Matrieks 2018:  Hoërskool Zwartkop spog met hul matrieks

 Zwartkop.jpg

Hoërskool Zwartkop

Dié skool aan die westekant van die Hennopsrivier in Centurion, Hoërskool Zwartkop, kan voorwaar met hulle 2018-matriekgroep spog.  Hier is ’n paar van die uitblinkers.

Bernard Lubbe: Hy wil graag ’n Tukkie word

Dié hardwerkende toppresteerder spog met sewe onderskeidings.  Hy was beslis nie die heeltyd net agter die boeke nie – daarvoor hou hy te veel van die kollig. Dans, sing, drama en redenaars is ʼn paar van sy passies.

Bernard skryf sy sukses toe aan “harde werk, laat aande se leer en die ongelooflike ondersteuning van my ouers, my familie en my kerk”.

As alles mooi volgens plan verloop, gaan hy medies studeer. Sy eerste keuse is die Universiteit van Pretoria.

Marné Prinsloo: Die beste dinge in die lewe kom met tyd en harde werk

Dié oud-Zwarrie, wat haar planne mooi agtermekaar het, spog met ses onderskeidings!

Hoewel Marné lief is vir sing, die natuur en kuier saam met vriende, weet sy ook dat niks in jou skoot gaan val as jy nie hard daarvoor werk nie. Sy beplan om dadelik te begin werk en BCom Rekeningkunde deeltyds te studeer. Haar droom is om eendag ’n geoktrooieerde rekenmeester te word.

Haar pa is haar rolmodel. “Hy gee nie op nie en inspireer my om heeltyd nuwe geleenthede te soek en hard te werk vir wat ek wil hê.”

Alta Bruwer: Die wêreld aan haar voete

Alta, Hoërskool Zwartkop se hoofdogter, eindig haar matriekjaar beslis op ’n hoë noot met haar agt onderskeidings.

“Ek beplan om BCom Aktuariële Wetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch te studeer. Daarna sal ek graag by ‘n internasionale firma wil werk, wat die geleentheid bied om die wêreld te toer.”  Haar belangstellings pas goed by dié doelwit om die wêreld te verken. Sy hou van modes, ander tale, boeke, musiek, om nuwe mense te ontmoet en natuurlik om te reis.

Hierdie veelsydige oud-Zwarrie weet hoe om ’n goeie balans te handhaaf.

Jana Coetzer:  Glo in ʼn gebalanseerde leefstyl

Dit is duidelik dat Jana se gebalanseerde leefstyl vrugte afgewerp het. Dus kan sy voorwaar spog met haar sewe onderskeidings.

“My ouers is my grootste rolmodelle, want hulle stel ’n goeie voorbeeld en leer my baie lewenslesse,” sê dié voornemende student wat binnekort Potchefstroom haar nuwe tuiste gaan maak, waar sy forensiese rekenkunde gaan studeer.

Jana het nie nét die heeltyd agter die boeke gesit nie. Jana is ʼn kranige netbalspeler en baie lief daarvoor om te oefen.

Henk Meyer: Doelgerig en vasberade

“Bid hard en werk hard, dan kan jy alles bereik.” Dít is hoe Meyer sy sewe onderskeidings ’n werklikheid gemaak het.

Sy grootste rolmodel is sy ma. “My ma het aan my bewys dat alles moontlik is as mens hard werk. Sy het as topstudent geëindig met haar studies.” Hy gaan BCom Rekeningkunde aan die Universiteit van Pretoria studeer.

Dié slimkop spandeer egter nie net tyd agter die boeke nie, maar geniet ook sy rekenaarspeletjies.

Bianca Nieuwoudt: Musiek en syfers haar passie

Met die lewensfilosofie “don’t worry, be happy” is, het Bianca matriek met ʼn glimlag en sewe onderskeidings geslaag.

Bianca het ’n groot liefde vir musiek en dans. Haar ander liefde is syfers. Rekeningkunde en Besigheidstudies was nog altyd haar sterkpunt. Sy bly ’n Pretorianer en wil graag BCom Rekeningkunde aan die Universiteit van Pretoria studeer.

