Carla se uithouvermoë beloon haar in akademie en atletiek

Carla Kok

Carla Kok

Carla Kok van Potchefstroom Gimnasium het uitgeblink met onderskeidings in Afrikaans, Engels, wiskunde, lewenswetenskappe, fisiese wetenskappe, rekenaartoepassingstegnologie, ingenieursgrafika en -ontwerp, asook lewensoriëntering.

Carla se pa, Schalk, is ʼn predikant en haar ma, Magda, ʼn tuisteskepper. Haar ouboet Schalk studeer reeds chemiese ingenieurswese by die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit. Sy beplan om haar by hom aan te sluit met ʼn graad in bedryfsingenieurswese.

Hierdie akademiese ster het ook ʼn lang asem op die atletiekbaan. Sy dring deur tot die Suid-Afrikaanse kampioenskaptoernooi in atletiek (2013, 2016). In 2016 eindig sy sewende in die SA’s in die 3 000 m-finaal en eerste in Noordwes. Sy het ook presteer in landloop by die SA’s die afgelope twee jaar. Sy het in die Hokkie A-span gespeel (2012-2014), die Noordwes-wenner vir 2012 en 2014.

Sy het die vakansie tuis en in die Bosveld deurgebring. Sy bring graag tyd in die natuur deur en geniet dit om na voëls te kyk. In haar vrye tyd draf sy en luister na musiek.

Haar lewensfilosofie is vervat in die woorde van Rocky Balboa:

Every champion was once a contender that refused to give up.

Sy bewonder ook die atleet Zola Budd vir haar ongelooflike deursettingsvermoë wat sy ten spyte van al haar teenspoed gehandhaaf het.

Sy glo haar prestasies spruit uit haar afhanklikheid van God, harde werk en ʼn gebalanseerde lewenstyl. Sy erken perfeksionisme is haar swakste eienskap. “Ek is ʼn gemotiveerde persoon met uiters baie deursettingsvermoë. Soos enige kind wat ʼn verskil in ons samelewing wil maak, het ek groot drome en beoog om dit te bewaarheid.”

Sy sê geloofsafhanklikheid, hardwerkendheid en om net jou beste te lewer is belangrik. Dit verseker voldoening en selfverwesenliking wat ʼn mens help om doelgerig vorentoe te beweeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.