Dié Bosveldmeisie wil ʼn chemiese ingenieur word

Cara van Heerden

Cara van Heerden

Cara van Heerden van Hoërskool Ellisras is baie gelukkig met haar matriekuitslae. Sy het agt onderskeidings ingeoes in Afrikaans, Engels, wiskunde, lewensoriëntering, fisiese wetenskap, lewenswetenskap, ingenieurs grafika en -ontwerp asook rekeningkunde.

Cara het boonop vir die eerstespan hokkie gespeel, ʼn rol vertolk in die skool se musiekspel, toneel gespeel en ʼn tweede plek verower in die dorp se kunskompetisie.

Cara se ouers, Schalk en Terina, besit ʼn wildsplaas in die Ellisras-omgewing. Sy het ook ʼn broer, Dries, wat vanjaar in gr. 9 is en ʼn kleinsus, Nina, wat gr. 7 gaan aanpak.

Cara is mal oor die plaaslewe en die natuur: “Ek het grootgeword op ʼn wildsplaas en my ouers het ʼn safari-onderneming opgebou die afgelope 22 jaar. Van kleintyd af het ek belanggestel in die plaas, ek het saam bokke gaan voer, gaan stap met die honde en katte, en soms ʼn wees bokkie, en geheime plekke oral gebou.

“In my kamer is rakke vol klippe, peule en skulpe. Die natuur is waarheen ek gaan as dinge net te veel raak.”

Ek dink my voete gaan nooit die rooi skynsel verloor van elke dag kaalvoet op die rooi grond loop nie.

“Dit bly steeds my gunsteling-ding om deur die wildskampe te ry en die bokke te bekyk. Ek het ook geleer dat alles nie altyd rooskleurig is nie en dat daar baie uitdagings is soos droogtes, maar ʼn mens moet net positief bly. Aan die een kant is ek bang om die sorgvrye plaaslewe te verruil vir die studentelewe, maar ek weet my voete is vas op die aarde en dat die stof van die plaas dik deur my are vloei!”

Haar pa is haar grootste rolmodel. Sy beskryf hom as ʼn uitstekende sakeman, as ambisieus en iemand wat regtig belangstel in wat ander mense te sê het. “Hy het my geleer dat jy altyd iets het om by ander mense te leer. Ek is in die bevoorregte posisie om baie nuwe mense te ontmoet omdat my pa met buitelanders werk. My pa het my ook geleer hoe om ʼn entrepreneur te wees, huise te bou, ʼn winkel te bestuur, bokke te smous en hoe om ʼn wildsplaas te bestuur. Hy het my geïnspireer om iets te probeer maak uit myself, om mense te respekteer, om altyd probleme op te los en hoe om op my eie twee voete te staan.

Cara se stokperdjies is lees, perdry, stap en duik. Haar lewensfilosofie is om die beste te maak van elke dag en soveel van mense te leer as wat sy kan.

Cara sê haar kreatiwiteit is haar beste eienskap en iets waaraan sy moet werk, is haar ongeduld. Sy sê sy raak gou verveeld en moet gedurig geprikkel word met nuwe uitdagings en probleme.

Ná ʼn lekker matriekvakansie in die Kaap gaan sy saam met haar familie Mosambiek toe. Cara beplan om chemiese ingenieurswese te gaan studeer aan die Universiteit van Stellenbosch. Sy droom van haar eie onderneming eendag, waar sy nuwe tegnologie ontwikkel om mense te help.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.