Met risikobestuur wil Marinda ʼn verskil maak

Marinda Pienaar

Marinda Pienaar van die Afrikaanse Hoër Meisieskool het uitgeblink met onderskeidings in al agt haar vakke: Afrikaans, Engels, wiskunde, lewensoriëntering, inligtingstegnologie, fisiese wetenskappe, rekeningkunde en musiek.

Haar pa, Pierre, is ʼn boer en sakeman en haar ma, Amanda, is ʼn tuisteskepper. Sy het ook ʼn ouer suster, Natasha, wat verlede jaar besig was met haar finale jaar BCom Informatika aan UP.

Marinda gaan ʼn lekker plaasvakansie saam met vriendinne geniet voordat sy BSc Aktuarieel aan die Universiteit van Pretoria gaan aandurf. Haar oogmerk is om deur risikobestuur te poog om ʼn verskil in mense se lewens te maak.

Haar stokperdjies sluit in musiek en lees. “Music is life – that’s why our hearts have beats,” sê sy. Marinda was vir vyf jaar lid van Afrikaanse Hoër Meisies se jeugorkes en fluitensemble. Sy het Unisa se gr. 8-eksamen in dwarsfluit met eervolle vermelding geslaag en boonop Unisa se gr. 6-eksamen in klavier sowel as musiekteorie met lof geslaag.

Haar akademiese sukses is die resultaat van harde werk dwarsdeur die jaar, sê sy. Hoewel sy pligsgetrou is, moes sy leer om tyd beter te benut en in te rig.

Sy beskou Marie Curie as haar rolmodel. “Sy het as fisikus en chemikus by twee geleenthede die Nobelprys ontvang en uitgeblink in ʼn veld waarin min vroue gewerk het.”

Marinda glo aan die uitdrukking:

Doen jou bes en God doen die res.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.