Ruben van Staden van Hoërskool Noordheuwel het agt onderskeidings in die matriekeindeksamen behaal. Hy het A’s vir Afrikaans, Engels, wiskunde, lewensoriëntering, inligtingstegnologie, ingenieursgrafika en -ontwerp, rekeningkunde en fisiese wetenskappe gekry.
Ruben se pa, Pieter, is ʼn chemiese ingenieur en sy ma, Hanna, ʼn onderwyseres. Sy pa is sy grootste rolmodel. Oor sy pa sê hy: “My pa wys my watter tipe man ek eendag vir my vrou behoort te wees.”
Hy beplan om sy vakansie in Ramsgate en Margate deur te bring. Daarna gaan hy ook ingenieurswese aandurf aan die Noordwes-Universiteit. Hy gaan wel in elektroniese ingenieurswese spesialiseer. Hy sê hy hou van probleemoplossing en glo aan kreatiewe denke.
Ruben was van gr. 8 tot 10 die dux-leerder van sy skool. In sy vrye tyd bestee hy graag tyd aan skubaduik en hy speel baie goed tennis. Van gr. 8 tot 12 was hy die skool se no. 1-tennisspeler.
Rekenaars is sy ander groot belangstelling.
Hierdie top-presteerder beskryf sy beste en slegste eienskappe onderskeidelik as sy hulpvaardigheid en sy ongeduld.
Hy glo ʼn mens moet lewe tot die eer van die Here. Benewens harde werk skryf hy dan ook sy sukses toe aan genade van die Here.