Chanté se koppie altyd halfvol

Chante du Bruyn

Chante du Bruyn

Chanté du Bruyn, akademiese hoofdogter van die Hoërskool Kempton Park, het A’s ingepalm vir Afrikaans, Engels, wiskunde, lewensoriëntering, lewenswetenskappe, rekeningkunde, fisiese wetenskap en drama.

Chanté beskryf haarself as ʼn baie vrolike kind van God.

My koppie is altyd halfvol en my glimlag breed.  Ek is baie lief vir die mense om my en koester enigiemand sommer vinnig in my hart

Haar pa Marthinus, is ʼn IT-bestuurder en haar ma, Nettie, is ʼn private bankier. Sy het ook ʼn broer, Wessel, wat vanjaar in gr. 9 sal wees.

Na die matriekbootvaart op die MSC Simfonia, sien sy uit om in die gesondheidwetenskappe te gaan studeer. Haar huisdokter, dr. Micha Janse van Rensburg, is nie verniet haar rolmodel nie. “Sy is die toonbeeld van wie ek eendag graag wil wees van binne en buite. Dit is hoe ek eendag mense wil help.”

Sy hoop om MBChB keuring te kry en daarna te spesialiseer in pediatrie.  Sy het by al die universiteite aansoek gedoen en wag in spanning om van hulle te hoor.

Buiten akademiese prestasies het Chanté ook uitgeblink op sport- en kultuurgebied.  Sy speel netbal en het provinsiale kleure in ringbal. Sy het ook deelgeneem aan redenaars en Engelse debat. Sy skerts dat sy tot in oorlopens toe aan kunswedstryde deelgeneem het. “Ek was SA’s toe in dramatiese kunste by SATCH en het tot die beligting ook gedoen!” Sy het ook toekennings gekry by die ATKV-Tienertoneel en beskryf dit as die hoogtepunt van haar hoërskoolloopbaan.

Chanté speel graag kitaar en klavier en is mal oor haar kamera, veral in die wildtuin. Sy spandeer graag tyd saam met kinders. Sy was selfs ʼn Sondagskooljuffrou.

Hierdie selferkende “control-freak” beskou perfeksionisme as tegelyk haar beste en slegste eienskap.  Haar lewensfilosofie is dat sy haarself met haar kop moet hanteer en ander met haar hart. Sy sê sy is gedurig opsoek na motivering en selfbemagtiging. Sy leef doelgerig en haar drome is haar grootste dryfkrag. Haar raad aan hierdie jaar se matrieks is om belang te stel in die werk wat hulle studeer.  En laastens werk, werk, werk!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.