Nico hou daarvan om probleme op te los

Nico Genis

Nico Genis van Hoërskool Hans Strijdom is een van dié skool se matrikulante wat met agt onderskeidings spog. Hy het uitgeblink in Afrikaans, Engels, wiskunde, lewensoriëntering, fisiese wetenskappe, lewenswetenskappe, ingenieursgrafika en -ontwerp en musiek.

Hierdie skolier van Naboomspruit is die seun van Bennie en Charlotte wat boer in die omgewing. Hy is die jongste van vier kinders. Sy ouer suster Hèleni is ʼn teatersuster by die Unitas-hospitaal en sy broer Bennie is ʼn meganiese ingenieur. Sy suster Arina begin vanjaar met haar BCom-honneursstudie in Korporatiewe Kommunikasie aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom.

Ná ʼn blaaskansie op Struisbaai en Hermanus beplan Nico om by haar aan te sluit op die Puk met studie in meganiese ingenieurswese. Hy wil graag nagraads biomediese ingenieurswese studeer aan die Biomediese Ingenieurswese- navorsingsgroep (BERG) in Stellenbosch.

Nico is lief vir musiek en speel graag klavier. Hy hou ook van jag, boer en draf.

Hy was sy skool se voorsitter van kultuur in 2017 en het Unisa se gr. 5-musiekteorie en gr. 7- praktiese klaviereksamen met lof geslaag. Hy het in 2016 derde in die ATKV-redenaarskompetisie in Limpopo geëindig. Hy het ook uitgeblink in debatsvoering en het in 2016 deurgedring na die ATKV se tweede rondte. Hy was verlede jaar ook deel van die interhoër skaakspan.

Nico het vir vyf jaar op die leerlingraad gedien.

Op die sportveld het hy eweneens sy kant gebring. Hy het deelgeneem aan die atletiek interhoër en in 2014 het sy krieketspan die Limpopo-beker gewen en in 2015 het sy rugbyspan die Beeld-trofee verower. Hy het verder by die swem interhoër in 2013 en 2016 uitgeblink.

Hy skryf sy sukses toe aan ʼn kombinasie van sy ouers se gene en gee erkenning aan hulle vir hul motivering en ondersteuning. Hy sê harde werk word beloon: “As ʼn mens altyd jou bes doen sal God die res doen.” Nederigheid is ʼn lewenstyl wat hy nastreef.

Hy beskou sy pa as sy grootste rolmodel.

Hy werk hard om vir sy gesin te sorg en bestuur sy geld baie goed, dit is vir my ʼn goeie voorbeeld van hoe ek graag eendag as pa wil wees.

Hy sê ook sy pa se kennis en wysheid dra hom deur moeilike tye in die lewe.

Nico gee om vir mense en wil altyd van diens wees. Hy erken dat sy soms daarvan hou om homself reg te bewys en dan te veel stry met mense. Hy beskryf homself as iemand met ʼn goeie humorsin en sê hy is altyd vriendelik.

Hy hou van feite en om sy algemene kennis uit te brei. Verder probeer hy om altyd optimisties te wees en die goeie in die lewe raak te sien. “Maar,” sê hy, “dit beteken nie ek kyk net verby die probleme nie, ek hou daarvan om probleme op te los.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.