Doelgerigte William reg vir Maties  

William Gardiner

William Gardiner van Hoërskool Ermelo het onderskeidings vir al agt sy vakke behaal in die afgelope nasionale matriekeindeksamen. Sy vakke was Afrikaans, Engels, lewenswetenskappe, rekeningkunde, wiskunde, lewensoriëntering, fisiese wetenskappe en geskiedenis.

William het op ʼn plaas grootgeword. Sy pa, Michael, boer en sy ma, Ilze, is ʼn Playball-eienaar.  Sy ouer broer, Michael, studeer ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch en dit is in dié broer se voetspore waarin William wil volg.

Ná ʼn ruskansie op die plaas en ʼn kuier in Mosambiek beoog hy om homself ook as ingenieur te bekwaam.

William het provinsiale hokkie gespeel en was die spankaptein, en sy tennis- en krieketspan was ligawenners.

Hy was tweede op sy skool se akademiese top-tien en hy beskryf homself as ʼn hardwerkende man met sy oë gefokus op die eindpunt. Hy meen hy is doelgerig en realisties. Sy swakpunt is dat hy te min omgee.

William is lief vir boer, jag en visvang en enigiets in die natuur. Sy lewensfilosofie is: “Goeie mense gaan nie hemel toe nie, dit is gelowiges wat gaan,” en ʼn mens hoor hom dikwels sê: “Dis als in jou kop.”

Hy glo hy het uitgeblink as gevolg van sy harde werk. Hy sê sy pa inspireer hom en is sy rolmodel – ʼn voorbeeld van ʼn ware man in elke opsig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.