Skool samel geld in vir mishandelde donkies

Johan Wahl, Jonno Sherwin, Amber Bird en Clare van Rensburg

Johan Wahl, Jonno Sherwin, Amber Bird en Clare van Rensburg (Foto: Myron Rabinowitz)

Leerders van Glenwood House School in George het Maandag amper R7 000 ingesamel vir die Karoo Donkey Sanctuary.

Dié bewaringsentrum vir donkies is naby Prins Albert en het al meer as 200 donkies gered. Die donkies is meestal bevry uit omstandighede waar hulle mishandel of ondervoed is. Om een donkie te onderhou kos omtrent R11 000.

“Ons leerders is baie besorg oor omgewingsake,” sê Clare van Rensburg, ʼn onderwyseres by Glenwood House School. “Die idee van ʼn veiling het van twee van ons leerders gekom, Amber Bird en Johan Wahl.”

Johan, ʼn gr. 8- leerder, het vir Maroela Media vertel dat hy in Merweville in die Karoo grootgeword het en dikwels te doen gehad het met donkies wat mishandel word.

Een van die onderwysers is gevra om die afslaer te wees en hy het selfs vooraf ʼn hele storie geskryf, sodat gebeure glad – en komieklik – kon verloop. “Dit was vir ons almal baie lekker. ʼn Paar van die leerders is kammakastig opgeveil.” Die veiling is nou nog op die leerders se lippe, veral omdat hulle take gehad het soos sjokoladebruintjies bak, skoene politoer of om die skoolveld hardloop. “Enigiets om donkies te red,” het Johan gesê.

Om die leerders se liefde en passie vir die projek te ondersteun is ʼn reëling getref met Jonno Sherwin, die stigter van die Karoo Donkey Sanctuary, om oor naweke te gaan uithelp by die bewaringsentrum.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JAbok ·

Trots op julle! Ek haal my hoed af vir julle. Snaaks hoe mense op sensasionele berigte altyd honderde stukkies kommentaar lewer maar waar donkies tot die dood toe gemartel en mishandel word, is daar een of geen bydrae nie. Ongelukkig word ‘n land en sy mense ook geken aan die MANIER waarop hy sy diere behandel. Dit wys jou empatie vir lewende wesens wat afhanklik van die mens is, en jou compassion en medelye met hulle. As dit in jou gevestig is, sal jy ‘n beter mens wees, met medelye ook vir ander se situasie, nie net jou eie nie. Ongelukkig nie die een sonder die ander nie. As jy sien hoe diere gemartel, verwaarloos en vermoor word, en niks voel nie, is jy nog nie op die vlak waar jy vir medelandsgenote enige respek of empatie gaan hê nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.