Juan wil motors ontwerp

Juan van Staden

Juan van Staden van Hoërskool Garsfontein sluit sy skoolloopbaan af met ʼn netjiese agt onderskeidings. Sy vakkeuse was Afrikaans, Engels, wiskunde, rekeningkunde, lewenswetenskappe, fisiese wetenskappe, ingenieursgrafika en -ontwerp en lewensoriëntering.

Sy ma, Suzette, is ʼn onderwyseres en sy pa, Willie, ʼn sagtewareprojekbestuurder. Sy jonger broer, André, was verlede jaar in gr. 9.

Juan is ʼn kranige tennisspeler en beplan om eendag professioneel tennis te speel.

Hy gaan die vakansie tuis deurbring voordat hy meganiese ingenieurswese aan Tukkies gaan studeer. Sy oogmerk is om motors te ontwerp en te ontwikkel. Hy hou daarvan om nuwe dinge te ontdek en uit te dink.

Niki Lauda is een van die mense wat hy die meeste bewonder. Lauda het ná sy tragiese ongeluk tydens die Duitse Grand Prix nooit moed opgegee nie en het teruggekeer om nóg twee keer die Formule 1-wêreldkampioen te word. Sy invloed en insig help tans Mercedes se Formule 1-span om bo-aan die ranglys te bly.

In die rekordeksamen het Juan ʼn gemiddeld van 90% behaal. Hy het ook ʼn derde plek behaal in Mintek se landswye MinQuiz, ʼn algemene kennis- kompetisie wat wiskunde sowel as wetenskap insluit.

Juan het verlede jaar tweede span hokkie gespeel vir sy skool en was kaptein van die noodhulpspan.

Hy verwyl graag tyd met Rubik se kubus en lees.

Sy akademiese sukses skryf hy toe aan baie ure se leerwerk en die Here se genade.

Hy is baie toegewyd en erken dat hy sê wat hy dink. Dit is iets wat hy as ʼn minder goeie eienskap bestempel. Nietemin, glo hy, “is daar altyd iets om oor te lag”.

Sy waardes grond hy in sy geloof. Sy leuse is:

Work hard in silence and let your success make the noise.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.