CM sien uit na die toekoms, wil nóg spore laat

Kallie en CM Kriel

CM Kriel van Hoërskool Eldoraigne het uitgeblink met sewe onderskeidings in die matriekeindeksamen. Hy het A’s verdien vir Afrikaans, Engels, wiskunde, lewensoriëntering, fisiese wetenskappe, rekeningkunde en ekonomie.

Sy pa is Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, en sy ma, Elana, is ʼn opvoedkundige sielkundige. CM het ʼn ouer broer, Jakes, wat reeds ʼn student is aan Soltech. Hy het ook drie jonger susters, Emri, Nina en Jana, wat nog op skool is.

CM gaan eers lekker rus op Plettenbergbaai en Hartenbos en daarna aktuariële wetenskap aan Tukkies studeer.  Hy wil graag eendag as ʼn aktuaris werk. Hy droom daarvan om in die toekoms interessante vooruitskattings te kan uitwerk met behulp van wiskunde.

CM hoop om ʼn betekenisvolle lewe te leef waarin hy ʼn verskil kan maak en ook gelukkig en tevrede te wees met dit wat hy bereik het. Hy dink Elvis Blue som dit goed op in sy liedjie “Spore” wanneer hy sing: “Ek en jy is gemaak om spore te los.” Uit sy lys prestasies sien ʼn mens dat hy reeds diep spore in sy skoolloopbaan nagelaat het. CM was elke jaar onder die tien top-akademiese leerders en was in gr. 9 en 10 dux-leerling. Hy was verlede jaar hoofseun van Hoërskool Eldoraigne.

CM het homself ook op sport- en kultuurterrein uitgeleef. Hy het vir die eerstespan rugby en krieket gespeel. Hy ook deelgeneem aan die skool se kultuurkarnaval. Hy sê hy is mal oor sport en die buitelug. “My grootste droom is om eendag saam met my pa ʼn sokkerwedstryd tussen Manchester United en Manchester City op Old Trafford te gaan kyk. Ek is ʼn groot United-ondersteuner en my pa is ʼn City-ondersteuner.” Hy hou ook baie daarvan om saam met sy vriende te gaan visvang of net lekker te kuier op en plaas.

CM glo niks wat die moeite werd is, is maklik nie. Hy sê sy ouers het hom van ʼn jong ouderdom af geleer dat ʼn mens hard moet werk vir dit wat jy wil hê en dat akademie belangrik is en vir jou deure oopmaak na die toekoms. Hy is ook dankbaar dat hy in staat is om goeie punte te kon behaal en erken: “Ek besef dit is genade.” Hy glo ook doeltreffende tydbestuur is ʼn belangrike faktor as jy akademies die mas wil opkom.

Sy grootste rolmodel is Steve Jobs. Hy bewonder hom, want hy het hard gewerk en die wêreld verander, ten spyte van die moeilike omstandighede waarin hy grootgeword het. CM glo sy beste eienskap is om goed te kommunikeer en saam met mense te werk om gestelde doelwitte te bereik. Hy erken iets waarmee hy soms sukkel is om kritiek oor mense se werk uit te spreek. Hy sal dan maar eerder self inspring en die werk doen!

CM is passievol en geniet die lewe.  Hy sê:

Ten spyte van die groot uitdagings wat die situasie in die land aan ons bied, sien ek uit na die toekoms. Ek is trots op my erfenis en om ‘n Afrikaner te wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

zahn ·

Baie geluk ou grootman. Ek wens my seun kon gaan studeer het by Soltech. Ek is nou al jare ‘n ingeskrewe lid by Afriforum, maar hulle wil nie ‘n inrigting begin in die Weskaap nie. Ek kan nie bekostig om my seun so ver te stuur nie. Nou ja. Dis my storie. Voorspoed vir jou.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.