Michelle blink uit op alle terreine

Michelle Kasa

Michelle Kasa

Sommige matrikulante het skynbaar ʼn onuitputlike voorraad energie en dryfkrag. Michelle Kasa van Hoërskool Bergvlam het agt onderskeidings behaal. Sy het A’s in Afrikaans, Engels, rekenaartoepassingstegnologie, rekeningkunde, lewenswetenskappe, lewensoriëntering, fisiese wetenskappe en wiskunde.

Haar stokperdjies sluit in lees, swem, hokkie, natuur, draf, honde en musiek luister. Sy skryf haar akademiese sukses toe aan harde werk en behulpsame onderwysers. Sy was ook ʼn KANSA -debutante, Dux-leerling vir ʼn aantal jare en ʼn prefek. Sy het uitgeblink in die eerste hokkiespan en ook as kaptein van die swemspan.  Sy het nie verniet vir drie jaar die veelsydigheidstoekenning verdien nie!

Michelle beskou Angelina Jolie as haar grootste rolmodel vir die miljoene rande wat sy vir liefdadigheid gee. Sy som haarself op as toegewyd, gemotiveerd en iemand wat altyd streef daarna om die beste te wees in alles waaraan sy deelneem. Sy glo in balans tussen akademie en sport, sodat sy op alle gebiede haarself kan uitleef. Sy is ook baie betrokke in haar gemeenskap en gee regtig om vir ander mense.

Haar trotse ouers is onderskeidelik ʼn tandarts en ʼn prokureur. Sy gaan die Desember-vakansie in Mosselbaai saam met familie deurbring. Sy is reeds aanvaar by die Universiteit van Kaapstad vir B.Com (finansiële rekeningkunde) en gaan volg in ouboet Gyula Kasa se voetspore, wat tans besig is met dieselfde kursus. Sy wil graag ʼn rekenmeester word en ʼn graad in genetika behaal.

Michelle leef beslis haar lewensfilosofie:

Veni Vidi Vici! (ek kom, ek sien, ek oorwin).   

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Coa ·

Lekker om sulke uitslae te sien. Baie geluk. Geniet jou studentelewe.

Pietser ·

Baie geluk aan die jong dame. Ek wil egter die kwaliteit van deesdae se matriek bevraagteken, dit lyk vir my elke tweede kandidaat loop oor van onderskeidings. Toe ek in 1982 matriek geskryf het was ‘n A-gemiddeld ‘n rariteit. Ons skool het in my matriekjaar slegs een A gemiddeld opgelewer en ons het uitstekende studente gehad in ons klas (een dame is inderdaad een van die suksesvolste en bekendste vroue in SA ooit en sy het nie ‘n A gekry nie). Ons 10A klas het verskeie dokters, prokureurs/advokate, ingenieurs, CA’s, ens, opgelewer. Laat mens wonder.

Francine ·

Baie geluk Michelle. Ek weet hoe besig jul jaar was veral met hokkie waar jul ook puik presteer het. Dit is voorwaar uitmuntende prestasie. One is baie trots op jou!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.