Nie eens brand kan matriek-slimkop se drome verwoes nie

Sasha-Lee Roestorff (Foto: Maroela Media)

Sasha-Lee Roestorff (Foto: Maroela Media)

deur Cyril Blackburn

14 Januarie 2016 was ʼn gewraakte dag. ʼn Dag wat vir áltyd in haar geheue geëts sal bly. Sy het daardie dag met net haar skooltas en -klere in haar hand staan en kyk hoe ʼn verwoestende brand alles vernietig – elke besitting, en enigiets wat ʼn mooi herinnering verewig het. Die brand het nie net haar blyplek verwoes nie; nou sou almal van haar weet, dat sy al vir jare haar swaarkry wegsteek. Sy het gegryp wat niemand van haar kan vat nie: haar toekoms.

Nou, amper ʼn jaar later én benewens talle ander terugslae, is Sasha-Lee Roestorff een van net  ʼn handjievol leerders in die land wat einde vanjaar minstens 11 onderskeidings in die matriek-eindeksamen verwag.

Sy was eers kwaad, sê sy. Kwaad, want dit was nie die eerste keer dat sy haar skooltas en -klere moes gryp en hardloop nie. Haar pa was ʼn “wrede man”, en sy moes talle kere voor dié voorval ook sommer in die loop haar kosbaarste besittings gryp. Hy het hulle gereeld uit die huis gejaag. “Ek was al gewoond daaraan om te vlug. Dit was altyd my skooltas en -klere, sodat ek die volgende dag sommer net skool toe kon gaan. Daarom het ek nie eens gedink dit was vreemd om net te gryp en hardloop nie,” sê sy.

Sasha-Lee is vanjaar ʼn matriekleerder aan die Hoërskool Riebeeckrand in Randfontein. Sy is onderhoofmeisie en tweede onder die top-tien. In Maroela Media se soeke na die top-matriekpresteerders vir 2016 het Sasha-Lee se verhaal, waarin ʼn mens tussen die reëls veel meer lees as wat in haar woorde geskryf staan, ons harte aangegryp.

Haar omstandighede was nog altyd haar grootste geheim, verklap sy: kom wat wou, niémand sou vir haar jammer voel nie.

Eers wou sy nie praat oor die brand of haar pa nie. Nou hoop sy haar storie kan iemand help. “Ek het gedink, as ek iemand kan help wat ook in moeilike omstandighede is, moet ek dit doen. Ek wil beter wees, beter as my omstandighede. Daarom het ek vir so lank hieroor stilgebly.”

Net ʼn onderwyser of twee het geweet van die gesin se swaarkry. Toe die pa vort is, het sy en haar ma, Jo-Ann, sonder ʼn dak oor hul koppe gesit. Sy was in graad 10 en wou ʼn jaar van skool afneem tot hulle op hulle voete kon staan. Daarvan wou haar ma niks weet nie. Sy het as tuisteskepper vir ʼn vrou gewerk wat aangebied het dat dié twee agter in hulle tuinwoonstel kon bly. “My ma wou nooit opgee nie. Sy het al ons meubels verkoop sodat ek graad 10 kon voltooi,” sê Sasha-Lee.

Jo-Ann het self nie ʼn geleerdheid nie, daarom ken sy van harde bene kou. Dít doen sy immers al vir jare. “Ek wou met alle mag keer dat sy dieselfde lewe het as wat ek het; twyfel oor waar die volgende geld vandaan gaan kom en of ons nog ʼn dak oor ons kop sal kan hou. Ek het haar van kleins af probeer leer, en om haar skool toe te stuur sodat sy ʼn opvoeding  kan kry, was my lewensdoel.” Haar ma is self verbaas oor haar dogter se oorlewingsvermoë. Ná elke teleurstelling beur sy vorentoe met sterker ywer en gee haar ma ook die krag om voort te gaan.

