Hoofseun palm 9 A’s in

Hans-Peter Fechter

Hans-Peter Fechter van Hoёrskool Menlopark skitter met nie minder nie as nege onderskeidings. Hy het uitgeblink in Afrikaans, Engels, wiskunde, lewensoriëntering, fisiese wetenskap, rekeningkunde, ingenieursgrafika en -ontwerp, Duits en geskiedenis.

Sy ouers, Harald en Hannaliza, is onderskeidelik ʼn logistieke bestuurder en ʼn onderwyseres. Hy het ʼn broer en suster wat reeds op universiteit is: Ludwig was laasjaar  ʼn vierdejaar mediese student en Petrone was in haar derdejaar besig met bedryfsingenieurswese.

Ná ʼn lekker vakansie in die Plettenbergbaai-omgewing gaan Hans-Peter BCom Rek studeer aan Tukkies. Hy het reeds plek in Mopanie gekry.

Dié veelsydige hoofseun was ook redakteur van die skoolkoerant, beheerliggaamsverteenwoordiger, akademiese top-presteerder van gr. 4 tot gr. 11 en lid van die eerstespan hokkie wat verlede jaar as Noordvaal-wenners aangewys. Hy het leiding geneem as onderkaptein van die Gauteng-Noord-hokkiespan en as kaptein van die C-swemspan. Hy beskou sy leierskapvaardighede as een van sy beste eienskappe. Hy het ook sy staal op die atletiekbaan gewys.

Hans-Peter is musikaal, was lid van die skoolkoor en baie trots om deel te kon wees van ʼn koor wat deelgeneem het aan ATKV-koorkompetisies en wat gereeld aangewys is as die beste gemengde koor in die land. Die koor het ook deelgeneem aan internasionale koorkompetisies waar hulle in Rusland op die wêreldkoorbyeenkoms silwer verower het. Hy was sameroeper van die serrie-groep met die naam Die kruisband revolusie en lid van ʼn orkes. Hy skryf graag gedigte en komponeer sy eie liedjies. Hy sing nie net nie, maar speek ook kitaar en ukelele.

Hans-Peter skerts dat hy ook ’n kranige bywoner van dinees is. “As iemand ʼn metgesel nodig het vir ʼn dinee is ek die man – ek hou van dans!” Sy lewensfilosofie is nie verniet “gaan groot of gaan dood” nie!

Hy beskou geduld as een van sy grootste tekortkominge.

Hy sê dit was ʼn groot voorreg en uitdaging om hoofleier te wees van ʼn skool soos Menlopark. Hy het elke dag nuwe dinge geleer en moes hol om by alles uit te kom, veral met die ekstra vakke en al sy buitemuurse aktiwiteite.

Hy skryf sy akademiese sukses toe aan harde werk, toewyding en fokus. Nietemin meen hy “daar is dalk iets in die gene ook”. “My broer en suster het ook regtig hard gewerk en goed presteer.”

Hans-Peter beskryf homself as mededingend en gemotiveerd om altyd sy beste lewer om ʼn doelwit of prestasie te bereik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.