Matrieks 2018: Dié Bloemfonteiners presteer goed

Eunice High School in Bloemfontein se groep matrieks het besonder goed presteer. Hier is van die uitblinkers.

Grade-12G-WILLE-SUME_-Export-Students1.jpg

Sumé Wille, nege onderskeidings (foto: Eunice High School)

Sumé Wille: Al dansend die nuwe jaar in

Sumé spog met nege onderskeidings!  Sy glo hoe besiger sy is, hoe groter is haar wil om aan te hou en om elke dag harder te werk.  “Ek skryf eerstens my akademiese sukses toe aan die Here, ons almagtige Skepper.  ‘Solank as wat hy die Here se wil nagestreef het, het God hom sukses gegee.’ – 2 Kronieke 26:5.”

Hierdie slimkop wat glo jy moet gereeld kan lag, groot droom en jou seëninge tel, gaan dié jaar haar balletdrome vervul deur haar laaste ballet eksamen af te lê.  Daarna sal sy weer agter die boeke inskuif. Dié besige ballerina en ywerige student spog met nege onderskeidings.  Met ʼn doelgerigte uitkyk op die lewe gaan sy 2019 in dans – sy gaan haar balletloopbaan verder neem en haar laaste ballet eksamen voltooi.  Daarna wil sy graag studeer of werk in ʼn rigting wat sy gaan geniet en wat terselfdertyd ʼn uitdaging sal wees.

Maryke Prinsloo: Sluit skoolloopbaan af op ʼn hoë noot af

Maryke kán maar spog met haar agt onderskeidings! Hierdie slimkop skryf haar sukses toe aan die feit dat sy deur hardwerkende, doelgerigte mense omring is. Haar grootste rolmodelle is haar eie twee susters, Anél en Esmarie.

Maryke weet hoe om ʼn balans tussen akademie, kultuur en sport te handhaaf. Sy was ʼn trotse lid van Eunice se koor. Sy het ook al vier keer die Midmarmyl geswem en het ook hokkie gespeel.

Binnekort pak sy ʼn nuwe uitdaging aan, wanneer sy medies aan die Universiteit Stellenbosch t gaan studeer.

Helen van der Westhuizen: Sing-sing deur matriek

Helen het letterlik haar matriekjaar sing-sing deurgekom. Sy spog met agt onderskeidings.

Sy is deel van die Eunice Vitae Cantamus koor. Dié spogkoor het tydens die  Wêreldkoorspele silwer en goud verower en het ook aan die televisiereeks, Sing in Harmonie, deelgeneem – waar hulle as wenners aangewys is. Tydens haar eindeksamen is daar ook hard geoefen om gereed te maak vir die Europese toer die afgelope Desember.

Alhoewel haar liefde vir die koor baie van haar tyd opgeëis het, het sy bewys dat daar wel met goeie beplanning en deursettingsvermoë ʼn gesonde balans gehandhaaf kan word.

Erica Dube: Agt onderskeidings vir Erica

Om agt onderskeidings te verower is ʼn prestasie. Dit is ʼn teken van harde werk en deursettingsvermoë. Erica kan hiervan getuig.

Soos vir baie jongmense, was dit vir haar ook nie altyd maklik om gedurende haar matriekjaar gefokus en gemotiveerd te bly nie. Die kleinste negatiewe dingetjie kan jou van stryk bring. Dit is egter duidelik dat dié negatiewe dinge haar nie kon onderkry nie.

Anél Kleingeld: Trots op haar onderskeidings

Alhoewel Anél  bieg dat tydbestuur haar grootste uitdaging was, is dit duidelik dat dié slimkop wel totaal en al in beheer van haar studies was. Sy spog met agt onderskeidings.

Sy skop 2019 af met die wete dat harde werk definitief goeie vrugte afwerp.

Grade-12G-LOUW-IZANE_-Export-Students1.jpg

Izané Louw, 7 onderskeidings (foto: Eunice High School)

Izane Louw: Ouers haar grootste rolmodelle

“Die ondersteuning van my familielede en die duidelike uiteensetting van my doelwitte is wat my akademiese sukses moontlik gemaak het.” So sê Izané, wie ʼn indrukwekkende sewe onderskeidings losgeleer het.

