Elizabeth Labuschagne van Hoërskool Paarl Gimnasium het agt onderskeidings ingepalm in matriek – in Afrikaans, Engels, wiskunde, fisiese wetenskappe, lewenswetenskappe, lewensoriëntering, ingenieursgrafika en ontwerp asook Frans.
Elizabeth gaan medies studeer aan die Universiteit van Stellenbosch.
Sy skryf haar akademiese sukses toe aan die liefde en ondersteuning van haar ouers. “Hulle moedig my al van kleins af aan. Ek sou my akademiese drome nooit kon bereik sonder hulle nie.” Dis haar ma, Sonja, wat haar grootste rolmodel is: “Sy is uiters talentvol, veelsydig en het ʼn hart van goud. As ek soos sy is as ek ouer word, sal ek baie gelukkig wees.”
Elizabeth was verledejaar hoofdogter, redaktrise van die skoolkoerant (Die Sollie) en is sedert gr. 8 ʼn VLR-leier by haar skool. Sy geniet kookkuns, rolskaatsry en speel graag viool.
Elizabeth glo nietemin in ʼn goed gebalanseerde lewe.
“Ek is op my gelukkigste tussen familie en vriende, met branders wat breek in die agtergrond.”