Leandi is op pad Duitsland toe

Leandi Venter

Leandi Venter

Leandi Venter se lewensfilosofie – om te blom waar jy geplant is – som haar baie goed op. Hierdie Vrystaatse slimkop het agt onderskeidings verwerf in die matriekeindeksamen. Leandi maak die Hoërskool Witteberg in Bethlehem trots met A’s vir Afrikaans, Engels, Duits, wiskunde, fisiese wetenskappe, lewenswetenskappe, visuele kuns en lewensoriëntering.

Leandi se ouers is Izak, ʼn siviele kontrakteur, en Annelie, ʼn huisvrou. Sy het ʼn broer en suster wat reeds op Kovsies studeer. Ike is besig met BA en Jeanette studeer LLB.

Leandi sluit haar matriekjaar af met ʼn Bethlehem-Afrika-uitreik na sewe lande. Daarna gaan sy Duitsland toe vir verdere studie. Sy wil die eerste jaar in tale studeer en daarna medies in die stad Heidelberg. Sy was ook ʼn uitruilstudent na die land.

Leandi se prestasies strek ook wyer as net in die klaskamer. Leandi was onderhoofmeisie. Haar debatspan in 2013 eindig vierde by die ATKV nasionale kompetisie. Sy eindig vierde in die De Beers English Olimpiad. In 2014 speel sy vir Noord-Vrystaat hokkie o.14. Verder speel sy ook vir haar skool se eerste span hokkie en sy neem deel aan atletiek, koor, debat en redenaarskuns.

Leandi se stokperdjies is sport, musiek, klavier, perdry en kuns.

Leandi sê haar goeie uitslae kan net toegeskryf word aan God en al die mense wat Hy in haar lewe en skool gesit het. In die besonder – baie goeie onderwysers.

Leandi stel baie belang in lugvaart. Haar rolmodel is daarom ook, baie gepas, ʼn vlieënier. Douglas Baker het albei bene in die Tweede Wêreldoorlog verloor, maar nooit moed opgegee nie. Hy het net altyd optimisties gebly ten spyte van sy groot verlies.

Sy beskryf haar beste eienskap as haar gewilligheid om enigiemand te help. In dieselfde asem erken sy haar swakste eienskap is dat sy nie altyd weet hoe om nee te sê nie. Sy is ʼn optimis, maar nie naïef nie. Sy sê sy is vriendelik en vrolik, maar nie ʼn uitspattige ekstrovert nie.

Sy is ook baie familievas en gewortel in haar geloof en waardes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Lienkie ·

Baie geluk blommetjie, en sterkte met jou loopbaan vorentoe ..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.