Minnette-Peo-Copy.jpg

Minnette Peo, sewe onderskeidings (foto: Hoërskool Zwartkop)

Minette Peo: Sy wil ander inspireer

Hoërskool Zwartkop se onderhoofdogter van akademie, is ʼn ware ambassadeur vir haar skool. Dié oud-Zwarrie kan behoorlik spog met haar sewe onderskeidings.

Sy wil graag mense inspireer met haar aansteeklike positiwiteit. Sy gaan nou Pretoria vir Potchefstroom verruil en hoop om BEd Grondslagfase aan die Noordwes Universiteit te studeer.

Minette spog nie net met haar akademiese prestasie nie, maar het ook met haar groen vingers haar eie groentetuin aangelê. As sy nie haar hande in haar tuin vuil maak nie, ontspan sy met ‘n goeie boek of kry jy haar agter die kospotte. Duidelik leef Minette haar lewensfilosofie uit: “Leef die Here se plan vir jou uit! Leef elke dag ten volle. Wees dankbaar en hê onvoorwaardelik lief.”

Saroné Pretorius: Buitelewe en diere haar groot liefde

Saroné verdien om ’n toppresteerder genoem te word. Nie net het sy in 2017 ʼn jaargemiddeld van 95% behaal – die hoogste gemiddeld wat nog by Hoërskool Zwartkop behaal is – nie, maar spog ook nou met agt onderskeidings. Dit is dus geen geheim dat sy nie bang is om moue op te rol en hard te werk nie.

Haar groot passie is die buitelewe, kampeer, vlieg en om met diere te werk. Sy beoog om veeartsenykunde aan die Universiteit van Pretoria te gaan studeer. Daarna droom sy om haar eie plaas te besit, waar sy haar liefde vir die buitelewe en natuur kan uitleef.

Bianca Smit: Met harde werk, is enigiets moontlik

Bianca het haar Desembervakansie op die MSC-Matriekboot behoorlik verdien. Sy het haar matriekjaar met sewe onderskeidings geslaag. Sy glo dat harde werk en uithouvermoë die sleutel tot sukses is. “My pa het my gewys dat met harde werk, jy énigiets kan regkry.”

Hierdie plaaskind het vele talente – van sagtebal en netbal tot koor, kook en revue. Sy is lief vir kinders en hou daarvan om ander te help, daarom wil sy graag medies gaan studeer en eendag as ‘n pediatriese onkoloog spesialiseer.

Michiel Richardson: Sportman wat droom om dokter te word

“Ek het ʼn groot hart wat omgee vir mense.” So beskryf Richardson homself. Die oud-onderhoofseun van sport het matriek met agt onderskeidings geslaag.

Afgesien van flieks en reekse kyk, hou hy baie van sport. Hy kon sy liefde vir sport uitleef en is as sy skool se beste hokkiedoelwagter aangewys. Rafael Nadal is sy rolmodel: “Hy het ’n rukkie terug deur ’n slegte tyd gegaan toe hy nie goeie tennis gespeel het nie, maar hy het nie opgegee nie. Hy het aanhou veg en verbeter en kyk, hy het nou weer gewen.”

Michiel hoop om keuring vir medies te kry. Sy droom is om ’n dokter te word en as alles volgens plan verloop, is hy een van die dae ’n student by Tukkies.

 Hannes Venter wil ingenieur word

Venter spog met sewe onderskeidings.  Dié skrander oud-Zwarrie bou in sy vrye tyd  graag modelvliegtuie en helikopters. Hy teken graag en hou van enigiets wat met konstruksie te make het. Dus is daar geen ander loopbaan vir Hannes as siviele ingenieurswese nie en hy hoop om later die jaar by die Universiteit van Pretoria aan te sluit.

Sy akademiese sukses skryf hy toe aan goeie beplanning, om daagliks te bid en om dankbaar te wees vir wat jy het. Hy erken ruiterlik dat sy beste eienskap deursettingsvermoë is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.