Selfs ernstige siekte kry Suné nie onder

Sune Stander

Suné Stander, verlede jaar se hoofmeisie van Hoёrskool Menlopark, spog met ʼn oes van agt onderskeidings. Haar vakke was Afrikaans, Engels, Frans, wiskunde, fisiese wetenskap, rekeningkunde, lewensoriëntering en rekenaartoepassingstegnologie.

Haar pa, Johan, is ‘n elektroniese ingenieur en haar ma, Stephanie, is ’n sakevrou. Ná ’n blaaskans in Plettenbergbaai gaan Suné BCom Rek studeer aan die Universiteit van Pretoria.

Suné speel al 12 jaar klavier en het Unisa se gr. 6-eksamen voltooi. Sy het ook deelgeneem aan debatvoering, koorsang, redenaars, drama, landloop en was op die redaksie van die skoolkoerant. Sy hou baie van lees en om na musiek te luister. Suné het ook op die junior stadsraad gedien in die portefeulje van skakelbeampte.

Suné het een suster, Anike, wat inligtingsontwerp studeer aan die Universiteit van Pretoria. Saam met haar sussie neem sy graag foto’s, maar erken Anike is eintlik die fotograaf tussen hulle twee.

Boonop is Anike haar grootste rolmodel:

Sy het vir my gewys dat as dinge moeilik gaan, moet ʼn mens nie opgee nie en net aanhou om sterk te staan.

In gr. 10 het Suné só siek geword dat sy vir vier weke amper nie skool kon bywoon nie. Ondersoeke het aangedui daar is fout met  haar hart: Een van die kleppe kon nie behoorlik sluit nie. Sy het dikwels duiselig geword en gereeld haar bewussyn verloor. Dié siektetoestand het ʼn negatiewe invloed op haar prestasie gehad en sy moes baie hard werk om weer haar punte te kry waar sy dit wou hê.

Sy glo dat genade van God haar redding was en weet dat sy nooit sou bereik het wat sy bereik het, as dit nie vir haar familie en haar geloof was nie. Sy skryf haar akademiese sukses toe aan selfdissipline om net die beste te gee wat sy kan. Sy gee ook erkenning aan die ondersteuning van die mense rondom haar.

Haar lewensfilosofie is om nooit bang te wees om teen die stroom te gaan nie, al swem jy soms alleen. Sy sien haarself as iemand wat opstaan vir dit waarin sy glo. Sy sê sy gee nie maklik op nie en sy sal aanhou probeer totdat iets werk. Omgee is vir haar belangrik en sy hou daarvan om mense te help en te ondersteun waar sy ook al kan, al is dit net om ʼn bietjie tyd aan iemand anders af te staan.

Sy sê haar beste eienskap is dat sy georganiseerd is en haar swakste dat sy soms ʼn bietjie ongeduldig is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.