Michelle blink uit op vele terreine

Michelle Stevens

Michelle Stevens

Michelle Stevens van Hoërskool Merensky het ʼn groot oes onderskeidings ingesamel in die afgelope matriekeindeksamen. Hierdie uitblinker van Tzaneen het A’s vir Afrikaans, Engels, wiskunde, fisiese wetenskappe, rekenaartoepassingstegnologie, lewensoriëntering, landboubestuurspraktyk en lewenswetenskappe.

Trotse ouers Willie en Adél is onderskeidelik ʼn voorligtingsielkundige en ʼn onderwyseres. Michelle wil graag dié jaar aansluit by ouboet Rodney wat reeds laas jaar ʼn tweedejaar-BSc-student aan die NWU was. Sy beoog om BPharm te studeer en uiteindelik haar meestersgraad in aptekerswese te behaal sodat sy ʼn goeie werk kan kry, sê sy hoopvol.

Michelle het nie net op akademiese gebied haar kant gebring nie. Sy is ʼn sportiewe meisie met die vermoë om hard te werk en altyd haar beste te lewer. “Tyd saam met familie en vriende is baie belangrik vir my.”

Sy het drie keer deurgedring na die finaal van die ATKV nasionale redenaarskompetisie. In graad 9 het sy ʼn derde plek behaal. Michelle was onderhoofmeisie en spog met Limpopo-kleure vir hokkie, tweekamp, fietsry en landloop. Sy het ook Gauteng-kleure vir tweekamp verwerf.

Sy is mal oor sport en om buite te wees. Sy glo om langs die swembad te sit met ʼn goeie boek is ook ʼn stokperdjie. Haar lewensfilosofie is drie goue reëls:

Geniet wat jy doen; gee altyd jou beste en moet nooit moed opgee nie.

Haar rolmodel is Christian Haettich. Hy is ʼn man met een been en een arm wat fietsry. Sy deursettingsvermoë inspireer haar. Sy glo haar beste eienskap is ook haar deursettingsvermoë en sy erken dat sy nogal kan sukkel om besluite te neem. Sy skryf haar sukses toe aan die talente wat God haar gegee het en baie harde werk.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.