Christo glo jy moet toegewyd tot God leef

Christo Theron

Christo Theron het ʼn indrukwekkende agt onderskeidings verwerf in die afgelope matriekeindeksamen. Hierdie slimkop van Hoërskool Florida het A’s verdien vir Afrikaans, Engels, wiskunde, lewensoriëntering, fisiese wetenskappe, inligtingtegnologie, siviele tegnologie en ingenieursgrafika en -ontwerp.

Sy pa, Calvyn, is ʼn optieseveseltegnikus en sy ma, Belinda, bestuur ʼn winkel. Hy het ook ʼn ouer broer, Morné, wat ingenieurswese met ʼn IT-endossement studeer aan die Universiteit van Johannesburg (UJ).

Christo is ook op pad na UJ waar hy meganiese ingenieurswese gaan studeer. Maar eers wil hy voor die TV of skootrekenaar of in die gim of in die swembad ontspan, skerts hy.

Christo skryf sy akademiese sukses toe aan harde werk en die genade van God. Sy lewensfilosofie is:

Leef elke oomblik met God aan jou sy en streef daarna om uit elke oomblik die meeste vrede en vreugde te haal.

Hy meen dis belangrik om te prioritiseer. Op hoërskool het hy hokkie gespeel en deelgeneem aan Eskom se internasionale ekspo. Hy het vir twee jaar na mekaar die tweede plek behaal in UJ Unitronics, ʼn weerstasie-uitdaging.

Christo beskryf homself as ʼn toegewyde kind van God wat ʼn passie het vir mense en wat graag op eenvoudige maniere ʼn merk wil maak in mense se lewens. Sy grootste rolmodel is dr. Eric Thomas, ʼn motiveringspreker wat dieselfde waardes en passies uitleef met betrekking tot sy werk en geloof.

Hy is lief vir skryf en lees graag fiksie. Sy stokperdjies sluit in liggaamsbou “en baie televisie kyk”.

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Genieve ·

Baie geluk seun welgedaan jou ouers kan trots wees op jou.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.