Jani glo alles gebeur soos dit moet gebeur

Jani Struwig

Jani Struwig van Hoërskool Menlopark spog ook met agt onderskeidings ná afloop van die 2017-matriekeindeksamen. Sy het A’s verwerf vir Afrikaans, Engels, wiskunde, fisiese wetenskap, lewenswetenskap, geografie, rekeningkunde en lewensoriëntering.

Jani se pa, Johan, is ʼn adjunkhoof en haar ma, Jarѐ, is ʼn navorser. Sy het ʼn suster, Carien, wat BCom Rek aan Tukkies studeer en wat Jani se grootste rolmodel is.

Ná ʼn welverdiende blaaskans wil Jani vanjaar medies gaan studeer. “Ek droom al van kleins af daarvan om ʼn dokter te word en ek het in gr. 11 ernstig daaraan begin werk om hierdie droom te verwesenlik,” sê sy. “My gesin ondersteun my in alles wat ek aanpak en ek is opgewonde oor die toekoms, al is daar nog baie onsekerhede.”

Sy is reeds besig met gemeenskapsdiens by die Montana-hospitaal en werk deeltyds in apteke. Sy was ook deel van die Jive-raad by Menlopark wat gemeenskapswerk doen.

Jani was in gr. 11 een van die tien top-presteerders in die skool en top-presteerder in biologie. Sy het ook vier jaar lank drama gedoen en hokkie vir die tweedespan gespeel. Sy was ʼn paar jaar lank hokkiekaptein en het verlede jaar op die matriekraad gedien.

Jani se lewensfilosofie is om altyd ʼn mens se beste te doen positief te bly. “Dit wat moet gebeur sal gebeur,” hou sy vol.

Wees net altyd vriendelik, eensgesind en bring jou kant.

Sy skryf haar akademiese sukses toe aan harde werk asook die motivering en ondersteuning van haar ouers. Sy meen dis belangrik om doelwitte vir jouself te stel.

Sy is geesdriftig, streef daarna om ander mense te help en sal altyd probeer om die positiewe kant van ʼn situasie te sien. Sy sê sy is nogal ongeduldig, hoewel vriendelikheid haar beste eienskap is.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.