Natasha: ‘Ek skep vir myself hoëdruksituasies’

Natasha Nel

Natasha Nel

Natasha Nel van Hoërskool Zwartkop in Centurion het haar hele string A’s in die matriekeindeksamen ten volle verdien. Sy het onderskeidings in agt vakke: Afrikaans, wiskunde, lewensoriëntering, rekeningkunde, lewenswetenskappe, fisiese wetenskappe, geografie en rekenaartoepassingstegnologie.

Pa Hennie is ʼn sagteware ontwikkelaar en ma Amanda ʼn elektroniese ingenieur. Ouboet Martinus studeer chemiese ingenieurswese aan die Universiteit van Potchefstroom.

Natasha gaan in haar matriekvakansie eers Kaapstad en Strand toe saam met haar beste vriendin. Daarna gaan sy saam met haar gesin na haar ouma wat in die Oos-Kaap op Mosterdshoek, naby Cape St. Francis, woon. Sy sê sy is baie lief vir die natuur en geniet dit om uit die stad weg te kom. Sy is ook baie lief om te reis en mal oor avonture. Haar lewensleuse is nie verniet, “Leef elke dag asof dit jou laaste is”, nie.

Hierdie slimkop het keuring gekry om MBChB (medies) te gaan studeer aan die Universiteit van Pretoria. Sy wil moontlik spesialiseer in chirurgie of kardiologie.

Een van hierdie veelsydige meisie se grootste passies is patisserie (fyngebak en nageregte) asook om koeke te versier. Sy het in 2015 Pick n Pay en Prue Leith se nasionale skole-sjefkompetisie gewen. Sy het ook in 2015 die Rolkem-koekbak-en-versierkompetisie gewen wat op provinsiale vlak gehou is.

Natasha geniet skubaduik  en kunsaktiwiteite soos teken. Sy speel klavier en het Unisa graad 4 behaal. Sy sing ook en is lief vir baldans. Sy lees soms vir ontspanning.

Onder haar skoolprestasies tel haar jaarlikse deelname aan debat en redenaarskompetisies. Sy het haar skool verteenwoordig met brugbou by die distrikskompetisie en was elke jaar van haar skoolloopbaan onder die akademiese toptien.

Natasha se raad aan matrieks is:

Werk asof bid nie help nie en bid asof niks anders help nie.

“Bly altyd nederig en gebruik dit waarmee jy geseënd is om ander te help. Vind geluk deur ʼn positiewe verskil in ander se lewe te maak.” Sy getuig: “Die Here het my regtig geseën. Verder het ek regdeur my skoolloopbaan opgelet in al my klasse en altyd moeite gedoen met take en opdragte.”

Sy erken ook almal se bydrae tot haar sukses: “Sonder ander se gebede sou ek nie kon kom waar ek is nie. My ouers, broer, ouma en hele familie het my deur elke toets en eksamen gebid. Elke onderwyser, van my laerskool- tot al my hoërskoolonderwysers, het ʼn onmeetbare bydrae gelewer tot dit wat ek kon bereik. Laastens ook dankie vir die ondersteuning wat ek van almal af kry – van my vriende tot my familie en my gesin, veral my ouers.”

Natasha het nie een spesifieke rolmodel nie, want sy glo ʼn mens moenie streef om soos ʼn ander persoon te wees nie, maar eerder om meer soos Jesus te wees. Sy sê: “As Christen het ek altyd ʼn hoopvolle en positiewe uitkyk op die lewe. Ek is iemand wat opreg omgee vir mense en diere. Uitdagings is nooit vir my te groot om aan te pak nie, want ek sien dit as ʼn geleentheid om nuwe vaardighede aan te leer en my as mens te verbeter. Een van my grootste drome is om my lewe te gebruik om die lewe van soveel moontlike mense aan te raak. Ek probeer altyd glimlag, want nie net kan dit iemand anders se dag opkikker nie, maar ook my eie – en om te glimlag kos niks nie.”

Natasha sê wanneer sy enigiets in die lewe aanpak, volhard sy tot op die einde daarmee. Tydens hoëdruksituasies bly sy altyd kalm en dit is ook dan wanneer sy na die beste van haar vermoë presteer.

Sy erken haar swakste eienskap is dat sy uitstel, uitstel, uitstel … maar sy vermoed dit is dalk die geheim van haar sukses – deurdat sy vir haarself hoëdruksituasies skep.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.