Chantal se oumas inspireer haar

Chantal Dennis

Chantal Dennis

Chantal Dennis van Hoërskool Waterkloof het onderskeidings in al agt haar vakke behaal. Sy het presteer in Afrikaans, Engels, wiskunde, fisiese wetenskappe, rekeningkunde, lewenswetenskappe, geografie en lewensoriëntering.

Chantal is die enigste dogter van Shaune, ʼn senior inkomste-analis, en Rina, ʼn bestuurstelselanalis.

Chantal het ʼn vakansiewerk by ʼn skryfbehoeftewinkel en daarna gaan sy BCom Rekeningkundige Wetenskappe studeer aan die Noordwes-Universiteit op Potchefstroom.

Sy beskryf haarself as ʼn bietjie eksentriek, ʼn regte boekwurm en ʼn natuurmens. Sy is baie lief vir kuns en handwerkprojekte en lees graag. Sy geniet ook poësie. Haar wye reeks belangstellings sluit in antieke beskawings, sterrestelsels en die natuur. Buiten akademiese erekleure het hierdie veelsydige meisie vir Gauteng-Noord hokkie gespeel en Unisa se gr. 5 in klawerbord behaal. Sy het ook koor gesing.

Chantal dank God dat hy haar toegelaat het om te presteer. Sy erken ook dit het baie harde werk en pligsgetrouheid geverg. Haar rolmodelle is haar twee oumas. Albei van hulle se deursettingsvermoë en toegewydheid aan die Here is vir haar ʼn voorbeeld.  Hulle energie, hulpvaardigheid en waardes is vir haar ʼn groot inspirasie.

Chantal sê sy sien altyd die goeie in alles. Sy erken ook dat sy soms sukkel omdat sy alles perfek en onmiddellik gedoen wil hê. Haar lewensmotto is: “Daar is altyd hoop.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.