[Video] Buitebioskoop 2017: Afrikaners is plesierig – en dan fliek hulle só

Maroela Media en attooh! se Buitebioskoop (Foto: Maroela Media)

ʼn Warm lenteson het Saterdag skaars oor die Botaniese Tuin in Pretoria gesak of meer as 1 000 fliekvlooie het reeds hul piekniekkomberse oopgegooi om Afrikaanse musiek en flieks behóórlik in die buitelug te vier.

Maroela Media en attooh! se derde buitebioskoop het die inryteater vanjaar weer in sy volle glorie laat herleef en was die afgelope naweek vir ʼn derde agtereenvolgende jaar ʼn dawerende sukses.

Selfs die hitte – ongeken vir vroeglente – het fliekgangers nié gekeer om reeds vanaf 14:00 by die hekke in te stroom om sodoende te verseker dat hulle die beste lêplek onder die sterre sou hê nie.

Die skare is onder meer vermaak deur vanjaar se gashere, Nadia Beukes en Pierre Breytenbach, en ook musiek van die Afrikaanse musiekgroep Kaleidoskoop. Dié groep het die groot skare vermaak met musiek van hul jongste album, Gunsteling seisoen, én ook hul eie weergawes van bekende liedjies gesing.

Die fliekgangers het vanjaar weer tot net voor 00:00 saam met Maroela Media en attooh! gekuier. Die Afrikaanse animasieprent Khumba het reeds om 18:00 afgeskop en is gevolg deur Nul is nie niks nie, ʼn verwerking van Jaco Jacobs se boek Oor ’n motorfiets, ’n zombiefliek en lang getalle wat deur elf gedeel kan word, en uiteindelik Die Rebellie van Lafras Verwey wat ná 00:00 die aand afgesluit het.

Annelize Brits, Maroela Media se projekbestuurder, sê die jaarlikse buitebioskoop het een van dié organisasie se vlagskipprojekte geword wat die Afrikaanse rolprentbedryf ondersteun.

Maroela Media en attooh! Buitebioskoop (Foto: Maroela Media)

“Dit is ʼn geleentheid vir ons om Afrikaans te vier en om Maroela Media se getroue ondersteuners van aangesig tot aangesig te ontmoet om dankie te sê. Die rolprente wat vanjaar vertoon was, het werklik gesorg vir ʼn rustige atmosfeer waar families en vriende kon ontspan en die kinders kon speel. Dié projek gee vir ons ʼn geleentheid om die nostalgie van die inryteater te laat herleef terwyl Maroela Media-gemeenskap ʼn geleentheid kry om sommer net saam met ons pret te hê,” vertel Brits.

Sy sê ondanks die ekonomie wat erg aan die meeste Suid-Afrikaners se sakke ruk, was dié jaar se buitebioskoop nes vorige jare ʼn groot sukses. “Meer as 1 000 mense het weer vanjaar saam met ons by die Botaniese Tuin kom kuier – dít ten spyte daarvan dat mense afskaal met geleenthede soos dié. Ons is dankbaar om dit ʼn sukses te noem.”

Maroela Media het tydens die geleentheid ʼn groot gees van die rolprentbedryf vereer. Die legendariese filmmaker Koos Roets het ʼn toekenning ontvang vir die diep en blywende spore wat hy in die Suid-Afrikaanse filmbedryf getrap het. Die toekenning is Saterdagaand deur Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media, en Wouter Snyman van attooh! aan Roets oorhandig.

Maroela Media en attooh! se Buitebioskoop (Foto: Maroela Media)

Maroela Media het ook ʼn toekenning aan Burger Meyer oorhandig as ʼn uitstaande nuweling tot die filmbedryf. Meyer is ʼn oudkollega van Maroela Media en het vanjaar sy buiging by die Silwerskermfees gemaak toe ʼn kortfilm, waarvan hy die draaiboek behartig het, vertoon is.

Brits sê dit is suksesstories soos dié wat verseker dat Afrikaans sal bly voortleef – veral in geleenthede soos die buitebioskoop.

“Dit is wonderlik dat Afrikaans op só ʼn groot skaal ondersteun word, en ons beplan beslis om dié projek ʼn jaarlikse instelling te maak. Ons sien uit daarna om weer saam te kuier in 2018.”

Lees meer oor die buitebioskoop op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Alet ·

Hallo Maroela Media.Vandag wil ek vir julle net n baie dankie se ek lees so baie negatiewe berigte op social media van ander Medias wat n mens laat wonder.Met julle lees ek net positiewe inligting en die waarheid en ASB hou so aan. ☺

Jaco ·

Baie dankie aan Maroela Media en julle mede borge. Dit was ‘n fantastiese aand gewees met vermaak en films uit die boonste rakke. Dankie aan die Vader die wonderlike weer wat Hy ons ook gegee het.
Kan ek solank my kaartjies vir volgende jaar bespreek?

CK ·

Dis so jammer ek mis dit want ek bly so ver. Briljant Maroela Media

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.