Tien A’s vir Klofies se hoofdogter

Elana Marais

Elana Marais

Hoërskool Waterkloof se hoofdogter, Elana Marais, het uitstekend gevaar in die 2016 matriek-eindeksamen met ʼn verstommende tien onderskeidings. Haar vakke was Afrikaans, Engels, wiskunde,  fisiese wetenskappe, lewenswetenskappe, lewensoriëntering, geografie, geskiedenis, rekeningkunde en besigheidstudies.

Elana is die middelste dogter van Willie en Retha Marais van Monumentpark. Haar ouboet, Daniёl, was verlede jaar ʼn tweedejaar meganiese ingenieurstudent en kleinboet, Francois, was in gr. 9. Elana gaan in Margate ontspan en ʼn matriekvakansiebootreis geniet. Daarna gaan sy Bosveld toe.

Elana gaan medies op Stellenbosch studeer en wil mettertyd graag spesialiseer. Haar rolmodel is Rolene Strauss omdat sy medies studeer en ʼn groot inspirasie is vir talle vroue in Suid-Afrika.

Hierdie veelsydige matrikulant het ook op ander terreine presteer. Sy het in die ATKV Debatskompetisie tot die halfeindronde deurgedring. Elana het vir die eerstespan hokkie gespeel en was ook kaptein van die span. Sy het ook Gauteng-Noord kleure verdien vir onderwaterhokkie. Sy sê sy oefen graag en is lief vir lees en kuier saam met vriendinne.

Sy glo ʼn mens moet altyd jou bes doen en mense positief probeer beïnvloed waar ook al jy gaan. Sy glo haar uitstekende uitslae is te danke aan deurlopende harde werk. Sy sê ook sy kom goed met ander mense oor die weg en is goed met reëlings tref en beplan. Sy bieg dat haar ongeduld haar slegste eienskap is.

Sy som haarself só op:

Ek hou daarvan om ander mense te dien, te help en te inspireer. Ek is lewenslustig en baie vriendelik. Ek is hardwerkend en gebalanseerd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.