Pa Christo,  ʼn algemene praktisyn en ma Rozanne,  ʼn sielkundige, is haar grootste rolmodelle. “Ek is wie ek is vandag as gevolg van hulle en ek hoop om eendag baie van hulle eienskappe in my lewe uit te leef,” sê Izané. Sy gaan heel moontlik die Vrystaat vir die Kaap verruil en soos haar ouer broer, Jacques, ook ʼn Matie word. Sy oorweeg om BCom Rek te gaan studeer.

Hoewel daar heelwat tyd agter die boeke spandeer is, is Izané ʼn kranige muurbalspeler. Sy is tans derde op die Suid-Afrikaanse ranglys en was verlede jaar gekies om aan die wêreldkampioenskap in Indië deel te neem.

Marsoné Yzelle:  ʼn Hart vir ander

As jy mooi kyk, sal jy iets goeds in almal sien. Marsoné kry dít reg en beskou hierdie vermoë as een van haar beste eienskappe. Met dié positiewe energie wil sy verpleegkunde aan Kovsies gaan studeer.

ʼn Aanwins gaan sy beslis wees. Sy het nie minder nie as ses onderskeidings verwerf. Dié klompie onderskeidings het nie net in haar skoot geval nie – sy werk al vir baie jare hard en het elke jaar erekleure vir akademie verwerf.  Een van haar trotse oomblikke was die toe sy die “Trophy of Goodwill and Kindness” ontvang het.

Lerato Mohlamme:  Groot vreugde vir Lerato

Hierdie jong dame kan getuig dat lang ure agter die boeke definitief vrugte afwerp. Lerato Mohlamme spog met nie minder nie as ses onderskeidings.

Vir haar was die grootste uitdaging om net tot agter die boeke te kom en dan lang ure te spandeer om al daardie inligting te verwerk en te stoor. Sy het dit egter reggekry en kan voorwaar trots wees op haarself.

Lielie Fourie:  Argitektuur op die agenda

Fourie glo dinge kan nie sommer net in jou skoot val nie. Daar moet hard gewerk word vir wat jy ook al wil hê. Ná jare se harde werk kan sy vandag met ses onderskeidings spog.

“My grootse rolmodel is my pa. Hy is ʼn hardwerkende man met ʼn passie vir sy werk en sy familie,” sê Lielie. Sy is deel van ʼn sterk akademiese familie en daar is altyd gesonde kompetisie tussen die sibbe. “Ek hou daarvan om probleme op te los en probeer my bes om die beste ek te wees wat ek kan.”

Sy gaan ʼn Bloemfonteiner bly en word eersdaags ʼn Kovsie, waar sy argitektuur gaan studeer.

Tumi_Eunice-High-School.jpg

Tumi Mokoloko, ses onderskeidings (foto: verskaf, Eunice High School

Tumi Mokoloko: Tumi wil dokter word

Dit is geensins ʼn verrassing dat Tumi Mokoloko met ses onderskeidings spog nie. Sy glo daarin om hard te werk vir dit wat jy wil hê – en dit is presies wat sy gedoen het.

Tumi beskryf haar ouers as haar rolmodelle. Hulle het altyd vir haar ʼn voorbeeld gestel en is onvoorwaardelik haar grootste ondersteuners. Sy wil ʼn mediese dokter word, soos haar pa, en beplan om aan die Universiteit van die Vrystaat te studeer.

Dié jong dame is net so tuis in die water soos wat sy tuis is agter die boeke.  Sy spog met volle erekleure omrede sy die Midmar Myl reeds vyf keer in ‘n ry voltooi het.  ‘n Goeie balans handhaaf sy duidelik – sy is ‘n voorloper as dit kom by gees vang op die pawiljoen tydens ʼn sportbyeenkoms, sy skrik nie vir ʼn tennisbal nie, sy swem almal weg in die water en sy kan ʼn hokkiebal ook laat les opsê.

Hierdie meisie streef daarna om ander te help.  Ook is sy altyd bereid om nuwe dinge te leer en aan te pak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.