Neurochirurgie wink vir Lera  

Lera Avdysh

Lera Avdysh van Hoërskool Merensky het agt onderskeidings losgeslaan in die afgelope matriekeindeksamen. Sy het presteer in Afrikaans, Engels, wiskunde, lewensoriëntering, lewenswetenskappe, fisiese wetenskappe, rekeningkunde en rekenaartoepassingstegnologie.

Hierdie slimkop woon op ʼn plaas naby Tzaneen en het groot drome om medies te gaan studeer aan die Universiteit van Stellenbosch en uiteindelik ʼn neurochirurg te word. Sy meen die menslike brein bied volop navorsingsgeleenthede en dít maak haar baie opgewonde.

Haar ouers, Wynand en Mira, boer. Hulle het nog drie jonger kinders: Alexander en Christopher wat op skool is en Duke wat nog in die kleuterskool is.

Sy gaan haar vakansie in Margate en Ballito deurbring.

Lera is vlot in Russies, Oekraïens, Engels en Afrikaans. Sy en haar ma kom van die Oekraïne en haar ma is hier weer getroud met ʼn Suid-Afrikaner. Op laerskool moes sy hier vir die eerste keer Engels leer. Op hoërskool was sy vir die eerste keer in ʼn dubbelmediumskool waar sy ook Afrikaans aangeleer het.

Sy is ʼn kranige tennisspeler en het al in Sun City en Nelspruit aan ʼn paar toernooie deelgeneem. Sy was ook deel van die meisiekrieketspan wat in Limpopo geseëvier het. Vir krieket het sy ʼn goue presidentstoekenning ontvang.

Sy is ook lief vir lees, klavier speel en om na musiek te luister. Haar lewensfilosofie is:

Ek het nie só ver gekom om nét so ver te kom nie.

Sy bewonder die tennisspeler Roger Federer vir sy nederigheid ten spyte van sy vele suksesse, asook sy vermoë om struikelblokke te oorkom deur harde werk en toewyding. Sy skryf haar sukses toe aan dissipline as toegewyde student wat altyd probeer om haar beste te lewer.  “ʼn Mens droom nie net van sukses nie,” sê sy. “Jy staan op en werk daarvoor so hard as wat nodig is.”

Lera beskou haar oorredingsvermoë as haar beste eienskap, en ook dat sy nie huiwer om haar opinie te gee nie. Sy bieg dat sy soms ongeduldig is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Eish ·

Die woorde uit my mond geneem.
Daar bewys sy sommer ook die argument oor moedertaal onderwys in sy glory verkeerd.
Ek wonder tog of ons politici n invloed gehad het op haar loopbaanbesluit?

Vraagteken ·

Moet jule nou regtig polities raak? Dis half pateties dat dit alles is waaroor ons deesdae praat.

Baie geluk Lera!

JC ·

Hoe is die teoriee oor moedertaal onderrig verkeerd bewys?
Onthou; daar is ook hoogs uitsonderlike gevalle op die algemene reel; en heel duidelik is die kind besonders begaaf.
Meen jy dan dat indien anonieme “boerseun van die Vrystaat”; wat (met respek) ‘n landelike blootstelling gehad het; skielik in Engels moet leer dat hy suksesvol sal wees? Ek glo nie…en daar is die probleem. Nie almal is ewe begaaf nie, en die skending van jou reg op moedertaal onderrig skend jou menswaardigheid as mens.

jaco ·

ek dink dat as jou huistaal Oekrainies en Russies is, dan kennis van en onderrig in Engels en Afrikaans maklik. Ek het Russies probeer leer, maar vinnig weer gestop. Dis baie baie moeiliker as Engels en Afrikaans.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.