Glas altyd half vol vir Daniel

Swarts Daniel

Daniel Swarts van Pietersburg Hoërskool is een van 2017 se top-matrikulante wat spog met agt onderskeidings. Hy het dié prestasie behaal in Afrikaans, Engels, rekeningkunde, wiskunde, ekonomie, fisiese wetenskappe, lewenswetenskappe en lewensoriëntering.

Sy pa, Niel, is ʼn ingenieur en sy ma, Ilze, is ʼn dosent. Sy jonger sussie, Leana, was verlede jaar in gr. 8.

Daniel gaan sy vakansie op hul plaas in die Bosveld deurbring en daarna gaan hy sy droom volg deur veeartsenykunde aan die Universiteit van Pretoria te studeer. Sy groot liefde is die veld en hy hou van jag.

Daniel sê sy pa is sy rolmodel: “Hy staan my by deur dik en dun. Ek wil ook eendag só ʼn pa wees,” erken hy.

Hy was onderhoofseun en het uitgeblink in hokkie. Hy was kaptein van die skool se eerste span en ook kaptein van die o. 18 Limpopo-span.

Hy skryf sy prestasies toe aan die feit dat hy oplet in die klas, vrae vra en goeie beplanning gedoen het. Sy beste eienskap is juis dat hy ʼn goeie beplanner is en oor sy slegste eienskap skerts hy dat hy dit haat om onderbreek te word.

Daniel beskryf homself as ʼn positiewe mens en erken dat hy nooit die spreekwoordelike glas half leeg sien nie. Sy gunsteling-aanhaling is:

Today I will do what others won’t, so tomorrow I can do what others can’t.

 

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.