Dié onnie maak seker sy leerlinge sien uit na elke skooldag

De-Witt-Coetzee_1.jpg

De Witt Coetzee (foto verskaf)

“Daar is tans ʼn leerling in my klas wat in haglike omstandighede woon. Albei sy ouers is alkoholiste en hy word bykans daaglik mishandel. Ek het aanvanklik magteloos gevoel, maar aan die begin van die jaar het ek besluit: Al kan ek niks aan sy omstandighede tuis doen nie, kan ek sorg dat hy by die skool gelukkig is. Met ʼn grappie of ʼn bemoedigende woord wat sy selfbeeld ʼn hupstoot gee, sorg ek dat hy daagliks met ʼn glimlag kan rondloop, en tuis iets het om na uit te sien, naamlik sy volgende skooldag.”

Só vertel De Witt Coetzee, seun van die Wes-Rand. Sy wortels lê in Randfontein, diep geanker in die harde grond van goudmyne, fabrieke, sportterreine en parkies. Hoewel hy getrou aan daardie einste wortels gebly het en vandag as onderwyser in dié gemeenskap terugploeg, het sy studies ʼn nuwe wêreld vir hom oopgemaak en dit vir hom moontlik gemaak om sy volle potensiaal te bereik.

Vir hom was die paadjie tot hier, waar hy sy onderwysskoene stewig volstaan, ook nie aldag maklik nie. Sy pa is dood en as enkelouer kon sy ma, Riana, nie vir sy studie betaal nie.

“My ma het nie permanent gewerk nie, maar het opsporings van krediteure vir verskillende prokureurs gedoen, sodat sy altyd beskikbaar vir my en my sussie Chané kon wees terwyl ons op skool was. Ek was van graad 1 af in die top-10, danksy haar ondersteuning. Dit was vir haar belangrik dat ons ʼn sukses van ons lewens sal maak en goeie werk kry, en sy het geglo dat geleerdheid die enigste manier is om dit te doen,” sê hy.

Gelukkig het De Witt gehoor dat hy deur Solidariteit Helpende Hand se studiefonds, wat deur die Virseker Trust ondersteun word, vir ʼn volledige studielening aansoek kan doen. So gesê, so gedaan. Willem se aansoek is goedgekeur en hy kon in 2013 agter die Unisa-boeke inskuif.

Hoewel hy aanvanklik teologie wou studeer, het hy besef dat God hom net so goed as onderwyser kan gebruik. Daarom het hy besluit om onderwys te swot.

Vanjaar is hy in sy derde akademiese jaar – hy het tans ʼn beheerliggaampos by die skool wat hom in staat stel om sy studies te voltooi. Chané het ook met ʼn studielening geswot en het hierdie jaar graad gevang. Sy werk nou as graad 1-juffrou by Laerskool Avanté.

Hy het dit van jongs af geniet om ander te help, vertel De Witt. “Ek het dikwels my maats met wiskunde gehelp en toe agtergekom dat ek goed kan verduidelik en dat dit vir my lekker is om ander te leer.”

Op 21-jarige ouderdom leef De Witt nou sy passie uit. Hy is lief vir sy taal en gee Afrikaans en sosiale wetenskappe aan Laerskool Modderfontein in Westonaria se graad 4-groep. As hy die geleentheid kry, wil hy in die toekoms ook taal vir ander grade aanbied. Sy meisie, Annika, swot ook onderwys en gee tans skool vir graad eentjies. Saam doen hulle hul werksopdragte saans, nadat hulle moeg maar tevrede van die skool af kom, en kry darem studieverlof in die eksamentyd.

Sy familie bly jare al in Randfontein en hy het baie goeie herinneringe van sy grootwordjare op dié dorp. “My beste herinnering is die dag toe ek as rugbykaptein van Hoërskool Riebeeckrand se eerstespan gekies is. Die meeste van my familie het ook by Riebeeckrand skool gegaan, so dit was vir my ʼn groot eer. Met my eerste wedstryd as kaptein het ek toe sommer ook die eerste drie teen ons aartsvyande gedruk. Al het ons daardie wedstryd verloor, was dit tot dusver die beste dag van my lewe!”

 De-Witt-Coetzee_1_Rugbyspannetjie.jpg

De Witt Coetzee saam met die Hoërskool Riebeeckrand se 1ste-span (foto verskaf)

Rugby is steeds sy gunsteling-tydverdryf en hy speel stut vir Westonaria se klub. Hy rig ook ʼn span by die skool af. “Rugby is my lewe en om die kinders in die klas én op die veld te sien ontwikkel beteken vir my baie. Ek werk met kinders uit ʼn baie arm gebied. Daarom is die beste deel van skoolgee vir my om te sien hoe hulle voor my oë ontwikkel, danksy die aandag en liefde wat ek vir hulle gee,” sê hy.

De Witt is positief oor die toekoms in ons land. “Ek glo daar is wel ʼn toekoms vir ons, solank ons bereid is om daarvoor te werk. My ma het my geleer dat ek bo sál uitkom as ek hard werk en in myself glo. Aan elke jong mens daarbuite – onthou kennis is mag en indien jy nie geld het om te studeer nie, kry ʼn beurs of ʼn lening deur ʼn instansie soos die Virseker Trust – maar studeer!”

  • Maroela Media en die Virseker Trust werk saam om Afrikaanse onderwys en ander Afrikaanse inisiatiewe te ondersteun. Kry ʼn verpligtingvrye Virseker-kwotasie.
  • Virseker is ʼn produk van Auto & General Versekeringsmaatskappy, ʼn gemagtigde finansiëlediensteverskaffer. B’s & V’s geld. (FDV-lisensienommer: 16354)

Wen ʼn bootreis!

Neem deel aan Maroela Media se kompetisie en staan ʼn kans om ʼn bootreis saam met Groot FM te wen. Bepalings en voorwaardes geld. Lees meer.

Oops! We could not locate your form.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.