Luister: Wees deel van die nuwe #JouStorie-radiodrama

Bettie-Kemp.jpg

Bettie Kemp in aksie tydens die Klankgolf -radioseminaar. (foto: Maroela Media)

Radiodramas is eie aan ons radiokultuur – met karakters wat jy herken en ervaringe wat jy dalk al beleef het. Nou kan jy saam kom skryf aan ʼn splinternuwe radiodrama, #JouStorie.

#JouStorie is ʼn realiteitsradiodrama waar Maroela Media en verskeie gemeenskapsradiostasies handevat om ʼn unieke Afrikaanse radiodrama te skep – uit die gemeenskap, deur die gemeenskap, vir die gemeenskap.

“Dis nou die luisteraars se storie,” vertel Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media. “Hulle gaan op allerhande interessante en prettige maniere betrokke wees by die skep van die storie, die skep van karakters en nog klomp ander goed. Dit word regtig jóú storie, waarvan jy eienaarskap neem en waar jy betrokke is van begin tot einde.”

Maroela Media vervaardig al jare lank radiodramas wat gratis aan gemeenskapsradiostasies landswyd beskikbaar gemaak word vir uitsending saam met die ervare en talentvolle Bettie Kemp, bekende radio- en televisiepersoonlikheid. “Ons wil graag hoor wat wil die mense hoor,” verduidelik sy. “Watter karakters wil hulle daar sien? Dikwels is dit karakters uit die gemeenskap self – mense wat hulle ken, wat ons dan so bietjie verander net sodat ouens darem nie hulself sal herken op die lug nie!”

Dit is ʼn eerste in die radiogemeenskap: ʼn projek waar gemeenskapsradiostasies saam poog om die nostalgie van radiodramas te laat voortleef.

Susan en Bettie vertel jou in dié klankgreep presies hoe jy betrokke kan raak by hierdie opwindende projek. Sluit ook aan by die Facebook-blad en besoek die webwerf joustorie.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.