Germari wil hê oefening moet vir mense lekker wees

Germari Bos

Germari Bos

Germari Bos van die Hoërskool Centurion het agt onderskeidings behaal in die 2016-matriekeindeksamen. Haar vakke was Afrikaans, Engels, wiskunde, lewensoriëntering, inligtingstegnologie, lewenswetenskappe, fisiese wetenskappe en rekeningkunde.

Haar pa, Pieter, is ʼn netwerk ingenieur en haar ma Marietjie is ʼn onderwyser en uitvoerende beampte van die Centurion-kunstefees. Sy het ook ʼn jonger suster, Erika, wat verlede jaar in graad 10 in die Hoërskool Centurion was.

Germari beplan om vir ʼn week saam met ʼn paar vriende in haar huis te bly en elke dag iets in of om Pretoria gaan doen of sien waarvoor hulle nog nooit kans gehad het nie. Hulle gaan onder meer ʼn klomp museums besoek, piekniek hou by die botaniese tuine en die Unie-gebou bekyk en Starbucks-koffie drink in die Mall of Africa. Daarna gaan sy saam met haar ouers, sussie en haar pa se familie in Mosambiek kamp vir ʼn laaste familievakansie terwyl sy nog in die huis is.

Daarna verhuis sy na die NWU se Potchefstroomkampus om BSc Menslike Bewegingskunde te studeer en sy hoop om haar honneurs in biokinetika te doen.

Haar 20 jaar plan is om ʼn biokinetikasentrum op te rig met virtuele realiteit –apparaat en -oefenspeletjies sodat dit vir mense en veral kinders, lekker is om te oefen en rehabilitasie nie ʼn straf is nie. Sy wil dan die wins gebruik om ʼn gimnastiekklub te begin vir kinders wat nie hierdie duur sport kan bekostig nie om hulle ʼn geleentheid te gee om te probeer. Hierdie idee het posgevat toe sy gesien het hoe Simone Biles die goue medalje by die Olimpiese Spele verower het. Biles se  kinderjare was nie baie lekker nie, met ouers wat dwelmgebruikers was en wat nie behoorlik vir hul kinders kon sorg nie. Iemand het vir haar die geleentheid gegee om te probeer en dit het van haar ʼn Olimpiese gimnas gemaak. “Ek wil graag vir ander kinders hierdie geleentheid bied,” vertel dié ambisieuse leerder.

Germari het, buiten akademiese toewyding, ook haar veelsydigheid bewys deur haar deelname aan ʼn verskeidenheid buitemuurse aktiwiteite.  Sy sê: “ek was nie ʼn uitblinker in alles nie, dit was net vir my lekker.” Sy het 2 jaar vir die A-span en 2 jaar vir die tweede span hokkie gespeel, 2 jaar vir die eerste tennisspan en sy was vir 5 jaar lank lid van die interhoërspan vir hoogspring en die 400m hekkies. In gimnastiek het sy die Gauteng-Noord-span gehaal om aan die SA’s deel te neem.

Sy het ook redenaars en debat gedoen en onder die top 10 in die ATKV-redenaars geëindig. Verder het sy deelgenaam aan revue en olimpiades, waarin sy nou en dan die tweede rondtes gehaal het. Sy het gesing by kunstefeeste met sang en gedien as onderhoofdogter.

Die hoogtepunt van haar skoolloopbaan was toe sy toekenning as die Dux-leerder ontvang het. In Hoërskool Centurion  beteken dit om te presteer op alle gebiede, van leierskap, kultuur en sport tot akademie. Sy sê “dit is vir my ʼn groot voorreg om so ʼn groot toekenning te ontvang vir iets wat ek net doen omdat dit lekker is. Ek het deelgeneem en probeer.”

Germari is lief vir lees, gedigte skryf en hekel.  Sy speel ook kitaar en skryf self liedjies. Haar lewensfilosofie is: “As jy nie probeer nie, sal jy nooit weet of jy kan nie.” Sy sê ook “Die wil om hard te werk en my talent te gebruik kom beslis van die Here af.  Verder gebruik Hy my ouers, my vriende en my hele familie om my te motiveer en trots te wees op my, ongeag watter sukses ek behaal, solank ek my beste gegee het.”

Sy erken ook as dit nie was vir medeleerling Martin Prinsloo (haar akademiese kompetisie van graad 8 af ) nie, het sy heel waarskynlik nie so hard bly leer nie! Sy sê hy het gesorg vir gesonde kompetisie, ʼn goeie en intelligente vriendskap en ʼn doel om voor te werk.

Haar ouers is haar rolmodelle. Hul toewyding en betrokkenheid in my en my sussie se lewens is ʼn toonbeeld van goeie ouerskap.

As jou ouers kliphard langs die veld skree en aanmoedig terwyl jy die 100m verloor, dan weet jy presies hoe lief hulle jou het.

Sy sê sy sal graag eendag so ʼn ouer wil wees.

Sy beskryf haarself as entoesiasties, hardwerkend en doelgerig. “Ek hou daarvan om nuwe dinge aan te pak en om elke dag iets nuut te leer. Ek is lief vir mense en veral my familie en ek wil graag ʼn verskil maak oral waar ek gaan.”

Lees berigte oor ander toppresteerders hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.