Isabella wil die wêreld ʼn beter plek maak   

Isabella Du Plessis

Isabella du Plessis het ʼn indrukwekkende agt onderskeidings losgeslaan in haar matriekeindeksamen. Hierdie onderhoofmeisie van Hoërskool Menlopark het presteer in Afrikaans, wiskunde, Engels, fisiese wetenskappe, lewenswetenskappe, visuele kuns, lewensoriëntering en musiek.

Haar ouers, Wikus en Anoek, is onderskeidelik ʼn IT-bestuurder en ʼn grafiese ontwerper. Haar ousus, Letchen, studeer reeds BCom Rek op Potchefstroom.

Isabella beplan om ʼn mediese dokter te word en sy het reeds keuring by Wits, Tukkies, UK en Stellenbosch gekry. Sy oorweeg nog waarheen om te gaan, maar “dink die Kaap klink aanloklik”.

Isbella was een van haar skool se 20 akademiese top-presteerders. Sy is lief vir kuns, lees en die natuur. Sy glo ʼn mens moet só lewe dat jy die wêreld verander en ’n beter plek maak vir ander mense. Hoewel sy geneig is om alles te wil oordink, meen sy tog dat ʼn mens jouself nie te ernstig moet neem nie. Sy beskryf haarself as ʼn vrolike mens wat aan soveel as moontlik aktiwiteite wil deelneem.

Sy het op laerskool al aan netbal, atletiek, swem en musiek deelgeneem. Die Noord-Gauteng-netbalspan waarvan sy kaptein was, het verlede jaar die SA Kampioenskap gewen en is as die beste span in Suid-Afrika gekroon. Sy het ook deelgeneem aan atletiek – as atleet én as hoofdirigent. Sy vertel hoe sy aan die begin van verlede jaar moes rondhardloop tussen dié twee rolle.

Tussen al die bedrywigheid deur het sy boonop ʼn gemiddel van 88% behaal. Sy het baie geleer uit haar leierskapsposisies en moes in baie gevalle leiding neem. Sy het die matrieks van 2017 se skooldagboek ontwerp en heelwat tyd bestee aan kuns, wat een van haar vakke was. Sy het ook verlede jaar die gr. 8-musiekeksamen afgelê.

Sy skryf haar akademiese sukses toe aan haar vermoë om prioriteite te kan bepaal.

Haar grootste rolmodel is ʼn vriendin van haar wat verlede jaar baie swaar gekry het. Wat Isabella beïndruk het, is hoe die vriendin altyd positief bly, maak nie saak wat gebeur nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.