Jana is ʼn plattelandse meisie met groot drome

Jana Grobbelaar

Jana Grobbelaar

Hierdie slimkop van Vryheid in KwaZulu-Natal het onderskeidings in nie minder nie as agt vakke behaal. Jana Grobbelaar van die Hoërskool Pionier het A’s in Afrikaans, Engels, wiskunde, fisiese wetenskap, lewenswetenskap, geografie, toerisme en lewensoriëntering verwerf.

Haar planne is agtermekaar om BSc Menslike Fisiologie, Genetika en Sielkunde aan die Universiteit van Pretoria te gaan studeer. Sy wil graag haar meestersgraad in kliniese sielkunde voltooi en as sielkundige praktiseer.

Jana is die enigste dogter van Martin, ʼn bankbestuurder, en Annelie, ʼn onderwyseres. Sy glo haar sukses is te danke aan genade van bo, toegewydheid en ʼn goeie geheue. Sy beskryf haarself as ʼn plattelandse meisie met groot drome wat hard werk om haar doelwitte te bereik. Sy gee altyd haar beste in alles en glo daarin om terug te gee.

My grootste wens is om ʼn positiewe verskil in mense se lewens te maak. Ek wil die lewe ten volle te geniet en net genoeg hê om gelukkig te wees.

Sy sê haar beste eienskap is dat sy nie bevooroordeeld is nie en alle mense dieselfde behandel. Oor haar swakpunte is sy ook baie eerlik: “Ek kan gou kwaad word.” Jana voel nie dit is nodig om ʼn rolmodel te hê nie. “Ek glo jy moet slegs volgens jou eie waardes leef en die enigste persoon op wie jy moet verbeter, is die persoon wat jy gister was. Haar lewensfilosofie is: “Work for a cause, not applause. Live to express, not impress. Don’t strive to make your presence known, but make your absence felt.”

Jana is lief vir lees, verhale skryf, natuurlewe en reis. Sy was sesde in die land gekeur vir deelname aan Freundeskreis Südafrika (FSA), ʼn organisasie wat ʼn uitruilprogram tussen hoërskoolleerders van Duitsland en Suid-Afrika koördineer. Deelnemers word gekeur vir deelname en kan vir ʼn maand of drie by ʼn gas gesin oorbly in die somer- of wintervakansie.

Jana het ook deurgedring tot die nasionale eindronde in die ATKV Redenaarskompetisie en sy en ʼn spanmaat was die wenners in die eindronde van EG Jansen Redenaars. Nog ʼn prestasie waarop sy trots is, is dat een van haar skryfstukke in die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se publikasie, Die Poort, gepubliseer is.

Jana beplan om vrywilligerswerk te doen na ʼn lekker kampeer vakansie in die Krugerwildtuin. Sy het aansoek gedoen by verskeie rehabilitasiesentrums vir diere, waar sy vir ʼn paar weke sal help.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.