Gʼn projek té groot, té onmoontlik vir Anika

Anika Lindeque

Anika Lindeque van Hoërskool Centurion het onderskeidings verwerf in al agt haar vakke in die afgelope matriekeindeksamen. Haar vakkeuse was Afrikaans, Engels, wiskunde, lewensoriëntering, lewenswetenskappe, fisiese wetenskappe, rekeningkunde en besigheidstudies.

Haar pa, Lehman is ʼn geograaf en haar ma, Elize, is ʼn finansiële bestuurder.

Anika beplan om veeartsenykunde aan die Universiteit van Pretoria (Onderstepoort) te gaan studeer.

Sy was verlede jaar hoofmeisie en VLR-president. Op akademiese gebied was sy die afgelope vyf jaar eerste in die akademiese span en verlede jaar die dux-leerder van haar skool. Sy het erekleure vir akademie gekry, vir leierskap sowel as vir sport. Sy was vir die afgelope vyf jaar lid van die eerste span sagtebal, die eerste span tennis asook die interhoër atletiekspan.  Sy het in landloop verlede jaar die Gauteng-Noord-span gehaal en was ook ʼn direkteurstrofeefinalis.

Boonop het sy erekleure vir revue verwerf.

Anika se lewensfilosofie is:

Look up, get up, never give up.

Sy skryf haar akademiese sukses toe aan harde werk, uithouvermoë en die talente waarmee haar hemelse Vader haar geseën het.

Op die vraag wie haar grootste rolmodel is, het sy sommer ʼn hele lys mense.  Eerstens haar oupa, Mike Lindeque. “Hy deel my liefde vir die natuur en Soduko-uitdagings vandat ek kan onthou,” sê sy. Van haar ma het sy geleer wat uithouvermoë en harde werk beteken, en van haar pa sê sy: “Hy weet hoe om my te motiveer en aan te moedig.”

Sy sonder ook haar onderwysers uit: “Deur my hele skoolloopbaan is ek altyd aangemoedig met goue sterre en aanprysings wat my daagliks steeds hoër gedryf het.”

Anika erken dat sy hou van kompetisie, maar dat sy soms ongeduldig kan wees. Sy sê sy is iemand wat voluit lewe en groot droom. “Wanneer ek besef ander mense beskou my drome of projekte as te groot en te onmoontlik, motiveer dit my des te meer om ʼn sukses daarvan te maak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.