Dit is steeds nie duidelik hoe die huis afgebrand het nie. “Die gesin in wie se tuinwoonstel ons gebly het, het ook maar hulle eie probleme gehad. Dit was nooit regtig maklik nie. Ná die brand het hulle hulself van ons vervreem; ons is nie eens seker waar hulle is nie,” sê sy.

Ná die brand kon sy haar geheim nie meer stilhou nie. Sy het nie eens die dag daarna skoene gehad om skool toe aan te trek nie. Sy kon óf wegbly, óf sy moes die onderwysers en haar mede-leerders in haar vertroue neem.

Dit is toe dat almal begin goed aandra. “Die skool het vir ʼn paar maande vir ons ʼn plekkie gehuur en almal het gehelp waar hulle kan. Dit was nooit lekker nie, dit is steeds nie, maar dis gerusstellend om te weet mense gee om,” sê sy huiwerig.

Steeds, ten spyte van al die seer, is sy ʼn uitskieter-matrikulant met 11 vakke, en sy verwag boonop onderskeidings in al haar vakke. Die rekordeksamen-uitslae is immers reeds gedeeltelik bekend en sy spog reeds met onderskeidings in Engels, wiskunde, lewensoriëntering, inligtingstegnologie, ekonomie, geografie, fisiese wetenskappe, lewenswetenskappe, besigheidstudies en rekeningkunde. Dis nog net Afrikaans wat haar naels laat kou.

Dit is dié onderskeidings wat haar sleutel tot sukses gaan wees. “Ek het soveel moontlik vakke probeer neem waarmee ek in ʼn verskeidenheid beroepsvelde kan werk sodat ek enigiets kan doen.”

Haar hart is egter reeds gesteel deur aktuariële wetenskappe, en dié wil sy studeer aan die Universiteit van Pretoria. Sy het ook aansoek gedoen om vir geoktrooieerde rekenmeesterskap te studeer.
Finansies knyp en is steeds ʼn groot probleem, maar ma en dogter glo dat ʼn deur sal oopgaan. Hulle het al reeds vir ʼn paar beurse aansoek gedoen, maar niks van dié beurse kan haar klasgeld betaal en haar op universiteit ondersteun nie.

Dit alles pak hulle egter in geloof aan. Sy het immers ʼn tyd gelede geglo dat sy nie eens matriek sou haal nie. “Deur die Here se genade, my wonderlike ondersteuningstelsel en my ma is ek deur my matriekjaar gedra.  Alles wat ek bereik, is net uit genade. Ek sien terugslae as uitdagings en dit motiveer my net soveel meer om weer te begin en ʼn sukses van alles te maak.”

Indien jy meer wil weet of betrokke wil raak, kontak Maroela Media deur ʼn e-pos te stuur na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

T ·

Wow wat a amazing storie, sy het swaar gekry en bo dit alles uitgestyg. Dalk moet die Wits studente bietjie by haar leer

Piet Claassen ·

Wow!! Wat ‘n inspirasie vir almal wat alles net as vanselfsprekend aanvaar. Wens jou alle voorspoed, sukses en geluk voorentoe. Go girl!!

Jeanne ·

Ongelooflik inspirerend. Hoop sy bereik die hoogste hoogtes. Sy is beslis ‘n wenner. Die woord ‘opvoeding’ pla my net in die artikel, jammer ek weet julle bedoel seker eerder geleerdheid wat meer akademiese opleiding sou wees, maar dit klink darem vreeslik om te sê die ma het self geen OPVOEDING nie? Sjoe daardie mens het vir haar dogter geveg en haar help maak wat sy vandag is, sy het verseker ‘n goeie opvoeding ontvang, dalk net nie geleerdheid nie.

Rita ·

Wow watter storie…..dat sy ver in die wereld gaan kom is n werklikheid….
Die studente betoog oor gratis..onderrig…..hierdie pragtige kind probeer iets van haar lewe maak….
Ek wens ek het die geld gehad om haar te help…..
Hier is so vreeslik baie ryk mense in die land….
Asb help hierdie pragtige dogter en haar moeder …..
????

