Luré Viljoen van Hoërskool Paarl Gimnasium in die Wes-Kaap het agt onderskeidings ingepalm in matriek: Afrikaans, Engels, wiskunde, lewensoriëntering, rekeningkunde, ingenieursgrafika en ontwerp, besigheidstudies en rekenaartoepassingstegnologie.
Luré gaan vanjaar BCom bestuurswetenskap studeer aan die Universiteit van Stellenbosch en droom daarvan om eendag haar eie sakeonderneming te hê.
Sy skryf haar akademiese sukses toe aan deeglike voorbereiding.
Haar ma, Betsie, is haar rolmodel en is volgens Luré die sterkste, hardwerkendste vrou wat sy ken.
“My ma lewe elke dag voluit, gee nooit moed op nie en ondersteun my in alles wat ek doen.”
Luré heg waarde aan vriendskap en glo dat jou vriendelikheid goedkoop moet wees, maar jou vriendskap duur.
Sy het aan verskeie sportsoorte deelgeneem insluitende swem, netbal en atletiek en was ʼn tweedespan-netbalspeler vir haar skool. Sy geniet dit om te draf, te kuier met vriende asook om na musiek te luister.