoede, want dit is die regte ding om te doen.

Meyer le Roux is die stigter van die Buffelsfontein Baard-olie-reeks wat Suid-Afrikaners sedert 2015 gaande het. Hoewel die meeste van hul produkte op baardsorg en haarsorg fokus en onder meer ʼn opknappingsolie vir baarde insluit, maak klere, pette en koffiebekers ook deel uit van hul produkte.

Hoe kan jy die Tastrapprojek ondersteun?

Ondersteun hom gerus met sy Tastrap deur die woord “Tastrap” na 39950 te SMS en skenk só R10 aan die projek. ʼn SMS kos R2. Vir meer inligting, besoek gerus die webtuiste.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.