Landi Slatter ·

Dagsê Jeanne,

Dankie vir jou terugvoer. Geleerdheid is inderdaad die beter woordkeuse. Ons wysig die berig daarvolgens.

Groetnis
Landi nms Maroela Media

Karma ·

“You go, Sasha-Lee!!!!” Ek dink almal wat dié berig lees, staan agter jou! Wat ‘n inspirerende verhaal van ‘n jong meisie wat defnitief BO gaan uitkom. Sasha-Lee, jy kan gaan swot, moenie ‘worry’ oor die gelde nie – die #FeesMustFall-veldtog sal daarvoor sorg dat jy absoluut gratis, pasella, mahala kan gaan swot. Miskien moet jy nie jou hart op studies volgende jaar sit nie (die 2016 studente moet eers hul finale jare dan klaarmaak, danksy die anargie op die kampusse), maar gaan werk dan eers en skryf in vir 2017.

Sasha-Lee ·

Dit was regtig moeilik om my storie te deel en dit is nogsteeds…ek weet daar is baie studente in my posisie en waarvan ons maar min weet.Ek wil net hê hulle moet weet dít is moontlik!Jy is nie jou omstandighede nie… of wat die lewe vir jou uitgedeel het nie.Jy hoef nie terug te staan vir die lewe nie.Ons is nie ons omstandighede nie!!

Net die beste ·

Net die beste vir jou Sasha-Lee, ek is bly jy deel jou storie, jy motiveer en ek glo jy gaan nog ver uitstyg. Sterkte met jou laaste vraestelle meisie, alles sal goed afloop. Wens ek was naby, dan het ek ingegryp, daar is dinge wat ek sou kon doen om te help. Ek is egter positief dat jou studies sal uitsorteer.

DD ·

Sasha-Lee, jou storie het my nou in trane. Wat ‘n inspirasie vir ons almal. Mag jou toekoms meer wees as waarvan jy ooit kan droom. Ek bid dat elke deur vir jou sal oopgaan, want jy verdien net die heel beste. Moet nooit moed verloor nie – alles gaan uitwerk !!

MJP ·

Mooi storie, bly jy kan dit met ons deel. Ek weet eendag gaan jy sommer hope verdien en vir jou ma sorg. Mag God sy seeninge oor jou plaas.Sterkte met die eksamen ek gaan beslis uitkyk vir jou naam in die koerante!

Gerhardt Nieuwoudt ·

Jy sal die vrugte pluk. Julle geluk sal draai en mooi dinge sal op jul pad kom. Jy is in n 10/10 skool en die voorbeeld wat jy stel is pragtig. Sterkte vir die eind eksamen. Glo in jou Skepper, hy sal voorsien.

Marlinda ·

Ai Meisiekind – dis mooi om so ‘n inspirerende storie te hoor. Ons is trots op jou!!! Jy sal dit nog ver bring. Ja, daar is baie wat by jou kan leer. Sterkte vir die toekoms :)

SS ·

Sasha-Lee. Jou tassie mag dalk verslete en verinneweer wees aan die buitekant maar die inhoud bevat n kosbare kleinnood. In jou tassie is geloof, deursettingsvermoe, durf, moed, n wil om oorlewing, trots en veglus. Haal enige van daardie kwaliteite en eienskappe uit jou tassie en gebruik soos benodig. Mag jy n geleentheid kry wat jou verwagtinge oortref wanneer jy weer daarin delf. Mag jou seeninge so oorvloedig wees dat jy sukkel om die deksel toe te kry. Ek haal ook my hoed af vir jou ma. Sterkte. Hoop om nog groot dinge van jou te lees in die koerante.

alicia ·

Sasha-Lee, my gemoed is vol. Die Here gebruik jou tot Sy eer! Groot dinge wag op jou meisiekind. Hou ons asb op hoogte Maroela. Ek weet die HERE gaan ‘n groot wonderwerk doen in jou lewe. Hou moed en vertrou op Hom. Jy gaan ‘n groot getuienis vir GOD wees!
My hart borrel, ek kan nie wag nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.